Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wie se mening het gesag?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johann Theron van Kraaifontein skryf:

In kerklike debatte is die grondliggende vraag waar die gesag lê. Ons sê mos soveel mense soveel menings, maar waar lê die gesag? Die samelewing ken gesag toe aan onder andere die wetenskap, die Pop-kultuur, prominente figure, die meerderheid, die regbank, menseregte en Google. In die kerk lê die gesag baie keer by vooraanstaande teoloë, die gewildste godsdienstige literatuur, die mees gerespekteerde kerkleiers, die meerderheid van gelowiges, mense se eie ervarings of selfs by die mense wat die hardste raas.

LEES OOK: Skrifgesag: Die verskille is klein

Die oppergesag in die NG Kerk is geleë in die Woord van God. Nee, dit is nie my mening nie, dit is wat elke belydende lidmaat in die NG Kerk voor God en die gemeente bely het by belydenisaflegging. Daar het ons elkeen bely dat ons glo in die Woord van God en in die belydenisskrifte en beloof om daarin te volhard en alle leringe wat daarvan afwyk te verwerp. In Artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely ons dat ons nie die geskrifte van mense, hoe heilig hulle ook al was, ook nie die gewoonte of groot getalle of kerkvergaderings of verordeninge of besluite met die waarheid van die Woord van God mag gelykstel nie.

Nou is dit verontrustend om te sien dat in die saak van kerkhereniging met die VGK en in die gay-debat die finale gesag grootliks gesetel het in hofuitsprake en groot getalle – dieselfde gesag waardeur Jesus ter dood veroordeel is. Wat ons nie besef nie is dat God se Woord vlees geword het in Jesus Christus. As ons voortgaan om die gesag van die Woord te misken of net die stukkies van die Bybel uit te skeur wat ons pas, moet ons nie verbaas wees as ons bloed op ons hande het nie – Jesus se bloed. Ons ondersoek nie die Bybel om gesag aan ons menings te verleen nie. Die Woord van God ondersoek ons. “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (Heb 4:12).

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top