Te laat om dán ’n lewe te vier?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

En nou is Kleintjie ook weg. Nou het ek net twee honde oor. Vlooi en Blackie.

In November verlede jaar is Jerry dood. Die ou man. My hoofhond. Kan­ker. Moes hom die Sondagoggend na die veearts neem vir daardie laaste inspuiting, terwyl ek my verbeel ek hoor iewers ’n kerkklok in die koue wind lui.

Twee honde in minder as ’n jaar. Ek mis hulle baie, vir Jerry en Kleintjie. Soms wanneer ek met die ander twee gaan stap, verbeel ek my hulle is steeds met ons. Ek sien hoe Jerry by ’n graspol gaan staan en sy neus oor ’n enkele grassprietjie laat gly, stadig, eers op, dan weer af. Jerry het net een oog gehad, en dit het gelyk of reuk vir hom nog meer saak maak as vir die ander honde. Hy het knaend alles beruik. Kleintjie, weer, was baie onseker van haarself, en het knaend na jou toe gekom en haar neus teen jou kom druk. Dan moes jy haar eers oor die kop vryf dat sy veilig op aarde voel.

Jerry het net die een oog gehad toe ek hom gekry het. Hoe hy die oog verloor het, weet ek nie. Daar moes geweld by betrokke gewees het.

Al vier my honde is eens mishandel. Jerry, Kleintjie en Vlooi kom uit Kaapse townships, en Blackie het ek een mid­dag op die vlaktes anderkant Hopetown in die Noord-Kaap opgetel. Hy was verwilderd en vol brandsieksere.

My liefde vir honde is dalk oordrewe. Partykeer voel ek skuldig daaroor. Die mens is die kroon van die skepping, sê dit in die Bybel. Ons moet oor die diere heers.

Party mense meen selfs dit is ’n soort sonde om vir ’n dier ’n mensnaam te gee. ’n Dier behoort ’n dier te bly.

Ek trek darem nie vir my honde klere aan nie, of sit ’n hoed op Blackie of Vlooi se kop, of draai ’n serp om een se nek, en neem ’n foto daarvan nie. Ie­wers in die grendeltyd het ek wel weer begin toelaat dat hulle by my op die bed slaap. Hulle lyf styf teen myne.

Dit was ’n lang veertig dae en veertig nagte alleen in my bed. Nie net die afsondering – ek was die hele tyd alleen by die huis – het ’n mens gevang nie. Ook al die slegte nuus wat die hele tyd na jou toe kom, in die koerant en oor die televisie en oor die radio en oor die internet. Mense wat hulle werk verloor. Mense wat nie kos het nie. Mense wat doodgaan.

Die dood. Elke dag. Jy sien die kiste, die grafte, en die gesigte van die sterwendes. Jy hou die getalle dop: soveel in Amerika, soveel in die Wes-Kaap, soveel in Gauteng.

Dit was nie altyd só nie. Op die dorp waar ek kind was, is twee of drie mense, dalk vier, elke jaar dood, en op omtrent elkeen van hulle se begrafnis was jy. Jy het saam met die ander dorpsmense by die oop graf op ’n Vrydagoggend gestaan en jy kon oom Boet se kis stadig die aar­de in sien sak. Jy kon tannie Koba, sy vrou, se snikke hoor en sien hoe haar seuns haar moet vashou wanneer sy ag­ter oom Boet aan die graf in wou spring.

Die dood was iets ver, en wanneer dit nader aan jou gekom het, kon jy saam treur en rou en dit verwerk. Daar is byna van jou verwag om dit te doen.

Televisie was daar nog nie, en in die koerant was die dood hoofsaaklik beperk tot die doodsberigte: ’n kort stukkie op bladsy 24, met ’n fototjie daarby. “Ma se heengaan word diep betreur.” ’n Moord op ’n plaas was ’n rare gebeurtenis.

Nou voel dit of niemand meer waardig in ’n bed in ’n kamer met toegetrekte gordyne in ’n plaasopstal sterf nie. Die werksmense wat kom groet. Gedempte stemme in die sitkamer. Elke keer hoor en sien jy maar net weer: Nog een is op ’n plaas vermoor.

Toe, tussen dit alles, stap Kleintjie die aand, ’n paar weke gelede, in die donker ’n draaitjie buite my erf, by die halfvoltooide huis oorkant die straat in, af, af, af, in die 3 meter diep septiese tenk wat nog leeg is, sonder een of ander bedekking op. En ek wat in die donker soek en roep en met my selfoon se liggie die tenk in lig. “Kleintjie!”

Nie ’n stert wat waai nie.

“Kleintjie!”

Nie ’n beweging nie. Net sy wat vredig daar lê. Nek gebreek. Op slag dood.

