Die Psalms: Oor sielenood, siekte en lofprysing

Die psalmdigters skroom nie om hulle pyn voor God te bring nie, meen die skrywer van Here, leer my u pad: Die Psalms as wegwysers vir die lewe (Naledi). Le Roux Schoeman (LS) het met Paul Kruger (PK) gesels.

LS: Ek geniet die statistiek wat jy gereeld inwerk rondom die fre­kwensie van sekere woorde, soos byvoorbeeld: “Die woord ‘vertrou’ / ‘vertroue’ kom 182 keer in die Ou Testament voor. Ongeveer ’n derde van die gevalle kom in die Psalms voor,” skryf jy op bl 153. Watter van daardie soort data staan vir jou uit as besonder insiggewend en/of het jou verras toe jy daarop afkom?

PK: Voor ek begin skryf het, het ek weer deur die boek van die Duitse teoloog HJ Kraus, Theologie der Psalmen (1979; in Engels vertaal as Theo­logy of the Psalms) gelees. Hy maak baie van die eienskappe van God, soos saamgebundel in die Psalmboek. Met dit as invalshoek en die nagaan van genoemde begrippe in ’n Hebreeuse kon­kordansie wat na dié eienskappe ver­wys, het ek tot die ontdekking gekom dat Luther reg gehad het toe hy die Psalms beskryf het as ’n “kleine Biblia” (’n “klein Bybel”). Geen ander Bybelboek praat meer oor God se goedheid, sy liefde en sy ewige trou as juis dié boek nie. My boek kaats dan eerstens die lig op hierdie sonderlinge eienskap­pe van God: God as die liefdevolle, barm­hartige, genadige, getroue en dié Een wat stadig toornig word, God se goedheid en geregtigheid, God as ’n God wat tegelyk naby en ver is, God as die Een wat troos, God as Leermeester, en God as die Een wat die mens seën.

LEES OOK: Nuwe Afrikaanse Bybel verskyn

Aan die ander kant is daar ook geen ander Bybelboek wat meer oor die mens praat, en dit wat hom in sy diepste wese dryf, as die Psalmboek nie. In bykans elke psalm klink daar iets op van menslike leed, honger, dors, armoede, ekonomiese rampspoed, geestelike nood, dood, angs, onderdrukking, geweld, een­saamheid, verlatenheid van familie, vriende en selfs van God, ongeluk, mislukking. Kortom, vasgeloopte lewens in enige denkbare vorm, maar lewens nie sonder hoop nie! Temas oor die mens wat in my boek aan die bod kom, behels: lof en die sin van die lewe; ouderdom, verganklikheid en die dood; die mens se vreemdelingskap op aarde; geloof en vertroue; hoop en wag op die Here; die mens in sy nood, angs en aanvegtings; die mens se behoefte om tot rus te kom en die mens en sy verlange na God.

LS: Jy verwys na Bonhoeffer, Brueggemann en Spurgeon se kommentare en sommer in die voorwoord al noem jy dat Luther die Psalmboek as ’n “klein Bybel” beskryf het omdat dit op ’n manier ’n “kortbegrip is van belangrike geloofswaarhede” … Wanneer ’n mens ’n boek soos hierdie oor die Psalms aanpak, watter skrywers se studies daarvan is die moet-lees-boeke voor jy jou eie hand kan waag?

PK: Soos genoem, het ek baie van Kraus geleer. As ’n mens na die bronnelys kyk, sal jy sien dat ek meestal van Duitse bronne gebruik gemaak het, omdat die studie van die Psalmboek as literêre en teologiese skat eintlik maar sy oorsprong in Duitsland het. Hier kan ’n mens maar net dink aan Gunkel, Westermann en aan die jonger teoloë soos Zenger en Weber. Ek het veral baie gebaat gevind by Weber, ’n Switserse teo­loog, met sy driebandige werk oor die Psalms. Veral die laaste volume Werkbuch Psalmen III: Theologie und Spiri­tua­lität des Psalters und seiner Psalmen (Psalm-werkboek III: Teologie en spiri­tualiteit van die Psalmboek en sy Psalms; 2010) is moet-lees-stof as ’n mens iets van die Psalms wil verstaan. Hierin handel Weber onder andere oor die Psalmboek as ’n gebedeboek en “’n boek van onvervalste spiritualiteit”, om ’n beskrywing van die Franse filosoof Levinas aan te haal wat só na die Psalmboek verwys het.

