Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Gerrit Engelbrecht van die Strand skryf:
Nioma Venter (ondervoorsitter van die algemene sinode) het tereg iewers gesê die algemene sinode het na jare se studie en debatte tot die konklusie gekom dat daar twee antwoorde is op die kwessie van selfdegeslagverhoudings, met ’n diep respek en agting vir God en sy Woord agter altwee antwoorde. So is die NG Kerk dan onder andere gelei om te sê daar kan nie van sonde sprake wees waar twee persone met ’n homoseksuele oriëntasie op ’n natuurlike wyse verliefdheid en romanse en in ’n vaste verhouding van liefde vervulling ervaar nie. Aan die ander kant van wegsteek en wedergeboorte, ervaar hulle God se seën in hulle verhouding.
LEES OOK: Gays: Sensitiewe saak
Die boek wat Bennie Keet in 1956 geskryf het, Vertraagde aksie, is vandag weer relevant ten opsigte van mense met ’n homoseksuele oriëntasie. Die aksie van liefhê is vertraag, dit kom nie ooreen met wat ons sê nie. Ons liefde vir gays is stomp as ons hulle met oop arms omhels maar ’n deel van hulle menswees misken.
Jacobus Overduin se woorde herinner ons dat as ons nie by Jesus leer waar om onversetlik te wees en waar om toegeeflik te wees nie, ons handel soos die Fariseërs wat ’n skrikwekkende voorbeeld van ’n sondige oorbeklemtoning was. Volgens hom lê regte nougesetheid hierin: “Jesus is God én Saligmaker.”
Manie Malan se beskrywing van sektes kom saam met die geskiedenis van die kerk: ’n Kenmerk van ’n sekte is eksklusiwiteit – hy meen en wéét dat hy alleen reg is. ’n Sekte is dus uiters onverdraagsaam. Ons onthou ook CS Lewis se bespreking van “vleeslike” en “geestelike” sondes. Dit bring hom daarby om te sê dat hoogmoed (ek verstaan God beter as jy) die antitese van geloof is.
As Walter Brueggemann oor homoseksualiteit praat, sê hy daar is so “a kind of a biblicism that is not noticeably informed by the Gospel”. Hy meen die afkeur van gay-verhoudings is ’n moralistiese oordeel dat hierdie mense nie geregtig is op lewensvervulling nie. Hy noem dit ook misplaaste angs oor die veranderinge in ons bekende wêreld.
Ons moet weer gaan kyk na die konteks waarin Ferdinand Deist geskryf het oor die ruimte vir verskille binne die gereformeerde belydenis: “Enige dogmatiese dwingelandy maak die Hervorming ongedaan.” Hy laat ons ook onthou dat moralisme skree: “Kruisig Hom!”
