Diep betrokkenheid by gemeenskappe en ’n “ekologiese bekering” is twee van die goed wat kerkleiers vir die NG Kerk toewens.
“Die kerk van die toekoms tel nie hoeveel mense daag op as jy hulle nooi nie, maar tel hoeveel keer is ons in die gemeenskap betrokke,” het dr Frederick Marais tydens sy deelname by ’n uurlange paneelgesprek oor die toekoms van die NG Kerk by vanjaar se Woordfees op Stellenbosch gesê.
“Dit is hoe die kerk oorspronklik opgesit is en ek wonder of dit nie is waarheen ons op pad is nie,” het Marais te midde van ’n spontane applous deur sommige in die gehoor van sowat 120 mense in die Boektent in Ryneveldstraat gesê. Marais is ’n predikant in sinodale diens verantwoordelik vir teologiese opleiding en was een van drie paneellede wat op 11 Maart genooi is om te praat oor “toekoms-scenario’s vir die NG Kerk”.
“Die NG Kerk word dikwels afgemaak as irrelevant, en tog bly mense geweldig geïnteresseerd om oor die wel en wee van die ou kerkie te gesels en ons is weer daarmee besig,” het dr Johan van der Merwe, deeltydse leraar by Moederkerk op Stellenbosch en gespreksleier, ter inleiding gesê. By hom en Marais op die verhoog was ook ds Nioma Venter, ondervoorsitter van die Algemene Sinode. Venter het verwys na klimaatsverandering en ekologiese nood. “Die beste handvatsel wat ons hierop kan kry, is ons ervaring met Dag Zero (die waterverbruikstrategie wat in die Wes-Kaap gevolg is om te keer dat die stad se waterbronne opdroog). Ons het almal besef ons kan nooit weer met water op dieselfde manier omgaan nie.” Sy meen die kerk het ’n rol te speel: “Ons het ’n groepie jong dominees wat werk aan ’n handleiding wat gemeentes aanmoedig om by ekologiese projekte betrokke te raak.” Oor die tema-vraag van die gesprek het Venter vertel hoe sy van 4-jarige ouderdom op Sondae die kerkklok saam met haar oupa, wat koster was, gelui het. In hierdie baie sterk tradisie het sy grootgeword. Maar die toekoms lyk baie anders. “Ek sien oor tien jaar ’n baie minder van ’n tradisionele kerk. Mense sal hulleself mettertyd uitsorteer en dan besluit of hulle assosieer of distansieer,” het Venter gesê. “Ek dink die samekoms van gelowiges sal altyd bestaan en ek wil dit sê uit my oortuiging dat God ’n verhoudingswese is. Ek dink nie ons is gemaak om Hom alleen te aanbid nie. Ek hoop en ek glo dat ons meer divers sal wees en dat die diensbaarheidskarakter van die kerk meer relevant sal wees.”
Marais het oor debat in die kerk gesê: “Dit is nie ’n maklike gesprek nie, want mense het geloofsoortuigings wat hulle hulle lewe aan toewy en daar is morele kodes wat nou totaal geherdefineer word, rondom seksualiteit, menswaardigheid, kultuur, daai soort goed. So ek het geleer dat ’n mens met jouself geduld moet hê dat hier ’n lang tyd van meningsverskil gaan wees. Ek het ook geleer dat konflik nie ’n ding is wat sleg is vir die kerk nie. Natuurlik is dit iets wat ’n mens moeg maak en mense is naderhand sat daarvoor en loop sommer net. Maar as jy nou kyk na die Nuwe Testament, elkeen van die gemeentes het baie diep konflik gehad. Dit is blykbaar maar deel van wie ons is. Ons moenie ’n idealistiese beeld van kerkwees hê asof ons nooit van mekaar gaan verskil nie. Nou is die vraag: Of ons volwasse genoeg kan raak om te sê kom ons gee vir mekaar ruimte om te sê ons mag verskil van mekaar.”
Die derde paneellid was ds Scherlize Hayes, ’n dominee van Ysterplaat in Kaapstad. Sy het ’n prentjie geskets van ’n krimpende kerk wat tog onmisbaar is. Sy het vertel van ’n keer wat slegs twee kinders vir ’n “jeugaand” opgedaag het. “Kinders weet nie meer wat kerk is nie. Daar word hoofsaaklik gefokus op die instandhouding van geboue, die begroting moet klop, die deure moet tog net gesluit word, want, o jinne, netnou kom die skelms in, die lidmaattal daal en intussen het ons die nood in die gemeenskap totaal en al gemis,” het Hayes gesê. Haar punt was egter hoopvol. “In ’n gemeenskap soos Ysterplaat, waar die nood enorm is … sal geen mens in hierdie gebou vandag vir my kan oortuig dat enige kerk se deure moet toemaak nie, dat die kerk nie nodig is nie, dat die kerk gaan uitsterf nie.” Sy meen die toekoms van die kerk lê “in mense se omgee vir mekaar.” “En ja, dit vra baie van ’n mens. Dis morsig, moeilik en nie lekker nie, maar dit klink vir my baie naby aan die storie van die Kruis,” het Hayes gesê.

Teenoor dr Frederick Marais se standpunte oor geskille in die kerk moet daar ronduit gesê word dat konflik sleg is vir die kerk. Die minste is dat dit ‘n mens so moeg maak dat jy die kerk wil verlaat. Die verskrikking daarvan is die oorlog wat volg terwille van die waarheid van die Woord.
Wys my één teks in die Bybel waar konflik hanteer word asof “dit maar deel is van wie ons is.” en ‘n ander teks word jou voorgehou: Kol. 2:5-15: ” Maak dood die aardse dinge wat nog deel van jou lewe is… (5) “woede, haat, nyd…(8). ” God het julle geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe.” (15)
Nou is die vraag: Is jy volwasse genoeg om toe te sien dat géén ruimte vir kerklike verskille toegelaat mag word nie.? Dan moet jy nie kortsigtig en wêreldtoegeeflik praat van” meningsverskille” as die duiwel tussenbei t 5H ree en daarvan landmyne van kerkskeuring maak nie.
Pieter de Jager VDM Emeritus
Reddersburg.