Gaan ’n mens na die Angel-Saksiese wêreld, is daar geen beter plek om te begin as die werke van die Amerikaanse Ou-Testamentiese teoloog Walter Brueg­gemann oor die Psalms nie. Veral sy 1980-studie The Psalms and the life of faith is soos ’n vars bries. Teenoor die ti­pering op daardie tydstip (1980) van die literêre soorte in die Psalms as klaag­liedere, lofliedere, ensovoorts, kom hy na vore met die baie handige en meer gepaste kategorisering van die ver­skillende psalms as: psalms van oriën­tasie, psalms van disoriëntasie en psalms van reoriëntasie. Veral sy bena­ming van die tipiese klaagliedere as “psalms/gedigte van disoriëntasie” is baie sinvol. In sy meevoerende styl skryf hy oor dié genre: “That experience of radical dissonance is what is presented to us in the laments. They are speeches of surprised dismay and disappointment, for the speaker has never expected this to happen to him or her … These psalms speak venom against God, enemies, parents, and everyone else, venom that they did not know they had in their bodies … The facade of convention and well-being has at last been penetrated. The beast is permitted an appearance” (p 19). Oor die eie aard van lofliedere in die Psalmboek is daar geen beter bron om by aansluiting te vind as die pragtige boek van Patrick Miller, The Lord of the Psalms (2013), nie.

LS: Jy noem in die boek dat daar meer klaag- as lofpsalms is. Beteken dit die twee aksies (loof en kla) is op ’n ma­nier “nader” aan mekaar as wat ’n mens dalk besef of wat moet ons aflei uit hierdie kontrastering binne die psalmboek?

PK: Dit is moeilik om hierop ’n antwoord te gee. Die Switserse Ou-Testamentikus Beat Weber het dit mooi gesê: “Om by God te kla (klaagliedere) is die taal van die aarde; om God te loof (lofliedere) is die taal van die hemel. Omdat die mens in albei wêrelde leef, het hy behoefte aan beide.” Om te kla is mis­kien meer natuurlik tot die mens; tot lof, aan die ander kant, moet ’n mens beweeg word. Dit kom gewoonlik nie spontaan nie. Daarom dan ook die talle aansporings in die Psalms tot lof: “halleluja!” (“Loof die Here!”). Dit is ’n be­velsvorm! Hoewel dit so is dat daar meer klaag- as lofliedere in die Psalmboek is, is die grondtoon van die Psalmboek tog dié van uitbundige lof. Vanaf Psalm 104 tot Psalm 150 byvoorbeeld weerklink die oproep: “Loof die Here!” 49 keer. Insiggewend om te weet dat die heel laaste woord van die Psalmboek “halleluja!” is (Ps 150:6). Volgens die Psalmboek dus behoort LEWE EN LOF bymekaar!

LS: Jy sluit aan by Walter Brueggemann se idee dat klaagpsalms as’ t ware gedigte van “disoriëntasie” is. Hoe help daardie kon­sep my om die psalms beter te lees vanuit ’n hedendaagse konteks?

PK: Luther het in sy voorwoord tot die vertaling van die Psalms die menslike hart beskryf as ’n skip op ’n stormagtige see wat deur stormwinde geteister word. In sulke stormagtige tye kom die menslike hart los en raak dié eerlik met homself. Die mooiste van hierdie menslike klaagwoorde (gedigte van disoriëntasie) is vir Luther dat hulle “teen God en met God praat”. Gelowiges mag kla, mag maar depressief raak. Sulke woorde wat “die hart oopmaak”, werk soos donderweer wat uitsak, soos ’n drukklep wat oopgaan om die druk te verlig. Dikwels het die menslike gees sodanige verligting nodig. Die seer moet uit. Daar moet oor gepraat word. In die klaag­psalms leer ons so ’n nuwe woordeskat om ons vele angste, ons benoudhede en onsekerhede tot taal te maak, sodat ons dit voor God kan lê. Die tyd van Covid gee talle redes daartoe! Soos Brueggemann sê: “The beast is permitted an appearance.”

LS: Jy verwys na sommige psalms wat “konflikgesprekke met God” bevat wat die tipe worsteling met Godsvrae is waarvoor baie gelowiges dalk bang sou wees of skaam om te erken, nie waar nie?

