SGV: ‘Daai ruimte wil ons nie skep in Goudland’

’n Jaar nadat gelowiges van regoor Suid-Afrika en Namibië ruimte geskep het vir verskillende standpunte in die NG Kerk oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag, is daardie besluit in die gedrang vir leraars, lidmate en kerkrade in ten minste een van die kerkverband se tien streeksinodes.

“Waar daar ruimte geskep word in ander sinodes, wil Goudland nie daardie ruimte skep (vir selfdegeslagverbintenisse) nie,” het ds Johan Brink, voorsitter van dié streeksinode tydens ’n buitengewone sitting van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) verduidelik.

“Ons het die reg, as een deel van die samestellende kerke in die NG Kerk, om ons beleid te bepaal en toe te pas,” het Brink tydens ’n Zoom-vergadering tussen sowat 47 kerkleiers op Maandag 2 November gesê.

Goudland het in Oktober ’n geskil verklaar op grond van die besluit wat die Algemene Sinode in 2019 oor selfdegeslagverbintenisse geneem het.

Nou is ’n spesiale afvaardiging volgens die Kerkorde (Funksionele Besluit 27) getaak daarmee om die aard en omvang van die konflik te gaan probeer vasstel en ’n oplossing te probeer bereik voor Maart 2021, wanneer die ASM weer byeenkom. (Laasgenoemde sal waarskynlik weer via Zoom plaasvind in lyn met die Algemene Sinode se groeiende geldspaarnood met sodanige saamtrekke).

Nie almal het hoop vir ’n “fasiliteringsgesprek” as die volgende stap nie. “Wie gaan vir hierdie kostes verantwoordelik wees?” wou ds Nico van Rensburg, een van Goudland se ses stemme in die vergadering weet. “Ek vra dit in die lig daarvan dat ek persoonlik nie dink dat ons die saak uitgepraat sal kan kry nie.”

Die Goudlandleiers se stelling dat hulle “uitklaring” van die ASM ontvang het dat “die hele Algemene Sinode 2019-besluit insake (selfdegeslagverbintenisse) nie vir die Sinode van Goudland geld nie,” is tydens die vergadering bevraagteken deur die moderator van die Algemene Sinode, ds Nelis Janse van Rensburg en betwis deur dr André Bartlett, moderator van Hoëveld Sinode. “Ons het nooit vir Goudland gesê die 2019-besluit geld nie vir hulle nie. Ons het gesê die 2019-besluit geld, maar in terme van 2019 mag julle julle eie benadering volg.”

Vanuit die breër ASM-geledere was daar ’n aantal pogings om Goudland se afvaardiging daarop te wys dat hulle nie uit 2019 se besluit hoef te klim ten einde ’n bepaalde standpunt oor selfdegeslagverbintenisse te volg nie. Volgens die besluit erken die Algemene Sinode onder meer dat sommige kerkrade en predikante nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie. “Die sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig,” luidens die besluit. Ds Charl Stander uit Wes-Kaapland Sinode was een van dié wat klem gelê het daarop dat die 2019-besluit “wyd ruimte maak”.

Dr Hannes Schulz, aktuarius van Goudland.

Brink het Goudland se geskil laat toelig deur dr Hannes Schulz, aktuarius van dié streeksinode, wat op 20 Oktober vanjaar ’n uiteensetting van Goudland se posisie aan onder andere dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk gestuur het. Maar hy het self ook die praatwerk gedoen oor Goudland se voorkeur vir die toepassing van die 2015-beleid. “Gemeentes sê vir ons, as ons nie ons beleid toepas nie, watter verskil is daar tussen Goudland, wat met ’n 88%-meerderheid hierdie besluit geneem het, en enige ander sinode?”

Bartlett het gemaan: “Goudland moet natuurlik besef dat as hulle ’n besluit neem vir hulle gemeentes, gaan presies dieselfde dilemma wat hom nou hier uitspeel, ook binne Goudland uitspeel, want daar gaan ook gemeentes wees wat sê, maar ons wil in terme van die 2019-besluit van die Algemene Sinode ons eie benadering volg.”

Die NG Kerk het tien streeksinodes. Almal word verteenwoordig by die Algemene Sinode wat vierjaarliks plaasvind en waarvan die mees onlangse een, in 2019 in Benoni, grootliks oorheers is deur die gesprek oor selfdegeslagverhoudings nadat die NG Kerk vroeër daardie jaar ’n hoëprofiel-hofsaak verloor het oor ’n vorige poging om die saak van selfdegeslagverbintenisse te hanteer.

