‘Sy juk is sag’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die Covid-19-pandemie laat die druk in ons samelewing nou skerp oplaai. Meer mense is honger, meer mense is gefrustreerd, meer mense se inkomste is gesny, meer mense het hulle werk verloor, meer mense sukkel om toegang tot hulpbronne te verkry, meer mense staan in rye, meer mense word siek van die virus, meer mense se menswaardigheid kom in die gedrang, meer mense verloor geliefdes … Terwyl baie nog tot op hede die impak van die pandemie tot ’n mate kon afweer, dring die groter werklikheid en implikasies daarvan nou deur tot in die uithoeke van elkeen se bestaan.

Die kerk reageer op die ontwrigting van die pandemie deur sy pastorale rol te vervul. Ons treur saam met dié wat treur. Mense treur wanneer hulle die pyn van verlies, vernedering of verwerping ervaar. Mense treur ook wanneer hulle magteloos en antwoordloos die toekoms moet in. Die evangelie van Christus is die goeie nuus van God wat mense se pyn en antwoordloosheid verstaan. Dit is die goeie nuus van ’n Christus wat mense nooi en sê: “Kom na my toe almal wat moeg en oorlaai is …” Hy verstaan presies wat dit beteken. Sy oplossing lê nie in antwoorde uitdeel nie, maar in sy sagte juk. Daar, onder sy sagte juk, leer ’n mens van Hom, van sagmoedigheid en rus.

Die kerk reageer ook deur sy verkondiging van die Woord ernstig te neem. En het ons nie gereageer met al die wonderlike digitale opsies wat aange­gryp is nie!

Ons het ook ’n verantwoordelikheid om te bly honger en dors na geregtigheid. Daarom het ons ’n profetiese rol. Ons moet teenoor die maghebbers opstaan en vir die stemloses ’n stem wees. Ons moet staan by die verontregtes en dié wat agtergebly het in die stryd om middele. Die gevaar van ’n regering wat te magtig is en wat te veel inbreuk maak op die gang van mense se lewe is beslis in ramptye baie groot. Ons verkeer in buitengewone omstandighede en bui­ten­gewone maatreëls ís nou nodig. Maar die regering se baie regulasies oor die uitdeel van kos mag nie die gevolg hê dat meer mense honger is, meer kinders verwaarloos word en meer men­se se lot verseël is nie. Ons mag ook nie stilbly as regulasies veroorsaak dat mense eensaam sterf en ly en desperaat moed opgee as gevolg van ’n gebrek aan liefde en aandag nie. Mense se God­ge­gewe waardigheid is op die spel. Die regering se gebrek aan redelike reëlings vir leraars om mense in nood te bedien, is ook nie voldoende nie. Geen staat kan bekostig om in ’n tyd van rou en ont­wrig­ting sy pastors se nabye sorg te ontbeer nie.

Die NG Kerk het oor die afgelope dekades geleer dat die grootste profetiese impak gemaak word binne en deur die ekumeniese kerk. Ons is deel van verskillende ekumeniese netwerke wat tans standpunt inneem oor openbare kwessies en met regeringslui daaroor in gesprek tree.

Ons het natuurlik ook ’n barmhartigheidsfunksie. Verteenwoordigers van die Algemene Sinode was verlede week deel van gesprekke met die verteenwoordigers van die samestellende sino­des en die onderskeie sinodale vakkundige maatskaplike dienste. Die NG Kerk se missionale teologie het ons op ’n besondere manier voorberei vir ’n tyd soos hierdie. Die omvang van ons gemeentes en lidmate se dienswerk en barmhartigheid is verstommend. Ten spyte van finansiële kwellings in gemeentes word talle lidmate wat in ’n krisis verkeer, gehelp. Maar daar word ook ver buite die grense van gemeentes hulp verleen met kospakkies, versor­ging van haweloses en diens aan mense wat broos is. Baie gemeentes het ook hulle fasiliteite hiervoor beskikbaar ge­stel. Die samewer­king tussen gemeentes en CMR-kantore en diensorganisasies soos PEN is na ongekende vlakke van welwillendheid en effektiwiteit gevoer. Waar daar geskakel word met plaaslike owerhede, is die ontvangs en voortspruitende samewerking dikwels hartlik en verskilmakend. Waar gemeentes binne ekumeniese en gemeenskapsnet­werke funk­sioneer, is die impak van die barm­hartigheidswerk wat buite ge­meen­tegrense gedoen word die heel beste. Verskeie sinodes ondersteun hulle gemeentes deur bronne en werksaamhede te help koördineer, kommunikasie te verbeter en selfs beste praktyke tussen gemeentes bekend te maak. Sommige sinodes het handleidings ge­skryf om dit vir gemeentes makliker te maak om toe te tree tot hulpverlenings­aksies. Die kerk hoef nie soos die staat infrastruktuur op die grond te skep of uit te brei nie. Ons ís op die grond. Saam met ons ekumeniese vriende is ons reeds deel van netwerke wat strek tot in elke hoekie van die samelewing. Net­werke soos die Nelson Mandela Bay Church Leadership Network, Tswane Christian Leadership Forum, KZN Council of Churches en die Western Cape Ecumenical Network maak dit tans moontlik om op ’n breër front dienswerk te koördineer.

Baie gemeentes verkeer in ’n finansiële oorlewingstryd. Mense gaan toe­nemend ’n gemeente se impak op sy gemeenskap as maatstaf gebruik of hul­le daaraan verbonde wil bly. Die beweging van God deur gelowiges se lewe na mense trek gelowiges aan. Daar is dus ’n direkte verband tussen die oorlewing van gemeentes en hulle missionale ge­rigtheid en diensbaarheid.

Die kerk word nou omvattend uitgedaag. Die uitdaging is om Christus ernstig te neem en te glo dat seën te vind is in afhanklikheid, om te treur saam met dié wat treur, reinheid van hart, sagmoedigheid, barmhartigheid, te honger en dors na geregtigheid en die maak van vrede.

Ds Nelis Janse van Rensburg is die voorsitter van die ASM.