PK: Daar word dikwels gehoor dat kla, of om met God in ’n konflikgesprek te gaan, nie die gepaste manier is om met God te praat nie! Daarom skram gelo­wiges dikwels daarvan weg. Die term “kon­flikgesprekke met God”, met ver­wysing na die grondtoon van die klaag­psalms, stam van die Duitse teoloog Bernd Janowski (vergelyk sy 2003-boek: Konfliktgespräche mit Gott: Eine Anthropologie der Psalmen [Konflikge­sprek­ke met God: ’n Antropologie van die Psalms]). Sodanige psalms het ont­staan uit ’n ervaring dat alles in die lewe nie wel is nie: sielenood, siekte (Ps 6); Godverlatenheid en onsekerheid (Ps 13); om versaak en uitgelewer te wees, veral deur vriende, om in vertwyfeling te verval en God as ver te beleef (Ps 22); verganklikheid en skuld (Ps 39); treur en heimwee (Ps 42); duisternis, uitsig­loosheid en depressie (Ps 88). Dít moet verwoord word! Gepas sê die Nederlandse dogmatikus Hendrikus Berkhof in sy Christelijk geloof dat God nie men­se as objekte wil hê nie, maar as ge­spreksgenote. Hy begeer ons inspraak, ons spontane dankbaarheid, maar ook ons geduldige en ongeduldige vrae. Selfs ons felle protes is vir Hom verkiesliker as swygende berusting.

LEES OOK: Reeds meer as 26 000 nuwe Afrikaanse Bybels verkoop

As daar een boek in die Bybel is wat ons permanent van hierdie nie-kla-hou­ding wil genees, dan is dit die Psalms. Die psalmdigters skroom nie om hulle pyn voor God te bring nie. Solank die ellende en die angs nog nie benaam of verbeeld is nie, kan daar nie vorentoe beweeg word, kan heling nie gekry word nie. Sielkundiges is deeglik bewus watter vernietigende uitwerking die onuitgesprokenheid van die menslike ellende het. Eers as die volle diepte en omvang van die negatiewe emosies deurleef is, kan die herstel begin. Die Psalms is gevul met talle van hierdie eer­like beskrywings van konflik in ’n poging om weer heel te raak. Die hart moet voor God oopgemaak word sodat die diepte van die pyn en ellende na die oppervlakte kan kom. Die lewe bring vir almal onbeantwoorde vrae en aan wie sal sulke vrae gerig word, indien nie aan God nie?

LS: Soms gaan dit rof in die psalms. “Breek, o God, die tande in hulle mon­de,” bid Dawid in Psalm 58:7. Daar is nog vele voorbeelde en jy bespreek ’n interessante voorbeeld waar die taal effens versag is in die Afrikaanse verta­ling – in die lig van hedendaagse ge­weldsensitiwiteit, korrek?

PK: Die wêreld wat in baie van die psalms in die Psalmboek geteken word, is ’n wêreld vol konflik, ’n net van leuens en bedrog. Dit wat beskryf word, was nie ’n randverskynsel in die samelewing nie. Dit het aan die hart daarvan gelê. In sulke onbenydenswaardige omstandig­hede is die bidder se wens wat roep om wraak en vergelding dus goed begrypbaar. Hierdie vergeldingsbegeertes is soos ’n fontein wat spontaan opborrel, soos “die gees van haat wat jou in die gesig slaan, soos hitte uit ’n oop kaggel”, aldus die skrywer CS Lewis. Vir ons gevoel gaan baie van die vergeldings­wense darem net te vér. Soos byvoorbeeld: “Breek, o God, hulle tande in hul­le mond” (Ps 58:7). Dit is daarom ook nie onverwags nie dat Psalm 58, ná die Tweede Vatikaanse Konsilie in 1963, deur die Katolieke Kerk uit die soge­naamde “Uurlikse Kloostergebed” weg­ge­laat is.

