Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Gesonde kommunikasie is ’n tweerigtinggesprek’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: Dat gebeure in die NG Kerk rakende selfdegeslagverbintenisse (SGV) skokgolwe veroorsaak, spreek duidelik uit die artikel van dr Johann Ernst (“Knuppel in die hoenderhok”, Kerkbode, 28 Augustus 2020). Sekere sake wat hy uitwys is uiters kommerwekkend. Net twee voorbeelde: 1. dat daar in die besluite van die laaste algemene sinode géén aanwysing gevind kan word dat die kantoor die opdrag gekry het om namens die NG Kerk as enkele denominasie by Binnelandse Sake aansoek te doen nie, en 2. dat die NG Kerk nie sonder meer as enkele denominasie by die owerheid aangebied mag word nie.

Onlangse briewe in Kerkbode dui ook op ontsteltenis: “Ons staan los,” skryf dr Chris Saayman van Tafelberg (Dolerend). JP Avenant van Montagu is “teleurgesteld, verward, kwaad en geskok”; Chris Visser vertel dat ons by Piper wysheid moet soek aangaande homoseksualiteit en Johan van Noordwes wonder (in e-Kerkbode) of ons weer ’n sinode soos Dordt kort aangaande SGV. Dr Bennie Marais van die NG Kerk Charl Cilliers waarsku oor die moontlikheid van ’n gevaarlike miskenning van sonde.

Marais verwys verder na die voorkeur van die ASM teenoor pro-gay proponente en skryf dat “voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek” bloot lippetaal is en geensins deur die AS of ASM toegepas word nie. Ek wil dit in verband bring met Le Roux Schoeman se redakteursbrief “Briewebladberading” (Kerkbode, 28 Augustus 2020). Tereg skryf hy: “trauma neem vele vorme aan”. Dat meer mense as ek trauma beleef aangaande die debat oor SGV, spreek duidelik uit bogenoemde skrywes. Vir Schoeman is die oplossing dat daar met aandag en respek na ander geluister word. Berading en terapie wat Schoeman ook noem, is tog nie net eensydig luister oftewel ’n eenrigtinggesprek nie? Gesonde kommunikasie en debat is nog altyd beskou as ’n tweerigtinggesprek.

Wat ek lees in al bostaande skrywes is diepe kommer, onrus en besorgdheid oor die geestelike toestand van die kerk. Ek verstaan dit as vermaning, onderrig en waarskuwing. Wat ek hoor is ’n liefdevolle pleitrede na regstelling en veral ’n soeke na antwoorde.

Mag die leierskap hoor, diep nadink, reageer en dringend antwoorde gee!

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top