Onbillik teenoor kerk?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Danie van Zyl (VDM) van Welgemoed, Bellville, skryf:

Daar is baie om oor na te dink in Ben du Toit se boek God: Is daar ’n ander antwoord?

Daarin word kwessies en vrae aan­gesny waaroor nagedink moet word, en waaroor vele in­der­daad nadink. Daar word ook dinge gesê wat lesers sal ontstel, afhangende van die perspektief van waaruit jy dit lees.

LEES OOK: ‘Binnestander’ bied tegelyk protes en pleidooi

Daar is veral drie argumente of redes wat deur Ben aangevoer word vir waarom hy tot die bepaalde gevolgtrekking en posisie van postteïsme gekom het. Dit is nodig dat lesers dit in die oog sal hou by die beoordeling van sy gevolg­trekking.

  • Bepaalde (teleurstellende) ondervinding met die kerk. In ’n groot gedeelte van sy boek gee Ben ’n uitvoerige be­skrywing van sy lewe duskant die hek. Op bladsy 154 kom hy tot die volgende posisie: “My ervaring in die kerk sedertdien …” – en dan gee hy ’n opsom­ming van sy ervaring – “… dit alles het my daartoe gebring om myself nou van enige uitdrukking van godsdienstigheid te distansieer”.

Vele andere het al vanweë hulle bepaalde persoonlike negatiewe ervarings hulleself van die kerk en selfs van geloof losgemaak. Maar om “die kerk” as so­da­nig daarvoor verantwoordelik te hou is onbillik en daar is geen logiese grond om dit deur te voer tot die uiteindelike ontkenning van die bestaan van God as sodanig nie.

  • Die oortuiging dat dit ’n wetenskaplike bevinding is dat God die produk is van die menslike denke. Na ’n lang bespreking, gefundeer op bepaalde na­tuur­wetenskaplike sienings, kom die slotsom: “So het godsdiens dus ontstaan. Dit is nie iets van metafisiese aard wat van buite of van bo iewers anderkant die wolke kom nie, maar vanuit die menslike lewe en bestaan wat nou evolusionêr ontwikkel het. Godsdiens is dus die produk van evolusie” (p 118). En: “Dit is eenvoudig wetenskaplik so dat die mo­derne mens ouer is as enige konsep van ’n God of van ’n transen­dente metafisiese toestand. Dit is juis die mens se vermoë … om abstrak en kreatief te dink, wat gelei het tot die tot­standko­ming van ’n metafisiese ‘wêreld’ – ’n verbeelde plek …” (p 119). En: (daar is) “oor­weldigende bewyse vanuit die multiwetenskaplike disiplines dat die be­staan van ’n tran­sendente, metafisiese wese gebaseer is op die irrasionele aannames wat opkom uit die psigies-gekon­disioneerde denke” (p 140, sien ook 152, 156).

Die wetenskap het sekerlik gehelp om die ontwikkeling van die menslike denk­vermoë al meer te verstaan, maar dat dit “eenvoudig wetenskaplik so” is dat die bestaan van God die produk van die menslike denke is, is eerder ’n sie­ning van ’n bepaalde groep wetenskaplikes. Ook as die feit van die evolustiese ontwikkeling van die mens (nie ’n bepaalde teorie daarvan nie) aanvaar word, is dit eerder so dat die mens ie­wers in sy ontwikkeling bewus geword het (eerder as dit geskep of uitgedink het) van die be­staan van ’n metafisiese werk­likheid en so voorstel­lings van ’n god­heid begin bedink het (Rom 1:19-23). Op die weg, in die geskie­denis en te midde van ’n veel­heid van verstaans­wyses, het die unieke Bybelse verstaan van God en geloof ontwikkel.

  • Die manier waarop populêr oor God gedink word, oor hoe God veronderstel is om direk persoonlike en wêreldgebeure te bepaal, of, alternatiewelik glad nie, laat hom wonder oor die moontlikheid om te moet erken dat God nie bestaan nie (p 40). Algaande word sy eie wyse van hoe hy oor God dink duideliker (p 52-54, 56, 61, 165 v). Op bladsy 168-9 maak hy sy eie siening eksplisiet: om “bevry te wees van die vrees vir ’n transendente, metafisiese godheid of mag of energie wat my lewe mag bepaal, (sodat hy) … afskeid (neem) van enige ge­loof in ’n transendente, metafisiese ‘wêreld’ of be­staan waarin daar bona­tuurlike magte en kragte sou wees wat die botoon voer en hulle laat geld ten opsigte van die wel en wee van die mensdom en die heelal”.

Hier ontbreek ’n onwillgheid om eer­der terug te keer en dieper te kyk wat die Bybel oor God sê. Klaarblyklik bring sy reaksie teen (tereg verwerplike/ verworde) populêre sienings van God hom eerder om daarmee God as sodanig en die bestaan van ’n metafisiese bestaans­wyse te verwerp.

Hy skryf: “Ek het geen twyfel daaroor dat die kerk en teologie sigself deur die wetenskap moet laat informeer as dit kom by etiese en morele beskouings nie. Met dogma en leerstellings is dit egter ’n ander saak” (p 93, vgl verder 97v). Hierdie is ’n eng verstaan van die verhou­ding tussen geloof en wetenskap. Die slotsom waartoe Du Toit kom, kom effektief neer op ’n radikale teenstelling tussen geloof en wetenskap. Daar is egter vele verdienstelike benaderings om geloof en wetenskap met mekaar in verband te bring.

Word 'n vriend van Kerkbode