’n Ander manier om met hierdie vergeldingsuitsprake in die Psalms om te gaan, is om hulle te versag. Vergelyk byvoorbeeld hoe Die Berymde Psalms van die NG Kerk van 1976 en die Liedboek van die Kerk (2001) met die ont­stellende vergeldingswens in Psalm 137:9 (“gelukkig is hy wat jou babatjies gryp en teen die rots verpletter”), om­gegaan het. Dit wil voorkom of daar ietwat van ’n versagting ingetree het in die Psalmberymings van die tydperk 1976 tot 2001 met betrekking tot die lot van Babel. Waar die 1976-beryming die gruwel nog by die naam noem, het die 2001‑weergawe dit verbloem: “Gelukkig hy wat nou jóú kroos, verpletter teen die rots” (1976), teenoor: “Gelukkig is diegene, wat julle sal kasty. Na maat van al die smarte, wat ons deur jul moes ly” (2001). Kan ’n moeder ’n wandaad soos beskryf in Psalm 137:9 ooit onaangeraak laat verbygaan? Is dit nie rede vir ’n intense wrewel teenoor die geweldenaar nie? Dit is teen só ’n agtergrond dat ’n mens moet probeer sin maak van die vergeldingspsalms. In die moderne wêreld is daar talle bepa­lings in menseregtehandveste wat pro­beer om beskerming te verseker teen ge­weld en uitbuiting, hoewel dit tog nog wyd voorkom. Daardie tipe instansies het nie in die tyd van die Bybel bestaan nie. Baie keer was die enigste manier om daarmee om te gaan om jou op ’n Hoër Mag te beroep. Die aard van die vergelding wat gevra word klink wreed en onmenslik, maar dit is beslis nie uitdrukkings van ongeloof nie. Inteendeel, die lydende bidder identifiseer hom ten diepste met God en sy saak vir reg en geregtigheid. Belangrik is dat hy nie self die vergelding in die hand neem nie, maar dit aan God toevertrou. Daarom kan hierdie tipe versugtinge om vergel­ding ook gesien word as noodkrete van diepe vertroue, gebede in uitsiglose situa­sies. Iemand het dit mooi gestel: “Die vergeldingspsalms is spreekbuise vir die spreekloses.” Hulle bied woorde waarin die slagoffers hulle onmag kan verwoord. Terselfdertyd bied dit die gerus­stelling aan die slagoffers dat God in die stryd om ’n regverdiger wêreld hulle hulproepe nie vergeet nie. Mag ’n mens so ’n wraakgebed afbid soos in Psalm 58:7 of Psalm 137:9? Baie psigo­terapeute maak vandag van sulke psalm­woorde in hulle terapie gebruik. Die onreg moet verwoord, uitgeskreeu word! Dit is be­langrik om ongeregtigheid en leed nie onder die mat te vee nie, maar om dit onder woorde te bring. God is ’n God van liefde, maar ook van geregtigheid!

LS: So hier het ons die oudste gebedeboek, maar jy noem dat dit nie net klagte en lof is nie … daar is ook stiltes. Vertel ons meer daaroor?

PK: Die moderne wêreld is omgewe van ’n oorvloed van kommunikasie en ge­raas. WLAN is orals en mense kan immer in verbinding wees. Van stilte is daar bykans geen sprake meer nie, tensy dit bewustelik geskep word. Die mens se behoefte om tot rus te kom, is egter ’n eeue-oue begeerte. In die wêreld van die psalmdigters was dit ook nie anders nie. Lees ’n mens deur die Psalms, is dit dui­delik dat daar hoofsaaklik twee hoof­vorme van kommunikasie met God is: klaaggebede, waar tot God geroep word om hulp, en dank- of lofgebede waarin God geprys word. By albei is praat/taal ter sprake. Minder opvallend as hierdie twee is ook ’n derde vorm van kommunikasie wat nóg ’n klaag-, nóg ’n lofgebed is, maar ’n gebedshouding van stilte, afwesigheid van taal. Van hierdie “stilwees”, “rus”-momente voor God is daar treffende voorbeelde in die Psalmboek. Niks word gesê nie; daar is net ’n stille rustigheid!

Veral in drie psalms is die tema van rus en stilte sentraal. Die refrein van die tweelingpsalms (Ps 42 en 43) dui daarop dat die digter hierdie rus nog nie gevind het nie. Hy is vol onrus en in ’n sieleworsteling. Hy kan homself net nie tot bedaring bring nie. Drie maal word die onrusklag herhaal en drie maal die aansporing om nie moed op te gee nie, maar te bly wag en hoop: “Waarom is jy so terneergedruk, my siel, en rusteloos in my? Wag op God!” (Ps 42:6, 12; 43:5).

