Hoop in ’n land vol geweld en woede

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Saterdagoggend ry ons van die Wes­kus af Kaap toe. Dit was ’n lang week. Ons wil rus.

Op pad piep Erna se selfoon. Dit is ’n WhatsApp van haar vriendin op ’n plaas in die Oos-Kaap af: Hulle buurman is gisternag vermoor. Nog ’n plaasmoord.

Hierdie land laat ’n mens nie met rus nie. Ons wil vol vrolike naweekgedagtes wees en na mooi, ou Tafelberg kyk, en Leeukop, en die inkblou see na Robben­eiland se kant toe. Maar opeens sien jy alles raak wat jy dink verkeerd is in die land: Die mense wat in lae skuilings van karton en plastiek onder die brug naby die stasie woon. Die Golf GTI wat laag en skril verby gejaag kom, met donker ruite waaragter jy niemand kan sien nie.

In Adderleystraat, Kaapstad se hoofstraat, begin dit al hoe meer soos in Lagos en Dar es Salaam klink en lyk: Rumoe­rige rapmusiek. Toeters. Mense stap sonder om te kyk in bondels oor die straat, reg voor die bakkie in. Afrika, dink jy. Afrika.

Op die sypaadjie voor die parlement lê skimme onder vodde komberse en swartsakke en slaap. Voor die parlement. Ons parlement.

Die land begin vir ’n mens al hoe meer onverstaanbaar raak.

Ons gesels oor die korrupsie en Julius Malema en die EFF se woede, en Steve Hofmeyr se woede, en al die ge­weld in die land terwyl ons deur Muizenberg en Kalkbaai en Vishoek ry. Ons weet nie wat gaan van ons word nie.

Ons gesels nie meer nie toe ons naby die hawe in Simonstad stilhou. Op die pleintjie waar handelaars hulle Afrika-beeldjies en tafeldoeke en T-hemde en ander ware verkoop, is min mense. Hier sou dit nou gewemel het van die toeriste as die koronavirus nie gemaak het dat ons landgrense tydelik gesluit moes word nie. ’n Kwaaierige suidooster waai, maar die son skyn. Ek sit my hoed op.

LEES OOK: Te laat om dán ’n lewe te vier?

Stil stap ons in die rigting van die kaai, verby ’n kêrel wat voëls en diere verkoop wat hy van draad buig en vorm: volstruise, renosters, kameelperde.

Op die kaai maak ’n trio musiek: ’n man op ’n trom, en nog ’n man en ’n vrou op instrumente wat soos ’n xilofoon lyk. Afrika-klanke.

Dan gebeur dit: Die suidooster gryp die hoedjie van my kop af, waai dit oor die kaai se reling en smyt dit in die water neer. Eers lag ons, dan hou ons op met lag.

Ek is erg oor daardie oranje hoed van my. Claritha en Jermaine, twee vroue van Darling, maak dit met groot sorg van shwe-shwe-materiaal. Ons verkoop die hoede as deel van ons Swarthondprojek om mense bewus te maak van depressie as ’n behandelbare siekte, en om vir mense soos Claritha en Jermaine werk te gee.

Nou dryf my hoed onderstebo doer onder tussen die bootjies en seiljagte. Op nie een van die bote is iemand nie, en om die hoed met die hand van die kaai af by te kom, is onmoontlik. En hy raak al meer vol water.

My hoed begin sink terwyl Erna draf na die veiligheidswag by die punt van die kaai. Hulle gesels met arms wat beduie. Die veiligheidswag gaan praat met die man wat die diere van draad maak. Hulle kom nader, maar die diereman het nie ’n lang genoeg stuk draad om my hoed by te kom nie.

Mense sien ons oor die reling hang. Party kom staan by ons. Ons kyk hoe my hoed onder die water verdwyn. ’n Vrou skud haar kop, en fluister: “Agge, shame.”

Die water is helder hier. Jy kan sien hoe sak my hoed stadig ondertoe.

Dan hou die trio op met speel. Die een xilofoonspeler kom nader op onseker voete. Hy ruik na bier. “Don’t worry,” sê hy en leun gevaarlik ver oor die reling. “I’ll get it for you.” Hy begin sy klere uittrek.

Ek keer hom. Dit kan tragies raak as hy hier van bo af inspring. Dit is hoog en die water moet vriesend koud wees. Sê nou hy kry ’n hartaanval of iets?

Intussen het ’n seuntjie wat eenkant van die kaai af staan en visvang het, nader gekom. Hy probeer my hoed aan sy hoek kry. ’n Man, wat saam met sy vrou alles staan en bekyk het, probeer die seun­tjie help.

