Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hulp vir stil raak en God te hoor

Jy sal oukei wees deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Bybel-Media, 2020


“Jy sal oukei wees.” Dalk het iemand – jou ma, vriend/vriendin of selfs jou terapeut – ook al probeer om ’n kop-onderstebo-en-emosionele-jy met hierdie woorde moed in te praat. Dan het jy maar met ’n aangeplakte glimlag jou waardering vir die gedagte gewys, terwyl jy eintlik dink: “Hoe weet jy dit as jy nie ’n ent in my skoene geloop het nie? Hoe kan jy my daarvan verseker as nie een van ons weet wat in die toekoms voorlê nie?”

Milanie Vosloo begelei egter die leser met haar boek om in ’n raserige wêreld stil genoeg te word, om te hoor hoe God self vir hom of haar sê: “Jy sal oukei wees.” En dít maak hierdie, andersins-vol-gate-stelling, geloofwaardig en geneeskragtig.

Koop boek hier.

Sy bring dit tuis dat God ons elkeen van harte ken en liefhet, of jy nou twyfel of jy oukei sal wees, of jy nie wil erken dat jy nie oukei is nie en of daar net nie tyd is om nie oukei te wees nie. Hy gee elke tree saam met jou in jou ou-uitgetrapte, of jou blinkgepoleerde skoene en Hy wil (en kan!) jou die versekering gee dat jy wel oukei sal wees, omdat Hy jou verlede ken, weet wat die toekoms inhou, maar bowenal, omdat Hy jou in die “nou” vashou.

LEES OOK: Gebed van ’n woedende man

Elke dagstukkie word op ’n kleur­volle wyse aangebied in ’n lekker-lees-skryfstyl, met verfrissend-eerlike vrae en vertellings waarmee elke gelowige kan identifiseer, asook diepgewortelde geloofswaarhede wat op eenvoudige en Skrifgetroue wyse weergegee word. Daarmee saam rus Vosloo ook gelowi­ges toe met praktiese raad om te leef soos iemand wat gehoor het hoe God sê: “Jy sal oukei wees” – en dit glo!

  • Ds Thania Botha is ’n predikant in Port Elizabeth.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top