En toe ek wat na die wyn gryp en saam met Macbeth wil uitroep: “Life’s but a walking shadow, a poor player that struts and frets his hour upon the stage and then is heard no more …” Dit alles oor ’n twaalf jaar oue, stinkerige hondjie.

Die volgende oggend bel ek vir ds Johan van Rooyen op Vredenburg. Kan ek dalk vir Kleintjie in die kerk se tuin kom begrawe? My erf op Jacobsbaai is baie klein en ek wil weer een of ander tyd verhuis.

’n Rukkie later bel Johan terug. Dit is dalk nie ’n goeie plan nie, sê hy. En hy was reg.

Dink ek nou daaraan was alles ’n bie­tjie koddig en snaaks. Ek het steeds vir Kleintjie ’n begrafnis gereël, dieselfde oggend nog. Dewald, wie se huis reg voor myne is, het aangebied ons kan in sy erf ’n graf grawe. Daar waar ons elke middag verbygestap het.

En Jacobsbaai het ’n behoefte gehad aan ’n begrafnis. ’n Stuk of twintig men­se het opgedaag. En nie net ek het gehuil nie. Christo, die skilder, het kitaar gespeel en ‘Beautiful in Beaufort-Wes’ gesing terwyl ek Kleintjie, toegedraai in ’n kombers, in die graf neergesit het.

Party mense sê wanneer ek doodgaan, wil ek nie ’n begrafnis hê nie. Bespreek plek in ’n restaurant. Koop wyn. Vier my lewe. Ek begin al hoe meer daaroor wonder.

Soms wil ’n mens huil en treur oor iemand se dood. Ook oor jou hond s’n.

Is dit in elk geval nie ’n bietjie laat om iemand se lewe ná sy of haar dood te wil vier nie?

Word 'n vriend van Kerkbode

14 thoughts on “Te laat om dán ’n lewe te vier?

  1. Andre Potgieter says:

    Pragtig, sinvol, liefdevol en baie waar !

  2. Donet says:

    Dankie Dana, jy is weereens spot-on, ek voel netso oor diere!

  3. Hester van Rensburg says:

    Ek dink diere WEET meer as mense. Ons het ons kontak met die natuur bietjie verloor. Ek verstaan my katte, en hulle verstaan my. As ek mooi kyk, verstaan ek wat my honde sink en vir mekaar se. Hulle weet baie. Die woord “heers” oor diere en die natuur moes “respekteer” gewees het. Se prediker nie dat die dier se asem vir God dieselfde is as die mens s’n nie? Maar dis seker polities onkorrek.

  4. CJ Bouwer says:

    Dog spelled backwards.: god.
    N toonbeeld van blydskap en vergifenis soos mense nie regkry nie. Dis n hond. En leef in die oomblik. En liefde en lojaliteit. Ek bewonder honde.

    The more people I meet, the more I like my dog.

  5. Francois Verster says:

    Diep my Bra, baie diep.

  6. Andre says:

    Ai ou Dana, ons is van dieselfde stofasie. Honde en katte is soos ons familie. Rus in Vrede ou Kleintjie. Stuur groete aan Shilo as jy haar sien. So ‘n mooi goue Labrador.

  7. Christa du Plessis says:

    Ek het geen vriende nie. Net my diere. Vandat ek kan onthou is ek deur familie geterg oor my oordrewe liefde en soms irrasionele gedrag waar diere in nood is. Grootste verleentheid was toe ek brandsiek opgedoen het na ‘n reddingspoging.

  8. Gerrit Sadie says:

    “n Hond vra jou kos en aandag. As ‘n reël, gee hulle jou tienvoud terug wat jy aan hulle gee. Kan ‘n mens regtig iets wat jou so ongevraag vergoed te lief hê? Ek praat natuurlik ook nie van die mense wat van honde, mense probeer maak, deur hul in aller soorte mense klere aan te trek nie ….. as jy van die hond ‘n mens maak, sal jy spyt wees ….. mense is nie altyd bly om jou te sien nie, mense kritiseer en is bitsig, hulle veroordeel, hul dankbaarheid en lojalitiet teenoor jou kan verdwyn so vinnig as ‘n groen appelkoos uit jou maag …….. was ons maar almal soos honde …. dink net. So ja, treur oor jou hond ….. ek moes onlangs die besluit neem om my een Worsie, wat in pyn was, te laat “uitsit” ….. geen begrafnis …. maar ek treur ……. al is dit meesal in my alleentyd. Wat die vier of nie betref ……. ek meen mens kan nie die res van jou lewe treur nie, maar jy kan die res van jou lewe, mens of hond, vier ….. dit het egter niks met ‘n patytjie te doen nie …. partytjies vir ‘n afgestorwene is bloot simboliek wat na my oordeel, nie van veel waarde is nie. Sterkte Dana …. treur, huil en vier jou hond (en enigiets anders) se lewe, dit maak jou maar net ‘n mens … skuldig voel oor liefde vir ‘n hond … nee wat.