Psalm 62 is die direkte teenpool van kwellende onrustigheid. Ten spyte van aanvegting word die digter gedra deur ’n innerlike rus. Die stilte waartoe die bidder sy siel twee keer aanspoor (“Alleen by God is stilte vir my siel”, v 2; “Soek stilte by God alleen, my siel”, v 6), is die sielerus wat gegrond is in die se­ker­heid dat redding en geborgenheid alleen by God te vinde is (“Hy alleen is my rots en my redding, my bergvesting, ek sal nooit wankel nie”, v 3).

Die juweel egter in die hele Psalmboek oor die innerlike rustigheid, is die kort Psalm 131. Die digter het tot volledige rus gekom en put sterkte daaruit. Woorde het verstom, want gemeenskap met God kan ook sonder woorde ge­skied. Van vyande of aanslae van buite is daar in die psalm geen sprake nie. Die hele gedig is ’n intieme selfgesprek. Hier is iemand aan die woord wat uiteindelik kalmte gevind het ná die storms van die lewe. Soos ’n kind wat reeds van die moederbors gehaal is, maar ten spyte daarvan in stille tevredenheid daarteen nestel – nie omdat die kindjie iets van die moeder verwag nie – maar net om haar kalmerende teenwoordigheid in te drink. In dieselfde mate begeer die digter om in stille vertroue by God te rus: “Veel meer – ek het stil geword, en my siel tot rus gebring. Soos ’n tevrede kindjie (letterlik: gespeende) by sy moe­der, soos ’n tevrede kindjie is my ge­moed in my” (v 2-3).

LS: Die psalmdigter vra die waarom-vraag. Hoekom is God afwesig en laat hy sommige goed toe? Bied die Psalms ’n antwoord hierop?

PK: Geen ander boek in die Bybel vra die waarom-vraag aan God meer as die Psalms nie: “Waarom verberg U u aan­gesig?” (Ps 44:25); “Waarom, Here, wys U my af, verberg U u aangesig vir my?” (Ps 88:15). Dieselfde waarom-vraag klink elders anders ook op in Psalm 10:1; 22:2; 42:10; 43:2; 44:24, 25; 74:1, 11; 79:10; 80:13 en 115:2. Dikwels word dieselfde vraag op ’n ander manier ge­stel: “hoe lank nog?”: “Ek is diep ont­steld, maar, U, Here, tot hoe lank nog?” (Ps 6:4; ook in 13:2-3; 79:5; 89:47). Die bidder verstaan nie hoekom sekere dinge gebeur nie. Wat die beproewing nog erger maak, is dat die lyding en pyn oënskynlik nie einde kry nie – dit gaan net aan en aan. Veral die donkerte, die nag, word beleef as juis dié tyd waar die ellende breekpunt bereik (22:3; 32:4; 42:4; 55:18; 77:3; 88:2). Gee God antwoorde op die diepste geheimenisse en pyn van die lewe? Die Psalmdigters openbaar dit gewoonlik nie. Tog is daar twee psalms wat op ’n manier verraai hoe die bidders met dié onverklaarbaarhede van die lewe probeer omgaan het en dit is Psalm 13 en 88. In Psalm 13 bly die deur van hoop nog oop; in Psalm 88, daarenteen, is alle hoop laat vaar.

Psalm 13 is ’n eerlike ontboeseming van die bidder se ellende voor God. Die grondtoon daarvan is die vraag “hoe lank?” Dit kom vier keer in die psalm voor. Wat merkwaardig is in die psalm, is hoe dit moontlik is dat die digter so eensklaps kon wissel van klag na vertroue. Direk nadat hy nog oor die treite­ring van sy teenstanders gekla het (v 5), verander hy ewe skielik die toon en be­ly: “Ek, egter, vertrou op u standvastige liefde” (v 6). Die lyding gaan beslis nog aan en die vyand het ook nog nie ver­dwyn nie! Iets moes in die bidder gebeur het wat hierdie ommeswaai van klag na sekerheid laat deurbreek het. Dit is goed voorstelbaar dat agter hierdie belydenis van vertroue, ’n intense worsteling van weke, maande, of selfs jare kon verloop het. Baie moontlik het hy sy ellende oor tyd heen voor God gebring, male sonder tal in gebed daarmee geworstel, soos vers 4 suggereer: “Sien tog raak, antwoord my, Here, my God,” maar duidelik het hy nie ’n bevredigende antwoord van God gekry het nie. Dik­wels gaan sielepyn gepaard met wroe­ging en onverwerkte gevoelens en duur dit soms lank om daarmee in die reine te kom, indien wel. En dan op ’n dag gebeur dit: Ewe skielik gaan daar nuwe lig op. Die nood is nog steeds daar en sal miskien altyd daar wees, maar midde-in die nood kom die besef, maar God se standvastige liefde en trou is ook nog daar! Daarop kan in alle omstandighede gereken word: “Ek, egter, vertrou op u standvastige liefde” (v 6). Dit is die vastepunt wat nooit sal verander nie!

