Opleiding se uitdagings

Ons staan in hierdie uitgawe baie redaksionele ruimte af om die stories te vertel van nuwe diensleraars.

Die groter storie is natuurlik teologiese opleiding in geheel. Wie leer en wie doseer. Daar is tans vier opleidingsentra wat by die NGK geakkrediteer is, indien ’n mens Hugenote Kollege tel by die Teo­logiese fakuteite van die Vrystaat, Pretoria en Stellenbosch. Maar die verhou­ding tussen kerk en universiteit het oor die jare verander, het dr Frederick Marais by die onlangse vergadering van die Mode­ramen van die Algemene Sinode (ASM) verduidelik. “Daar was ’n tyd toe die NGK kon sê … ons het goeie beheer gehad, ons kon mense aanstel, ons kon voorwaardes stel ensovoorts,” het die voorsitter van die Algemene Kuratorium (AK) gesê. “Daardie tyd is verby vir alle kerke in hierdie land. Daar is geen kerk in die land wat by ’n publieke universiteit ’n fakulteit teologie kan hê (en) sê wie aangestel word en sê hoe die kurrikulum moet lyk nie … As jy dit wil doen, moet jy dit in ’n eie privaatseminarium gaan doen,” aldus Marais.

Die opsies? “Ons kan natuurlik sê ons wil ons eie ding doen en ons gaan mense sommer ’n jaar of twee ’n diploma laat doen en dan is hulle predikante … Maar dan gaan ons ons kerk geweldig skade aandoen,” het Marais aan die gehoor van sowat 50 tydens sy behandeling van die AK se verslag aan die ASM laat hoor.

Sy aanbeveling? “Ons moet al hoe meer leer om binne hierdie ekumeniese ruimtes te kan funksioneer en as ek dit nou alles gesê het, is ons steeds die kerk wat by hierdie fakulteite by verre die meeste dosente het.”

Laasgenoemde groep, diegene wat teo­logie doseer en geordende leraars van die NGK is, is intussen deur die AK uitgenooi na ’n eerste ontmoeting in Junie vanjaar van ’n “Algemene Dosenteraad” met die doel om ’n volgende geslag teo­loë te help ontwikkel. Die skrywers van die verslag het ook versoek dat hierdie “forum van teoloë” onder andere by kerklike werksaamhede soos die Algemene Sinode betrek sal word. Ons hou die storie dop.