Die man se naam is Jurie. Die seun­tjie is Amir. Een na die ander begin ek hulle name uitvind: Die xilofoonspeler is Yapi en hy is van die Ivoorkus af. Die veiligheidswag is Lazarus, ’n Xhosa uit die Oos-Kaap. Lucky, die diereman, is van Zimbabwe af.

Toe die wind die skrywer se hoedjie afwaai, het ‘n omstander ingespring om te help. Foto: Verskaf

Die middag is besig om in ’n hoop­volle psalm te verander.

Lazarus, die veiligheidswag, gaan gesels met ’n man wat in die parkeerterrein langs die kaai by ’n ou Tazz staan. In die Tazz sit ’n vrou in ’n Moslem-gewaad.

Die volgende oomblik trek die man by die Tazz sy hemp uit. Hy stap stadig die water in en sit ’n duikbril op. Sy naam is Mohammed. Ek wil hom gaan keer, maar Lazarus keer my. “He will get it for you,” sê hy. “He’s a commercial diver.”

Dit word al moeiliker om my hoed van die kaai af te sien. Dit sak al dieper on­dertoe, jy sien ’n oranje blerts tussen die seebamboes, en dan sien jy weer niks nie.

Mohammed swem deur die koue water terwyl almal bo van die kaai af beduie en raad gee. “No, no, more to your left. Yes … No, more to your right now …”

Dit is asof ek nie heeltemal wil glo wat ek sien nie. Ek gaan staan eenkant, en neem ’n foto met my selfoon van ’n klompie van hulle. Jurie, ’n boerseun, en ’n bruin seuntjie, ’n effe aangeklamde xilofoonspeler van die Ivoorkus, ’n Zimbabwiër, ’n Xhosa uit die Oos-Kaap, en ’n hele paar ander wat vir Mohammed, ’n Moslem, aanmoedig om my ouerige oranje hoed uit die see te haal.

’n Byna heilige oomblik in ’n land waar nog ’n plaasboer gister vermoor is, nog iemand in ’n voorstad of ’n township vermoor is. ’n Land vol geweld en woede.

Ek wil vir Mohammed geld gee toe hy uiteindelik my hoedjie papnat na my toe uithou, maar hy wil die geld nie vat nie.

Yapi en Lazarus en die ander kom kyk na my hoed, asof dit meer as ’n hoed is.

“This was interesting,” sê Lucky van eenkant af. “Very, very interesting.”

Die land. My land.

9 thoughts on “Hoop in ’n land vol geweld en woede

  1. Magdaleen du Toit says:

    ‘n Hoopvolle psalm – dankie!

  2. Gerhard Koen. says:

    Ai Dana, dat n oranje hoedjie tot so n mooi positiewe storie kan lei. Dankie dat jy dit met ons gedeel het.

  3. Neels Marais says:

    Conny Mulder het nou eendag gese: die meeste van ons gewone mense kom goed met mekaar oor die weg. Dis so waar.

  4. A E du Preez says:

    Dis soos ons mos eintlik moet leef.

  5. Maurien Rautenbach says:

    Janee, Neels Marais, jy is reg! Gewoonweg kom ons gewone mense, wit, bruin en swart, heel goed met mekaar klaar. Ons sien mekaar elke dag, by die winkels, by die petrolpomp, op straat, ons KEN mekaar. Nou dink ek, miskien moet ons geen nuus lees nie, ons moet niks weet van ons politieke leiers se uitlatings nie, hoe hulle mekaar afkraak en beledig nie – als wat aan die groot klok gehang word, wek gevoelens en bring skeiding – ons sal maar hier in ons klein hoekie mekaar ondersteun en troos!

  6. Robert Barrie says:

    ‘n Siek wereld waar daar altyd helde sal wees wat net aanhou om dit gesond te probeer maak!

  7. Susan Fourie says:

    ‘n Roerende vertelling. Mooi dinge soos dié gebeur daagliks. Dit sal volkseenheid bevorder as dit ‘n groter plek in die sekulêre media kon kry.

  8. GEERT de Boon says:

    Ek is baie seker dat die engele hande geklap, gesing, gelag en eenvoudig oorgeloop het van vreugde om soveel liefde te sien wat in dade oorgegaan het. Daardie ” gemeente” wat daar by die see spontaan ontstaan het, het God teenwoordig gemaak. Dana dit was n pragtige diens wat jy beskryf het. Dankie

  9. Willien Diedericks says:

    “Oranje” die kleur afgelei van “orange” fruit – lemoen en word geassosieer met vermaak, ekstroverte,
    aktiwiteit, gevaar, smaak en aroma.
    Die oranje hoedjie het voorwaar gesorg vir gevaarlike vermaak!
    Willien Diedericks

Comments are closed.