Psalm 88 is beslis die donkerste van al die klaagpsalms. Die digter sien hier geen lig meer nie; dit is net duisternis! Dit is dan ook op hierdie dieptepunt dat die psalm eindig: “U het geliefde en vriend van my vervreem, my vertroudes is duisternis” (v 19). Die lewe het vir die bidder ’n vloek geword. Hy sien geen uitsig meer nie. Dat die bidder hom nog in hierdie onbenydenswaardige toestand tot God wend, dui daarop dat hy nog nie moed opgegee het nie. Dit gaan in die psalm nie net oor ’n aanklag teen God nie, maar is ook ’n appèl dat Hy nie moet afstand doen van sy standvastige liefde, trou en geregtigheid (v 12-13) nie. Daar is dus tog nog ’n sprankie hoop, al getuig alles daarteen. Wat egter uitbly, is ’n antwoord van God. Ook al gebeur dit nie, gee die digter nie bes nie: “Ek, ek roep na U om hulp, in die oggend gaan my gebed op na U” (v 14). Iemand het dit mooi gesê: “Hier protesteer iemand biddend”. Baie keer breek duidelikheid in ’n geloofsworsteling eers deur vanuit die perspektief van die einde! Kierkegaard het daarom volkome reg wanneer hy die raad gee: “Die lewe kan alleen terugwaarts verstaan word, maar dit moet voorwaarts geleef word.” Baie van die dinge wat gebeur, verstaan ’n mens baie keer nie midde-in die si­tua­sie nie. Dit is eers as daar deur dit geworstel is dat jy agterkom dat God daarmee tog ’n doel gehad het.

LS: Jy het die voordeel van groot taalvaardigheid in Hebreeus en vertroudheid met die Semitiese digterstaal en die wye algemene verwysingsveld wat herhaaldelik in die boek blyk. Hoeveel van die Psalms is “lost in translation” vir die res van ons wat net, byvoorbeeld, die 1983- Afrikaanse vertaling het om op te gaan?

PK: Ek moet sê hier het ek groot simpatie met die gewone Bybelleser. Daar is net soveel woorde in Hebreeus waarvoor ’n mens moeilik in Afrikaans of in enige ander taal ’n gepaste vertalings­ekwivalent kan vind. Kyk byvoorbeeld net na die vertaling van een van die we­senseienskappe van God in die Psalm­boek (Hebreeus: gesed). Bybelvertalings worstel nog steeds om ’n geskikte woord te vind om uitdrukking te gee aan hierdie allesbepalende eienskap van God teenoor die mens. Die 1933/1953-Bybelvertaling se vertalingskeuse het op die woord “goedertierenheid” geval; Luther vertaal dit met “barmhartigheid”. Die 1983-Bybelvertaling kies weer vir die begrip “verbondstrou” omdat dié woord dikwels slaan op God se getrouheid aan sy verbond. In sommige Engelse vertalings word die keuse gemaak vir “steadfast love” (standhoudende, troue liefde) of “loyalty” (getrouheid). Die nuwe Die Bybel 2020-vertaling kies vir die vertaling “troue liefde”. Die Hebreeuse woord gesed hou ten diepste verband met ’n gesindheid waar die meerdere (in dié geval God) onder­neem om te alle tye in belang van die mindere (in dié geval die mens) op te tree en dat dié verhouding gebou is op die beginsel van trou. As daar eers een keer ’n onderneming gemaak is, word daarvan nie afgewyk nie! Dit alles in ag genome, sou ’n vertaling soos “stand­vastige/troue liefde” nie ’n slegte keuse wees nie.

