‘n Verlore leraar

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ek kan nie meer nie. Ek is moeg tot in my siel toe. Geen nuwe môres. Die einde het vir my aangebreek. Die agteraf, die foutvindery, die onvergewinsgesindheid, liefdeloosheid het my gedryf na waar ek nou sit. Ek het die einde van die pad bereik. Die kerk het my gebreek, emosioneel en geestelik. Daar is geen lus vir God en mens meer nie. Waar is die liefde wat die kerk preek en van vertel wat my moet optel en vashou? Besef hulle nie dat ek ook maar ’n mens is wat aanvaarding soek te midde van al my foute? En ek worstel met so baie. My binneste is soos ’n vulkaan wat op die punt staan om uit te bars. Ek het egter geen hoop vir môre nie. Dis ’n donker diep gat waarin ek gegooi is met geen rus vir ’n seer en ontstelde siel nie. Hoe maak ek met kollegas wat sê dat ek nie so vroom en heilig is nie?
Soos ’n brander wat net aanrol en aanrol roep ek uit: Wees my genadig! Laat ons vrede maak soos God vra. Maar kan ek Hom aanhaal? Durf ek in sy teenwoordigheid staan met my vrees, my seer en twyfel? Voel nie so as ek na die optrede van sommige lidmate kyk nie. Dan voel ek soos ’n verworpene in die donkerste dieptes. Hulle is die enigste wat reg is, wat kan veroordeel, wat die dominee met swaarde steek en swepe slaan omdat dit hulle pas. Hoe durf ek hulle aanspreek en versoek om volgens die liefde op te tree? Weet hulle van Mat 18? Weet hulle van die liefde van die Man aan die kruis op Golgota – ook vir hulle, en vir my?
Hulle beskinder en “belaster” my. Vertel onwaarhede oor goed wat ek sou gesê het, maar wat hul belewenisse en afleidings is. Niemand sit by my en vra: Ds, hoe gaan dit rerig met jou? Een woord van kritiek en ek word aangespreek, want ek is maar net ’n werknemer. Word selfs beperk met die opening vir die Kerkraadsvergadering. Hoeveel moet mens verduur ter wille van….
Ek kan nie die kerk glo as dit sy boodskap en manier van optrede is nie. Hoe lank nog moet die boodskap van vergifnis verkondig word, die liefde van God en die heerlikheid wat God belowe vir hulle gesê word dat hulle dit sal begin doen. Sondag na Sondag hoor hulle dit, maar hulle bly in glashuise en gooi my met rotse en ek mag nie ’n klein ou spoelklippie vat om terug te gooi net om hul aandag te kry op die Bybelse waarhede nie, want alles is só sensitief. Hoe verwag hierdie kerk dat ek Sondag voor hulle moet staan? terwyl ek vrees en bewe oor ek dalk iets sal sê wat hulle sal affronteer?
Maar met my gebrokenheid, seer en vernieling, moet ek daar staan want ek is maar net ’n werknemer. En daar op die kanselkleedjie voor my wat die Gemeente lees, staan: ‘God is liefde!’
Van: ’n ‘Verlore’ leraar

4 thoughts on “‘n Verlore leraar

  1. Burger Visser says:

    Religion’s path of destruction. Only Jesus saves.

  2. Gerrit Engelbrecht says:

    ‘n Mens sou graag meer wou weet van die omstandighede van die skrywer van hierdie brief. My hart gaan na hom uit.

  3. Kerkbode says:

    HULP: Ds Theunis Botha is die predikant in sinodale bediening getaak met predikantegeleiding vir die Wes-Kaapse Sinode. Hy kan gekontak word by pastor@sun.ac.za of skakel 021 808 9098. Ander aanlyn ondersteuningsgroepe sluit in http://www.sadag.org/ , wat ’n netwerk van noodnommers bevat. – Red.

  4. Lizel Meyer says:

    Ai! Hoe meer ek lees en ervaar hoe groter word my ontnugtering oor my geliefde kind- en groodwordkerk. Die kerk waar ek geleer het van gemeentewees, saamwerk en liefde vir my naaste val uitmekaar uit. Ek huil in my hande want ons stry en baklei, veroordeel en steek in die rug, en dan dreig ons met finansies en kerkskeuring. Waar is Jesus in dit als?

Comments are closed.