Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jannie du Preez

16 Augustus 1927 – 8 Augustus 2019


Prof Jannie du Preez is op 8 Augustus 1927 gebore te Joubertina. Sy ouers was Jacobus Lodewickus du Preez en Magdalena Geldenhuys. Hy was ’n onderwyser te Riversdal, Uniondale en Herbertsdale. In sy ouerhuis leer Jannie ’n liefde vir die Here en die sendingtaak. Jannie begin in 1934 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Riversdal en is in 1935 leerling aan die Laerskool Uniondale. In 1936 word hy leerling aan die Laerskool Herbertsdale, waar die jong Bethel Müller ook ’n leerling is. In 1941 word hy leerling aan die Hoërskool CJ Langenhoven te Riversdal, waar hy hoofseun is en in 1944 matrikuleer. Hy blink uit as redenaar, hou van skryf en neem klavierlesse.

Jannie voel geroepe om vir die Here te werk en vertrek in 1945 na die Universiteit Stellenbosch, waar hy die BA-graad verwerf en toegang kry tot die Teologiese Seminarium en hy word op 6 Desember 1951 as proponent gelegitimeer. In die Eikestad is hy as student bedrywig by die Berg- en Toerklub en dien op die bestuur van die Stellenbosse Debatsvereniging. Hy voel geroepe vir die sending in die Transkei, waar hy op 26 November 1952 in die leraarsamp bevestig word in die NG Kerk in Afrika Decoligny en leraar van die NG Sendingkerk werkkring Umtata. In 1953 kry hy die taak by sy gemeentewerk as dosent in die Evangelisteskool te Decoligny buite Umtata. In 1954 word hy aktuarius van die Kaaplandse sinode van die NG Kerk in Afrika. In 1968 verwerf hy die doktorsgraad in die Teologie, met ’n proefskrif oor “Sendingperspektiewe in die boek Openbaring”.

Intussen word hy in 1954 hoof en in 1957 rektor van die Teologiese Skool Stofberg te Decoligny, ’n pos wat hy tot 1975 beklee. Sy pad loop na Stellenbosch as senior lektor in Sendingwetenskap aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy word in 1982 professor aan die kweekskool, waar hy sy emeritaat op 31 Desember 1992 aanvaar. Hy is op 14 Januarie 1965 getroud met mej Hendrika Elizabeth (Tinka) Burger, ’n sendingwerker en besondere spanmaat en jukgenoot in die sending. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Henriëtte, Lettie, Gert en Roelien.

Na sy aftrede het hy van tyd tot tyd nog by die kweekskool met lesings uitgehelp en hulle verhuis mettertyd na die Strand en woon die laaste paar jaar in Huis Serenitas in die Strand. In sy leeftyd het hy 17 boeke, 39 hoofstukke in boeke, 84 artikels in akademiese joer­nale en 232 artikels in kerklike blaaie en tydskrifte geskryf. Hy bly steeds besig met skryfwerk en publiseer in hierdie tyd vier kosbare boeke: Bring my die ou-ou tyding, Sout en peper – grepe uit sy herinneringe, ook Dit vloei voortdurend voort – verdere herinneringe. Kort voor sy dood verskyn: Die Bybel – onskatbare skatboek. Prof Jannie du Preez sterf op 8 Augustus 2019 en ’n gedenkdiens word op 16 Augustus 2019 (sy 92ste verjaarsdag), in die Serenitas aftree-oord in die Strand gehou.

Prof Martin Pauw skryf oor sy mentor: “Prof Jannie du Preez onderskei hom as ’n ywerige skrywer en publiseer ’n ruim aantal boeke en vakkundige en populêre artikels. Sy nadenke oor die Islam laat hom die vraag stel of Allah dieselfde God as die Here is, waarop hy genuanseerd antwoord. Hy het tydens en na die apartheidsjare, in ’n tyd van skerp meningsverskil oor die manier waarop die sendingopdrag uitgevoer en die sendingwetenskap beoefen moet word, deurentyd ’n behoudend-gema­tigde standpunt ingeneem en op kenmerkende beskeie manier sy bydrae tot kerk en teologie gelewer. Hy sal onthou word vir sy nederigheid en opregtheid, sy passie vir die Woord en veral vir die Openbaringboek.

“As uitdrukkking van gelowiges se getuienistaak en op sy inisiatief het ons byvoorbeeld by geleentheid vir maande lank weekliks ’n gesprek gevoer met ’n imam uit Stellenbosch. Daar is saam gebid, saam gesels oor ons onderskeie geloofsbeskouinge en uiteindelik saam ’n boek opgestel waarin twee denkbeeldige vriende, ’n Moslem en ’n Christen oor en weer met mekaar korrespondeer en uitvra en deel oor wat hulle glo. Ons eer prof Jannie se nagedagtenis”.


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2020 verskyn.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top