LEES OOK: Ekologie: Groenvingerdominees maak hande vuil in grendeltyd

’n Ander sentrale eienskap van God wat in die hele Ou Testament die meeste in die Psalms na verwys word, is die eienskap van God se barmhartigheid. “Barmhartigheid” is ’n woord wat nie op straat of in die supermark gehoor word nie. Daarom is dit so moeilik om dit gepas te vertaal. Die woord “barm­hartigheid” het ontstaan as ’n leenvertaling uit die Latyn, waar die woord misericors (miser: “arm/ellendig” en cor/cordis: “hart” = “die een wat ’n hart vir die armes het”) deur Ou Hoogduits (armherzi) in Nederlands en Afrikaans as “barmhartig” neerslag gevind het. Dit is in alle Afrikaanse vertalings (1953, 1983, 2020) as “barmhartig” behou. Engelse Bybelvertalings, daarenteen, vertaal hierdie Hebreeuse woord meestal met “tender mercies” (ontfer­ming) of “compassion” (deernis). “Deer­nis” sou miskien ’n redelik gepaste vertaling vir dié Hebreeuse begrip wees. In Hebreeus het die woord “barm­hartig” ’n diep emosionele betekenis. Dit is afgelei van ’n begrip wat “moederskoot” beteken. Nou weet ons tog watter liefdevolle koestering daar vir ’n baba in die moederskoot is. Geen moeite, geen sorg is te groot nie! Daarom het die woord “barmhartigheid” te doen met die innerlike mens, daardie deel van die liggaam waar intense emosies setel.

Saam met hierdie “moeilik-vertaalbaarheid” van sekere Hebreeuse begrip­pe, moet ook daaraan herinner word dat die Psalms gedigte is. Gedigte is nie in die eerste plek gerig op die oordra van inligting nie, maar om effek te verkry. Een manier om dit te doen is om beeldende taal (simbole of metafore) te kies om ou waarhede op ’n nuwe ma­nier te verpak. Byvoorbeeld: Hoekom sou die digter van Psalm 23 die herderbeeld as mees geskikte simboliese/me­ta­foriese element gebruik om sy sentrale gedagte die beste oor te dra? Wou hy daarmee probeer uitdrukking gee dat dit hier in die eerste plek gaan oor die Herder (God) se omgee en sorg, of wou hy eerder die klem laat val op die gebruik van destyds dat die herder voor sy skape uitgeloop het en só die een was wat eerste die gevare die hoof moes bied? Ons sal nie weet nie, maar wat wél seker is, is dat beeldryke taal ’n handige instrument is om diep waarhede in ’n nuwe gewaad te klee. In dié sin is die Psalmboek in wese ’n beeldboek en dit is wat dit so fassinerend maak!

In samehang met hierdie digterlike, beeldende segswyse moet ook genoem word dat sodanige taal digterlike vryhede toelaat. By nadere kyk na sekere van die Psalmbeelde (veral in die konteks van die ou Nabye Ooste) raak ’n mens deeglik bewus van die ryk-geskakeerdheid van sommige daarvan. Byvoorbeeld, talle van die Godsbeskrywings is (in teenstelling met die do­minant-manlike beskrywings in die Psalmboek) in terme van vroulike beelde. In Psalm 22:10 en 71:6 is God die Een wat die bidder soos ’n vroedvrou uit die moederskoot gehaal het. Op ’n ander plek (Ps 139:13) is dit God wat die bidder reeds lank tevore al in die moederskoot kunstig aanmekaar ge­weef het. Weefkuns was in die ou Nabye Oosterse wêreld ’n kuns wat deur vroue bemeester is. Ook God wat die digter “wegsteek in die skadu van sy vleuels”, wat talle kere in die Psalms na verwys word, is “moederlike” beelde.

  • Meer oor Kruger: “Ten spyte van die feit dat ek die grootste deel van my lewe in die Wes-Kaap (Stellenbosch) gewoon het, is ek gevorm deur my eertydse geboorteplek: die destydse Suidwes-Afrika, op ’n karakoelplaas in die Suide. Dit is ’n meedoënlose, droë wêreld waar jy alleen kan oorleef as jy dapper en veerkragtig was. Ek is deur dié omgewing in my diepste wese gevorm. As ek moet, sou ek myself beskryf as ’n vasbyter wat kan aanhou, ten spyte van wat op my pad kom.”

Word 'n vriend van Kerkbode