Hoe ‘gebruik’ ons die verlede?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Van tyd tot tyd is dit nodig om so ’n rukkie op die stoep te gaan sit en jou gedagtes vrye teuels te gee. Veral hier aan die begin van ’n nuwe jaar na ’n stormagtige jaar wat verby is.

Die jaar 2020 sal seker nog vir baie lank in ons geheue bly. ’n Jaar wat sekerlik gebrandmerk sal wees as die jaar van inperkings. “Grendeltyd” het ’n nuwe woord in ons woordeskat geword, saam met Covid-19 met alles wat daarmee gepaard gaan, of wat daarmee gestruikel het. Op kerklike terrein was daar die verbod op samekomste wat dramatiese veranderinge tot gevolg gehad het. Alle basaars, feeste en fondsinsamelings het erg in die hek geduik. Sosiale aktiwiteite het tot stilstand gekom, en vele gemeentes het ’n ernstige knou gekry, nie net op finansiële gebied nie, maar ook op talle bedieningsterreine. In baie gevalle het daar nuwe deure oopgegaan vir kreatiewe bedieningspraktyke en broodnodige hulpverlening aan gemeenskappe in nood.

Lees ook |Ramaphosa: Entstof is hier, maar SA steeds op Vlak 3

’n Groot deel van ons sinodale gebied, en ook ander dele in ons land, is ernstig geknou deur ’n geweldige droogte. Mens, dier en plante het een van die moeilikste jare in ’n baie lang tyd beleef. Gemeentes en gemeenskappe reg oor die land het ingespring en onskatbare hulp verleen in die vorm van voer, water, geskenkpakkies en gebede. Dit het ons boeregemeenskappe aan die lewe gehou.

In die mees onlangse tyd is daar ook groot skade aangerig deur te veel water, veral in die noordelike deel van ons land. Vloede het gemaak dat paaie onbegaanbaar was en dat boere nie in die lande kon kom om die oes in te bring nie.

Op politieke terrein was dit ’n jaar van korrupsie-onthullings wat ’n mens se hare laat regop staan – en tog is dit die einde niet! Daagliks word nuwe getuienis voor die Zondo-kommissie gelê wat totaal en al verbysterend is.

Lees ook: Al die jongste Briewe

So kan ons seker ure lank op die stoep verwyl en nabetragting hou. Die groot vraag is egter, wat daarmee gemaak?

Ek lees onlangs die verhaaltjie van ’n tweeling (broers), wat na skool elkeen sy eie pad gegaan het, en bitter min kontak met mekaar behou het. Hulle pa was ’n totale alkoholis wat hulle grootwordjare uiterste hel gemaak het. ’n Sielkundige het van die twee gehoor en besluit om hulle op te spoor om te probeer agterkom hoe hulle verlede hulle hede bepaal het. Die een seun was ’n vooruitstrewende sakeman en ’n geheelonthouer. Die ander was werkloos en totaal verslaaf aan enige middel wat hy in die hande kon kry. Die sielkundige het aan albei dieselfde vraag gevra: “Waaraan skryf jy jou huidige omstandighede toe?”

Die verrassende was dat altwee presies dieselfde antwoord gegee het: “Met ’n pa soos myne, wat verwag jy anders?”

Lees ook: Alle nuwe Vakatures 

Vandag “sit ons op die stoep” en bepeins die verlede. Ons gedagtes gaan deur die storms van 2020, ons kan selfs terugdink aan die geskiedenis van ons gemeente(s) met al haar op- en afdraandes, ons kan dink oor die rol van die NG Kerk gedurende die afgelope eeu. ’n Tydperk gekenmerk deur die armblankevraagstuk, die opkoms van Afrikanernasionalisme, die Apartheidera, die Soweto-opstande, Sharpeville, die grensoorlog, die koms van ’n “Nuwe Suid-Afrika”, en so kan ons ons gedagte laat gaan.

Gedurende die bietjie meer as veertig jaar wat ek in die voltydse bediening is en die voorreg gehad het om op vele kerklike strukture te dien, was daar verskeie vraagstukke wat, alhoewel belangrik, tog geneig het om die fokus van ons profeties-priesterlike roeping af te lei. Ek dink onder andere aan die lang debatte oor “Ras, Volk en Nasie”, die “swart-pak-en-wit-das”-debatte, “Kerk en Samelewing”, die “vrou-in-die-amp”, die “Belydenis van Belhar”, “kinders by die Nagmaal”, “Artikel 1-wysiging”, “selfdegeslag-verhoudings”, en so meer.

’n Mens onthou ook watter groot rol die NG Kerk in ons land gespeel het. Ek dink aan die geweldige impak wat ons barmhartigheidsdienste in al die sinodes gemaak het en nog steeds doen. Ek dink aan die geweldige vordering wat op ekumeniese terrein gemaak is. Waar ons vir baie lank in die woestyn op ons eie was, is ons vandag ’n gerespekteerde lid van vele ekumeniese liggame reg oor die wêreld. Veral in die afgelope paar jaar het daar weer ’n baie sterk missionale bewussyn in die kerk gekom en is feitlik elke gemeente op een of ander wyse besig om hulle missionale roeping uit te leef. In elke gemeente is daar toegewyde lidmate wat elke dag ’n verskil maak waar die Here hulle ook al wil gebruik.

Wanneer ons nou so “op die stoep” sit, sal ons nie net kan terugkyk na dinge in die verlede nie – ons sal ook vorentoe moet kyk om, in Paulus se woorde, “die oog op die wenstreep” te hou.

Die belangrikste vraag waarop ons sekerlik ’n antwoord moet soek, is: Gaan ons ons verlede as verskoning gebruik of as motivering?

Dit was die groot verskil tussen die twee broers se lewe.

  • Ds Jasper Louw is moderator van die Oos-Kaapse sinode.

Word 'n vriend van Kerkbode