Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

'n Skermgreep uit die verslag deur die navorsingsmaatskappy Kantar wat voorspel dat die Koronavirus 'n waterskeiding vir die mensdom mag wees.

Korona: SA steun swaar op sosiale media, vrees vir geldsake

Suid-Afrikaners se Facebookgebruik het met 43% toegeneem en WhatsApp hou ons selfs nog meer besig as gewoonlik. Die boodskap-toep se gebruik het met 45% toegeneem, terwyl plaaslike radiostasies se luistertal met 30% geklim het, volgens data wat vandeesmaand (Maart) deur die navorsingsmaatskappy Kantar bekendgestel is.

Maar die storie van Covid-19 is veel groter as ‘Pandemie boost Facebook-gebruik …’ Trouens, selfs as jy reeds vrede gemaak het met die feit dat ons in ’n sogenaamde VUCA-wêreld leef, wat staan vir Volatile, Uncertain, Complex, Ambiguous het die Koronavirus dinge nog meer omgeklits.

“Dis nou VUCA op steroïde,” het Ivan Moroke, die hoofuitvoerende beampte van Kantar se Insigte-afdeling in Suid-Afrika op 31 Maart gesê.

En daar is reeds vele lesse te leer uit Suid-Afrikaanse verbruikers se reaksie op die gesondheidskrisis waarvoor slegs 16% van respondente glo ons gereed is om die uitdaging trompop te loop.

Talle Suid-Afrikaners is veral tans besorgd oor die ekonomiese uitwerking van die Koronavirus. En dat ’n fundamentele skuif in die samelewing op hande is, blyk duidelik uit dié Kantarverslag, wat as 90 minuut webinaar (web-seminaar) uitgesaai is.

Die navorsers, wat hulle boodskap veral aan handelsmerkbestuurders rig, meen daar is ses skuiwe (“shifts”) ter sprake wat die Suid-Afrikaanse werklikheid sal help vorm:

  • Handel: Van baksteengeboue (die sogenaamde “brick and mortar”) na ’n mengsel van e-handel én geboue.
  • Getemperde aanvraag: Nuwe respek vir “noodsaaklikhede”.
  • Kentering: Van Era van Self na Gedeelde Mensdom.
  • Ruimhartigheid: Van handelsmerke waarby “ek” baat vind, na dié met impak op die gemeenskap.
  • Media: Van “Die Gewone” na Tuisbly-ontsnapping en digitale bemagtigers.
  • Organisasies: Van ‘reaktief’ na dié wat ‘antisiperend’ te werk gaan.

Volgens Lerato Kgatla, lid van Kantar se voorleggingspan, kan hierdie tyd ’n waterskeiding vir die mensdom wees. Sy haal die handelsmerkkenner dr Martino Olbertova aan, waar dié sê: “As far as bags and shoes go, maybe this is to remind us that we live in a society that worships meaningless things instead of embracing and fully activating things that really matter.” Volgens Kgatla kan die wesenlike beproewinge van hierdie pandemie ook daartoe lei dat bestaande waardes in ons samelewing eenvoudig meer prominent word, soos eenvoud en medemenslikheid, vrygewigheid, samewerking.

Kantar se span analiste meen besighede sal in die komende weke veral moet bontstaan om sin te maak van die volgende faktore as hulle die ontwrigting wil oorleef:

  • Meer verbruikers wat e-handel omhels – en nie net totdat “lockdown” verby is nie.
  • Wilde wisselings in aanvraag.
  • ’n Knou vir sekere verbruikerskategorieë (luukse produkte) namate die samelewing sy prioriteite heroorweeg.
  • ’n Toenemende skuif na afstandwerk (remote working) wat werkmaglogistiek uitdaag.
  • ’n Skuif in wie nou juis jou “teenstander” in die mark is.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Korona: SA steun swaar op sosiale media, vrees vir geldsake”

  1. Gerrit Boonstra

    Dis baie verblydend dat die verwagte verskuiwings in die rigting van n baie meer spirituele lewensuitkyk is, waar positiewe verhoudings tussen mense van alle soorte belangrik is. Daaruit volg noodwendig die eerste skuif plaas van liefde vir jou medemens as die beelddraer van God. En hieruit sal n verdere bewuswording spruit vir die realiteit van God se allesomvattende en onvoorwaardelike liefde vir sy skepping. Waaruit dit sal volg dat ons die natuur sal oppas en respekteer, en dit nie verkrag in die malle egoïstiese wedywering om meer and rykdom, meer mag en groter status nie. En ten slotte dat ons liefde vir Onse Vader en medemens oorgaan in dade wat getuig van die vrugte wat ons Gees dra.

Comments are closed.

Scroll to Top