Deur skryf­werk skep sy ’n ruimte van rus en refleksie

Die alfabet van oorvloed deur Lizette Murray
Uitgewer: Bybelkor, 2020


Wat ’n bederf was dit nie om Die alfabet van oor­vloed deur Lizette Murray te lees nie! Elke hoofstuk is kort, maar treffend. Ek moes myself dwing om ’n bietjie stadiger te lees en elke gedeelte mooi te oordink nadat ek dit gelees het. Hierdie boek sal ’n uitstekende keuse wees vir enigiemand wat diep aangeraak en aan die dink ge­sit wil word, veral as jy dit geniet om tydens jou stiltetyd te skryf.

LEES OOK: Droogte: Jasper na die reën

Die skrywer kry dit reg om met ’n paar eenvoudige paragrawe jou terug te neem na die kosbare herinneringe van jou kinderdae. Daardie oomblikke wat ons geneig is om te vergeet in die harwar van ons daaglikse lewe. Deur haar skryf­werk skep sy ’n ruimte van rus en refleksie, en nooi sy jou om ’n rukkie te sit en die kleiner oomblikke van jou dag te geniet.

Murray maak gebruik van elke sintuig en verskeie teksture in haar kortverhale, wat dit moeilik maak om nie meegevoer te word nie. Die ritmiese knie van deeg in haar ma se kombuis, die reuk van ’n plaas­huis se volgepakte spens, en die stadige beweging van die son om tyd mee te meet, is maar net van die oomblikke wat my tot stilte en refleksie gebring het.

LEES OOK: Ontgin geloofsgewoontes van die vroeë kerk se skrywer se lens

Ek vang myself nou gereeld gedurende die dag waar ek tot stilstand kom en die oomblik waardeer vir wat dit is. Ek soek die klein oomblikke wat vlietend is, maar gepak is met betekenis. Ek probeer self ruimtes skep vir myself en vir my gesin om stil te word en net te wees.

Hierdie boek is ’n goeie metgesel vir enige gesin (al is dit net jy en jou troeteldier!) en ek sal dit ook so aanbeveel.

  • Ds Luané McLachlan is ’n predikant op Murraysburg.

Word 'n vriend van Kerkbode