Reeks: Nou takel Siegfried Louw angstigheid via koddige karakters

Ben en die drakie deur Siegfried Louw
Uitgewer: Bybel-Media, 2021


Kerkbode het vroeër vanjaar berig oor dr Siegfried Louw se boek Die klip in Lisa se borskas, waarin hy kinders en volwassenes help om te dink oor die dood van ’n geliefde.

In Ben en die drakie pak Louw die netelige onderwerp van angstigheid.

LEES OOK: Ontgin geloofsgewoontes van die vroeë kerk deur skrywer se lens

Louw vertel ’n lekkerlees-storie wat kinders se verbeelding sal aangryp en hulle intrek in die karakters se lewe. Kinders kan hulle inleef in die storie, terwyl hulle so tussen die speel-speel lees en luister, leer om angstigheid te identifiseer en ’n naam te gee. Hulle leer dat en hoe ’n mens se lyf reageer op angs­tigheid. Selfs die waarde van angstigheid word bevestig. Saam met Ben leer hulle eenvoudige, praktiese, doenbare tegnieke om angstigheid te bestuur.

Hoewel Ben sy drakie oorwin, is daar steeds die kalm erkenning dat Drakie weer sal kom kuier. “Maar dit maak nie saak nie. [Ben] is besig om vir Drakie mak te maak.”

Die moeilike werklikheid van angs word erken. Dit word nie weggepraat of geminimaliseer nie. Tog word kinders bemagtig om ook hulle angs “mak te maak”.

Daar is ook ’n derde (hopelik nie finale!) boek in die reeks: Kolle en die gif. In hierdie aflewering loop Lisa en Ben deur onder boelies, maar leer met behulp van hulle hond Kolle dat liefde sterker is as bangwees.

Louw se teoretiese kennis en praktiese ervaring as spelterapeut is dwarsdeur h­ierdie reeks duidelik sigbaar. Ek kan ­hierdie boeke nie genoeg aanbeveel nie.

Ben en die drakie en Kolle en die gif is ook beskikbaar in Engels en sal eersdaags beskikbaar wees in isiXhosa en Sesotho. Bybel-Media het selfs vir die karakters hulle eie webwerf gemaak. Hier kan jy die karakters ontmoet, patrone aflaai om jou eie Ben- of Lisa-pop te maak en een van die dae ook inkleurprente kry.

  • Ds Rethie van Niekerk is predikant van Blouwaterbaai Familiekerk in Port Elizabeth.
Word 'n vriend van Kerkbode