Janse van Rensburg het by 2 November se vergadering puntsgewys deur Goudland se skrywe gegaan. By punt 4 (“Die Sinode van Goudland verklaar dat alle seksuele verhoudinge buite die band van die huwelik, nie Bybels verantwoordbaar en aanvaarbaar kan wees nie.”) het Janse van Rensburg gesê: “Selfs daardie (standpunt) is in lyn met die Algemene Sinode se (2019) besluit. Dit maak ruimte vir so ’n standpunt. Dit sê: Wel, as dit julle standpunt is, is dit goed so,” aldus Janse van Rensburg.

  • Nog ’n agendapunt by die vergadering was die verkoop van ’n wildsplaas in die Hoedspruitomgewing in Mpumalanga met die NG Kerk en ander vennote as begunstigdes. Struwig Eco Reserve bied ’n “sakpas-wegbreek in die eksklusiewe Groot 5-area in die Bosveld,” volgens ’n inskrywing op die reiswerf lekkeslaap.co.za. Maar nou behoort dit aan ene Van der Spuy na dit vir amper ’n jaar vir meer as R30 miljoen in die mark was en uiteindelik vir sowat R23 miljoen verkoop is. Dit kom nadat die trustees in 2018 ’n besluit geneem het om so ’n stap te ondersoek en die mark te toets. Personeel bly aan en daar sal steeds jeugkampe vir kerkgroepe mag plaasvind, volgens die deeglike dokument wat voorberei is oor die verkoopgeskiedenis van “Struwig”, soos die eiendom onder kerk-insiders bekendstaan. “Is daar enige kans dat ons hierdie fout wat ons nou maak om hierdie plaas te verkoop, kan omkeer of is dit te laat?” wou ds Jurgens de Jager van Oostelike Sinode weet tydens die besprekingspunt. (Dit was reeds te laat). Dr Gustav Claassen het gesê die trustees kon nie die plaas, sowat ses uur se ry uit Pretoria, finansieel volhoubaar sien word nie. De Jager het laat hoor: “So om verder te gesels, is soos om ’n dokter te dagvaar nadat ek my geliefde verloor het.”

6 thoughts on “SGV: ‘Daai ruimte wil ons nie skep in Goudland’

  1. Philip Coetzee says:

    Die probleem is dit: Streeks Sinodes maak besluite sonder om kerklidmate se gevoel te toets, Goudland het wel hul huiswerk gedoen. Ek is in die Wes Kaap waar baie gemeente leierskap nie hul lidmate ken of wil betrek in oop gesprekke aangaande SGV en ander sake nie. Hulle verteenwoordig nie die siening van hul gemeente lidmate nie en dus dryf net hul eie verskuilde agendas, wat dan later baie problomaties gevolge inhou. Daar behoort ñ landwye referendum gehou te word om die werklike stand van sake te bepaal.

  2. Hercules du Plessis says:

    Goudland wil dat “… mense weet dat ons verskil…”. Ons het kennis geneem, dus, ons weet!
    Die NG Kerk het oor die afgelope sowat tien of fyftien jaar verskillende ervarings beleef, meeste self aangedoen, wat die Kerk nou in ‘n jammerlike oorlewingstryd plaas en, wat belangrik is, die voortbestaan van die bediening op grondvlak bedreig. Asseblief, elke gemeente is tog volwaardig Kerk, moenie ons verskille so aan die groot klok hang nie; die verdeeltheid is meer skadelik as die dispuut.

  3. Ben du Toit says:

    Sommer hier van die kantlyn af ‘n (na my mening) belangrike tegniese punt. In die NG Kerk (as gereformeerde kerk) bestaan die term “streeksinode” glad nie. Die Algemene Sinode is in 1962 gekonstitueer deur die 11 sinodes (op daardie stadium) wat volwaardige sinodes is. Dis belangrik, omdat daar in die gereformeerde kerkreg nie ‘n hiërargiese struktuur is nie. Elke gemeente in volledig kerk en tree per kontrak met mekaar in verband. Daar’s nié ‘n hoofsinode wat in streke verdeel is/word nie.

    Gaan kyk na die kerkorde wat die ooreengekome sake is waaroor sinodes binne die Algemene Sinode gesamentlike (en daarom oor dáárdie sake) bindende besluite (vir al die samestellende sinodes) mag neem. Dit sal dus kerkregtelik óók vir Namibië geld (al is daardie sinode hoofsaaklik, maar nie uitsluitlik nie) in ‘n ander land.

