Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Ek dink deesdae baie aan Tom Long (2016) se bekende metafoor van die prediker as getuie. Long skryf oor metafore vir die prediker: die prediker as pastor, as digter, as bode. Hy stel voor dat predikante getuies moet wees: die mens wat bloot getuig van dit wat hy of sy gesien en beleef het. Ons spreek nie die direkte woorde van God af nie. Ons is nie die enkele bronne van gesag wanneer dit kom by God se boodskap vir hierdie wêreld nie, maar ons word opgelei om te kyk, om te onderskei en om sodoende getuies te wees.
Ek kan nie anders as om myself af te vra wat dit in die tyd van Covid-19 beteken nie. Ek hoor preke van boodskappers wat verkondig dat hierdie gebeure God se straf is. Ek hoor preke en lees artikels wat die mooi van God se evangelie in gesprek met hierdie ongekende konteks bring. Ek self voel die behoefte, nes baie rondom my, om as pastor op te tree. En ek glo met goeie rede: Die mensdom is immers besig om deur kollektiewe en individuele krisisse en trauma te beweeg.
Ek moet egter bely dat die stem wat tans vir my verreweg die moeilikste is om na te luister, die stem van my kollegas is wat as getuies optree wat net die positiewe verkondig. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Deels is my frustrasie gewortel in ’n bewondering dat mense dit in hierdie tyd regkry om so positief te dink. Maar ek besef ook dat my frustrasie lê in die feit dat ek in ’n ander fase van die getuieproses is.
Volgens my verstaan bestaan die rol van getuie-wees uit drie dele, waarvan die oorvertel van die gebeure maar die laaste deel is. Die eerste deel is natuurlik om die gebeurtenis te aanskou, raak te sien, maar elkeen van ons wat al iets groots, iets afgrysliks, iets traumaties aanskou het, weet dat daar ’n tweede deel is. Dit is die oomblik wat jou asem weggeslaan word, wat jy dit wat jy aanskou in jou lyf voel. Die tweede deel verander die derde deel onherroeplik. Dit verander die manier waarop jy die gebeure oorvertel en dit verander die inhoud van wat jy vertel.
Ek bevraagteken ons behoefte om te spring na deel drie. Ek bevraagteken die stemme rondom my wat sonder veel emosie net van die positiewe praat. As ek eerlik moet wees, bevraagteken ek of dit ook ’n strategie is om die uitdagings voor ons te hanteer. Ek bevraagteken ons angstigheid om weer die kerkgeboue op Sondae in te stroom sodat ons kan verkondig.
Dominees gesels mos maar onder mekaar en my gesprekke met baie predikante is insiggewend: die predikant wat verlam en getraumatiseer voel, maar nie voel asof enigiemand in sy ring die sentiment of ervaring deel nie. Die predikant waarvan daar verwag word om week na week ’n boodskap van hoop uit te dink as hulleself dit nog in hulle lewe probeer raaksien. Die predikant wat moeg is vir “perform” en kompeteer met die uitsette van ander gemeentes. Die predikant wat bang is dat gemeentelede na ander gemeentes sal skuif as hulle nie genoeg doen nie. Ek het ook gesprekke met die predikant in die spieël wat erkentlik ook oorweldig voel.
Wat ek in hierdie gesprekke hoor, is ’n behoefte aan getuies, maar nie die getuies wat verkondig nie. Eerder net die getuies wat saam na hulle asem snak en stil staan voor die gebeure, dit in hulle lyf voel. Vroeg-vroeg het ek geleer dat Pastoraat 101 van my vra om vir ’n groot gedeelte van pastoraat net stil te bly. Om die waarheid te sê, is dit van my ‘gunsteling’-oomblikke in pastoraat: wanneer beide van ons net stilbly en saam in die seer sit. Vanuit my diepste wese het ek die behoefte dat ons as predikante ook net stiller word en stiller staan, dat ons ons masker sal afhaal en broos voor mekaar staan. Kan ons nie getuies wees wat nog eers prosesseer nie?
Ek weet baie mense het ’n behoefte aan die verkondiging van hoop. Maar hoop kan ook net in lament lê. Ek word herinner aan die eerste keer dat ek werklik trauma ervaar het. Ek onthou hoe ek uit die gebou gestorm het en op die grond neergeval het. Behalwe ek het nooit die grond getref nie. My broer se arms was reeds onder my. Ons het stilgebly. Ons het die persoon wat kom troos het, gevra om te loop. En in daardie oomblik het ek hoop gekry in die wete dat ek en my seer raakgesien, raakgevang word.
Ek herhaal: Ek beny en bewonder diegene wat al by deel drie trek, maar ek bid ook vir stemme wat weet dat die woorde “Ek ook” soms meer as genoeg is.
▶ Ds Marileen Steyn is tentmakerleraar van NG Kerk Saldanha met ’n spesifieke fokus op jeugbediening.