Verskerpte protesoptrede in eSwatini verwag

Stygende kospryse, brandstofskaarste en sedert Vrydag 16 Julie hernude protesoptogte, maak dit steeds uiters moeilik vir die Swaziland Reformed Church (SWC) om kos by die honderde kinders in hulle voedingsprojekte te kry.

“Ons probleem is om kos in die hande te kry omdat ons dit in Eswatini aankoop en die winkels afgebrand is. Nou moet ons kos by plekke in die noorde van die land aankoop en dit dan na die suide van die land vervoer wat dit uiteraard duurder maak,” verduidelik dr Arnau van Wyngaard, sekretaris van die SWC.

Die SWC voorsien by vyf voedingskemas daaglikse etes aan sowat 500 kinders, maar moes dit staak omdat dit te onveilig geword het weens die afgelope weke se gewelddadige protesoptredes deur pro-demokrate waarin winkels en ander geboue, selfs ’n biblioteek en ’n kliniek, afgebrand is.

LEES OOK: ‘Bid ernstig vir eSwatini’

Die afgelope Dinsdag was die eerste keer hierdie maand wat die kerk se vrywilligers daarin kon slaag om kos af te lewer, maar die situasie bly onstabiel. Vrydagoggend het soldate geskiet op mense wat deelgeneem het aan ’n massa-protesoptog na Manzini, die land se grootste stad.

Weens die skaarste aan brandstof staan voertuie vroegoggend reeds in toue van kilometers lank by vulstasies. “Kospryse is reeds besig om die hoogte in te skiet. Die situasie word vererger deurdat Suid-Afrika ook nie aflewerings in Eswatini kan maak nie,” skets Van Wyngaard die prentjie verder wat op gereelde grondslag, wanneer kommunikasie moontlik is, met die kerk se vrywilligers in eSwatini in gesprek is.

“Daar word nou ook al hoe meer dreigemente teen die kerke gemaak omdat hulle nie bereid is om openlik die koning te kritiseer nie. As ek (as Suid-Afrikaner) byvoorbeeld die koning openlik sou kritiseer, dan beteken dit eenvoudig dat ek die land verbied sou word. Die kerke moet dus ook met groot wysheid optree, selfs al sou hulle die pro-demokratiese groep meer goedgesind wees (ek praat natuurlik nie van die misdadigers wat die winkels stroop nie),” sê hy.

’n Aandklokreël geld dat niemand na 18:00 meer op straat mag wees nie. Alle besighede moet om daardie rede reeds om 15:30 sluit sodat mense by hulle huis kan kom.

“Die paar besighede wat dus nog aangaan kry ook swaar as gevolg van hierdie maatreëls. Ons hou maar aan bid vir Eswatini (en natuurlik Suid-Afrika ook) dat die Here mense se harte sal verander en dat ons vrede sal beleef,” sluit Van Wyngaard af.

Donderdag het ’n kommissie vanaf die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingslande op ’n weeklange feitesending in eSwatini aangekom.

Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “Verskerpte protesoptrede in eSwatini verwag

  1. Hennie Mulder says:

    Ons bid vir Swaziland. Hennie Mulder

Comments are closed.