  4. Kerkbode says:

    Geagte leser, ons moedig oop en respekvolle gesprek aan.
    Kerkbode se gespreksriglyne kom hierop neer: As jou bydraes na die mening van die gespreksmoderator doelbewus die temperatuur in die gespreksruimte opjaag, is hierdie gespreksblad nie vir jou nie.
    Ons vermy die publikasie van:
    Kommentaar wat ander se geloof en Christenskap bevraagteken op grond van verskillende interpretasies van sekere aspekte van die Christelike tradisie.
    Kommentaar wat ander beledig, ook wanneer dit beskryf word as ’n vorm van godsdienstige vermaning.
    Kru taal of bloot onsmaaklike opmerkings.
    Lasterlike opmerkings, insluitende kommentaar wat daarop gemik is om individue of kerkgemeenskappe skade te berokken.
    Enige vorm van haatspraak, insluitende rassisme, seksisme en homofobie.
    Gespreksgenote wat die bladsy oorneem om ’n eie agenda af te dwing. Dit sluit onder meer in om herhaaldelik aan te dring daarop dat sekere onderwerpe bespreek word, byvoorbeeld om voortdurend gesprekke te begin oor Kerkbode se riglyne vir gesprekvoering en hoe dit toegepas word.
    Kommentaar wat na die oordeel van die gespreksmoderator nie bydra tot respekvolle dialoog nie.
    Dit is nie vir ons moontlik om individuele kommentaar dag en nag te modereer nie. Individue wat dus nie by hierdie gespreksriglyne hou nie sal van die bladsy verban word om dit moontlik te maak vir ander om binne die grense van hierdie riglyne voort te gaan met gesprek.

    Hierdie riglyne vir gesprekvoering sal op ’n gereelde basis opgedateer word soos ons dit nodig ag.

  5. Johann Ernst says:

    Ben du Toit het ‘n punt beet. Nou moet hy ons help met die volgende. Waar is registrasie van huweliksbevestigers en nou ook vir SGV’s aan die Algemene Sinode oorgedra? En wat se ding is ‘n beleidsraamwerk? En staan daar nie in die ooreenkoms dat die Algemene Sinode deur die sinodes werk as daar besluite geneem word wat gemeentes en predikante raak? En wat het die Algemene Sinode enigsins te sê as sinodes ingevolfe Artikel 37 uit die Algemene Sinode tree, terwyl dit ‘n saak is wat die sinodes self in die lig can die Woord, belydenis of kerkorde oor besluit?

  6. Floris Avenant says:

    Dankie vir Kerkbode wat NG Kerk strukture/verbande en selfs lidmate help om hul standpunte te stel en hul gevoelens te verwoord. Dit is so belangrik dat ons baie ruimte vir mekaar skep/gee in ‘n tyd soos hierdie. Ook dat ons bereid sal wees om weer te dink oor en ons bloot sal stel aan kritiese vrae. Ons sal ook versigtig moet wees om nie stemme stil te maak nie, maar veral mense wat direk geraak word aan die woord te stel en indien nodig, hulle te probeer help verwoord(advokacy). Dit geld ook die stem van gemeenskappe, die stem van die groter skepping en veral ook mi die stem van natuur- en ander wetenskappe. Ons het hierdie bydraes mi dringend nodig. God se stem van daar moet ook gehoor word. Dink hoe verrykend vir die kerk hierdie gesprek gaan wees. Die kerk sal hom/haar en ander ‘n guns doen deur veilige ruimtes te skep vir sulke gesprekke wat in elk geval gevoer word, maar dikwels eerder buite die kerk sulke ruimtes vind. Die waardes van die, tot ‘n groot mate mi vergete “luisterseisoen”, mag dalk weer olie vir die wonde bring. In elk geval sal kerke/geloofsgemeenskappe,
    meen ek, dringend moet vra na hul identiteit en roeping in al hulle verbande in en met ‘n nuwe konteks. Ons sal ook moet vra: “Is ons teenwoordig? Hoe is ons teenwoordig?” ‘n Gerespekteerde ouderling het by geleentheid vir my in my gemeente in die Noord-Kaap vermaan met: “Dominee, as jy nie ‘n spoor in die gemeente getrap het nie, was jy nie daar nie.” Die NG Kerk, my moeder, was nog altyd ‘n kerk wat, hoe gebroke ook al, bereid was om spore te trap. Hoe trap ons spore van genesing vir elke seisoen? Ons het nou weer die geleentheid. Matt 6:33.
    Dalk kan ons baie by die GKN in Nederland gaan leer oor hulle eens “samen op weg” proses tussen verskeie denominasies op weg na vereniging…. oor ons eie vind van eenheid na binne en selfs tussen ons tradisioneel familiekerke en ander. In ‘n tyd van groeiende diversiteit en selfs groter dreigende verskeuring, het die kerk/geloofsgemeenskappe ‘n getuienis om te lewer en tekens van hoop om op te rig. Joh 13:34/5

Comments are closed.