  9. Piet Van Zyl says:

    Dankie Dana……. Uit jou pen het ons menige woord skilderye beleef!

    Voel of Kleintjie my naaste ook was…….

    Jou talent het nie perke!.
    Liefdegroete

  10. Janette says:

    Jou hondjie se liefde is die naaste wat jy ooit aan onvoorwaardelike liefde sal he. Jou hart verlang altyd daarna. Sy swaaistertjie sal jou ook by die Poorte kom haal.

  11. Gail says:

    Ma Mimi het altyd gesê mens kan aan ‘n kind se sien as hy nie ‘n hond het. Ek kan dit aan ‘n man se hart sien as hy een het. Treur saam oor al ons honne kinners wat is en was

  12. Anchen Pienaar says:

    Ek lees jou vertelling dan kyk ek reeds met trane na my bejaarde worsie wat begin swakker word en omval en sukkel by trappe en haar kop wat bewe. Sy amper 14 jaar voluit deel van ons lewe en gee lag, liefde en troos wanneer nodig. Ja ons gaan treur die dag as ons haar moet groet en ja ons gaan haar altyd onthou en haar lewe vier

  13. Charl Adams says:

    Eendag was daar ‘n groen en nat planeet.
    Daar het wesens daar gebly wat kontak met mekaar gehad het, voortgeplant het en dikwels verskil het oor hoè om te lewe.
    Vir sommiges was hul bestaan op daardie groen en nat planeet die enigste werklikheid.
    Vir ander nie.
    Hierdie tweede groep het vas geglo dat as hulle die dag sterf dan bly hulle voort bestaan in ‘n ander dimensie en sonder hul fisiese liggame en voorkoms.
    Die rede hiervoor was dat hulle hul tyd op die groen en nat planeet net as tydelik beskou het en dat hulle vir ewig sou voorbestaan nadat hulle sterf.
    Hulle het geglo in ‘n oppperwese wat, volgens hul handbook, die lewe reguleer en alles omtrent hierdie wesens bestuur.
    Die bestaan van hierdie oppperwese was mistiek.
    Niemand kon ooit getuig dat hulle hierdie oppperwese ooit gesien, gehoor of aan geraak het nie.Dit was alles gebasseer op hul handbook wat oor ‘n klompie mense gaan wat lank, lank gelede geskryf het van wonderwerke en ‘n spesiale leier.
    Hierdie leier het hulle vertel hoe om te lewe sodat jy kan bly voort bestaan nadat jy sterf.
    En vra jy vir die mense wat glo in hierdie handbook, waar hierdie oppperwese is en hoekom hy/sy nie vandag hier by ons teenwoordig en sigbaar is nie, is hul antwoord dat jy moet die handboek net aanvaar en glo wat daarin staan.
    Maar mense het mettertyd vir hulself begin dink op hierdie groen en nat planeet.
    Hoekom openbaar die oppperwese hom/ haarself nie?
    Kruip hy/sy weg?
    Bestaan hy /sy?
    Hoekom gaan sekere mense jonk dood en ander lewe lank op hierdie groen en nat planeet?
    Hoekom het sommige kos en ander gaan dood van hongerte?
    Hoekom het sommige meer mag en word as belangriker as ander beskou?
    Hoekom is daar droogte en naruurrampe wat sommige mense doodmaak terwyl ander lewe?
    Hoekom sterf vriendelike en vreedsame mense terwyl nare en wrede mense lank lewe?
    Hoekom gaan babas dood?
    Oor die jare en tye het al die mense besef dat dit eintlik net gaan oor jou tyd hier op hierdie groen en nat planeet, en dat niemand met sekerheid weet wat gebeur nadat jy sterf nie.
    Die kanse is dat niks gebeur nie, want jou tyd is verewig verby.

  14. dana snyman says:

    Baie dankie Andre Potgiter, Donet, Hester, CJ, Francois, Andre, Gerrit, Piet, Janette en Gail… julle wat hier kommentaar gelewer het. Dankie vir wat julle se. Ek waardeer dit opreg. Ek besef telkens maar net weer hoe ons op soveel maniere saamgebind is, ons klomp hier op aarde. Of dit nou deur ons liefde vir God is, of ons liefde vir honde. Ons maak mekaar moontlik. Mooiste wense vir almal van julle, en dankie weer. Dana.

Comments are closed.