‘Ons is OK, want ons is nie alleen nie’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Marlize Malherbe van NG gemeente Richardsbaai skryf:

Covid 19. Pandemic. Vaccinations. Lockdown. Restrictions.”

Dit is alles woorde wat ons tong die afgelope paar maande gladweg en sonder moeite leer sê het. Maar onverwags moes daar plek gemaak word vir ander woorde …

Woeste woorde …

Woorde wat die vrees en onsekerheid wat die vorige groep woorde gebring het, byna totaal en al uitdoof.

Woorde wat spreek van chaos en verwoesting.

Woorde soos “riots, protest, looting” klink nou soos geweerskote op in WhatsApp-tekste, video’s en oproepe. Familie, werkskollegas en vriende regoor die land, maar ook vanuit die buiteland wil almal weet: “Is julle OK?”

Wat is die eerlike antwoord op die vraag?

Nee?

LEES OOK: #Covidverhale: Maak ’n verskil, as is dit net vir een

Nee, want waar jy op ons mooie dorp ry is daar nou skielik oral gewapende mans, met maskers en gewere wat regstaan. Nee, want beweeg jy van die een deel van die dorp na die ander, word jy eers gestop en gevra: “Wat kom maak jy hier?” Nee, want vriende wat vir familie gaan kuier het, sit gestrand in ander provinsies en kan nie by hulle geliefdes op die dorp kom nie. Nee, want skielik staan daar rye en rye mense en wag om by die plaaslike Pick n Pay wat wel oop is, iets te probeer koop, maar die rakke is byna leeg gekoop – geen brood, geen vars groente! So nee, ons is nie OK nie!

Maar as ek hier stop, is ek net halfpad eerlik, want eintlik is ons OK.

LEES OOK: ‘Kerk moet nou vredemaker wees’

Ons is OK, want ons is nie alleen nie. Ons het mekaar. Boodskappe van bemoediging vlieg heen en weer rond. Die kos wat daar is, word gedeel – sonder vra en enige terughouding. Daar word nie gekla wanneer jy moet verduidelik dat iemand nie kos het en dat die rondry is om die pakkie af te laai nie. Ons is OK, want anders as ons buurdorpe wat deurgeloop het onder die verwoesting, hét ons nog winkels wat kon oopmaak en kon die meeste mense darem wel een of twee items op hulle lysie kry. Ons is OK, want ons dorp vat hande (sommige met gewere en ander in geloof) om mekáár te beskerm en te bid. Ons is OK, want ten spyte van die chaos, vrees en verwoesting rondom ons, hou ons stééds vas aan God Drie-enig en weerklink die geloofswoorde van Psalm 37:1-7 deur ons:

Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie,

want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer.

Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.

Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son,

jou reg soos die helder lig van die middag.

Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou

en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ’n skelm nie.”

Is ons OK?

Ja, al voel ons dalk nie aldag so nie.

Ja, met SY GENADE ís ons OK!

Word 'n vriend van Kerkbode