‘Binnestander’ bied tegelyk protes en pleidooi

Toe die boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd in 2000 verskyn, skryf ek ’n waarderende resensie vir Beeld (11 Junie 2001) daaroor. Toe was Ben du Toit vir my die skrywer van ’n insiggewende boek. Vandag, twintig jaar later, probeer ek weer iets oor ’n boek van Ben du Toit sê. Baie het in die 20 jaar gebeur. My Kindle-weergawe van God: Is daar ’n ander antwoord? het beslis nie R39,95 gekos soos die 2000-publikasie nie en ons het intussen goeie vriende geword. My skryfsel van 2001 was ’n resensie van ’n afstand af. Hierdie is ’n refleksie van nader. Van naby perspektief gepraat, wanneer Du Toit in hoofstuk 2 ’n oorsig gee van sy “geskrewe voetspoor”, is dit duidelik die verhaal van iemand wat intens betrokke was by die kerklike gebeure van sy tyd. Sy perspektief is die van ’n binnestander. Hy praat nie van hoor-sê nie. Dit is maar een rede waarom die boek ernstig geneem moet word.

Die waarde van die boek lê veral op twee vlakke. Du Toit bied tegelykertyd ’n protes en ’n pleidooi (my tipering) wat ter sake sal wees vir enige een wat ernstig oor God, die kerk en die lewe wil dink.

Die protes

Die protes is die sterkste van die twee stemme. Prof Piet Naudé het destyds die publikasie van 2000 al as “tegelyk onthutsend en verhelderend” beskryf. Dit is met God: Is daar ’n ander antwoord? veral die onthutsende deel wat opval. Uit die eerste publieke reaksies op die boek is dit duidelik dat dit ontstel. In een reaksie word dit “gevaarlik” genoem en in ’n ander “nie goed vir mense se geestelike gesondheid nie”. Du Toit word selfs as ’n priester van ongeloof beskryf. ’n Paar dominees het dadelik die tugreglement nader getrek en begin klagstate opstel.

Lees ook: ‘Ek is opnuut geïnspireer om te getuig’ sê leraar ná lees van Du Toit se boek

Dit is nie vreemd dat ’n protes dikwels sulke reaksies uitlok nie. Daar is byvoorbeeld die interessante reaksie in die epiloog van die boek Prediker waarin die lesers gewaarsku word teen die protesstem van die Prediker (Pred 12:12-14), maar reg langs hierdie waarskuwende woord is daar ook in die epiloog ’n ander stem. Volgens Prediker 12:9-11 word die proteswysheid aangeprys as eerlik en prikkelend. Wie wil protesteer teen die gangbare teologie van sy tyd is dus in heel goeie geselskap.

Du Toit se protes is wydlopend. Dit raak die leierskap van die kerk, die wyse waarop die Bybel en belydenisskrifte gebruik word, die manier waarop die menswaardigheid van mense deur die kerk misken word en dan veral ook die kerk se taal oor God. Die slegte “track record” van godsdiens kom ook aan die orde. Du Toit hou nie terug nie. Hy verduidelik dat die verband tussen God en die kwaad hom by radikale gevolgtrekkings oor God bring.

Dit is goed so. “’n Protes wat alte genuanseerd uitgespreek word, verloor sy krag as protes omdat dit die vinger van die wond verwyder” (Deist 1982). Du Toit plaas sy vinger op plekke waar dit seer maak. Na die eerste 90 bladsye moes ek eers ’n dag of wat asem skep. Om te hoor van sy laaste preek wat hy oor die ru verhaal van Tamar maak, bring die gevoel van verlies. Dit is skerp stokke wat seermaak, om nou maar weer Prediker aan te haal.

Die pleidooi

Van skrywers wat krities skryf, is al gesê dat hulle soos die hen is wat kekkel terwyl die ander henne eiers lê. Du Toit kritiseer nie net nie. Die boek gaan nie op in protes nie. Sy werk in die kerk staan in die teken van ’n aanhoudende pleit vir ’n ander, meer geloofwaardige verstaan van God. In hoofstuk 3 lê Du Toit ’n paar eiers. Hy antwoord sy eie vraag. Is daar ’n ander antwoord oor God? Ja, vir hom is daar ’n onbetwiste en onaanvegbare antwoord. “Die antwoord is: Ek is ’n mens.” Hy vind ’n radikale klem op menslikheid bevrydend.

Lees ook: Prominente oudleraar karteer pad wat hom na ‘anderkant’ God lei

Daar is iets konsekwent hierin, want Du Toit was in sy teologiese verstaan nog altyd diep verbind aan dié Jesus wat mense kom heel maak het. Die dieper grond van sy pleidooi (en protes) het met geloofwaardigheid en integriteit te doen. Dié twee begrippe kom onderskeidelik 35 en 53 keer in die boek voor. Hy kon in die ortodokse en dikwels fundamentalistiese taal van die kerk nie ’n geloofwaardige getuienis oor God vind nie. Hy het sy lewe daaraan gewy om te kyk of die kerk nie kop- en hartskuiwe sou maak na ’n meer geloofwaardige spreke oor God nie. Hy het tou opgegooi. Sy pleidooi het op dowe ore geval.

Epiloog

Du Toit vra in hierdie boek wesenlike vrae. Dit is vrae wat in die harte van lidmate leef. Hulle kan nie meer met ’n kluitjie in die riet gestuur word nie. Hy reken voldoende af met ’n klomp vroom “cop out-antwoorde”.

Ek sukkel egter met Du Toit se “ander antwoord”. Die ander antwoord verreken nie genoegsaam die kompleksiteit van die lewe en menswees nie. Dit hoor nie daardie blue note van Jazz waaroor Du Toit in Sprakeloos oor God (2003) skryf nie. Dit vul nie die lugleegte (hebel) waaroor Prediker lamenteer nie.

Ek sluit my refleksie voorlopig af met twee aanhalings:

“For every complex problem there is an answer that is clever, simple, and … wrong.” Henry Louis Mencken (1880-1956)

“God is eerder in die vraag as in die antwoord.” Elie Wiesel in ’n onderhoud met Timothy Beal. (Strange fire: Reading the Bible after the Holocaust)

  •  Dr James Kirkpatrick is predikant by die NG Kerk Stellastraat in Pretoria.
Word 'n vriend van Kerkbode