Die magstryd in die NG Kerk

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Christo Schoeman (VDM) van Marquard skryf:

Meer as ’n jaar is verby ná die 2019 AS-sitting. Meer as vyf jaar sedert die 2015-sitting. Dertien jaar sedert 2007 en 34 jaar sedert die Ope Brief in 1986 … Wat het verander in die NG Kerk? Niks. Dit is steeds ’n magstryd.

Lidmate – gewone mense wat nooit op ’n kerkraad wil dien nie – sien hoe die mense “daar bo allerhande dinge op ons bly afdwing”. “Wie het hulle baas gemaak?” “Nee wat, ek vat eerder my goed en loop.”

Ja, die hoofrede hiervoor is die alewige gestryery oor selfdegeslagverbintenisse, Belhar, ’n kerk téén apartheid (wat nog steeds moet jammer sê) en sogenaamde “liefdeloosheid”. Die gewone lidmaat weet nie eens dat daar nie eintlik ’n hiërargie (veronderstel is om te) bestaan in die NG Kerk nie. Hulle kan nie verstaan hoe ons dan nou gereformeerd is, maar dit lyk soos ’n Katolieke regering! Ons “pous” en “biskoppe” het net ander titels … Dit noop die volgende vrae:

  1. Indien daar nie ’n hiërargie bestaan in die vergaderings van die NG Kerk nie, waarom wil dit voorkom (vir die meeste lidmate) of die Algemene Sinode (en selfs streeksinodes) vanuit ’n magsposisie dikteer aan die res van die kerk, terwyl “die res” nie daarmee saamstem nie? En, nee, die ruimhuis-beginsel maak nie alles beter nie en is nie die antwoord nie.
  2. Is die Algemene Sinode werklik ’n ware weerspieëling en verteenwoordiging van die NG Kerk se gemeentes wat op grondvlak verkeer?
  3. Indien daar op ’n demokratiese wyse gehandel word in die vergaderings van die kerk, is dit die beste oplossing/voorstel waarop besluite geneem moet word? Veral wanneer dit blyk dat daar nie genoegsame verteenwoordiging van die oorgrote meerderheid is nie?

Reinhold Niebuhr het gesê: “Man’s capacity for justice makes democracy possible; but man’s inclination to injustice makes democracy necessary.” In ’n normale samelewing is hierdie baie waar. Ongelukkig is die resultaat van demokrasie en enige ander vorm van regering dat geregtigheid nie vir almal kan geld nie – daar is altyd iemand wat benadeel word. Slegs God se geregtigheid is volmaak.

In die NG Kerk heers demokrasie. Viva demokrasie! Viva! Mense word ingestem en mense word voorgestel om sinodes te verteenwoordig – tog besluit die sinodale moderamen uiteindelik (in ’n redelike mate) wie gaan na die AS toe. Vir sommige “normale lidmate” maak dit nie saak nie. Vir ander maak dit baie saak. Is daar regtig ’n magstryd? Daar is dan demokrasie. Dit heers … Ons moet dit maar net aanvaar …

Wat het geword van ons gereformeerde beginsels? Die vyf solas? Ek het dan gedink Jesus Christus moet heers in en oor sy kerk. Brief verkort – Red.