Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Oor die duiwel en leerstellings

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Arnold Griessel van Bethulie skryf:

Die invloed van liberale teologie binne die leierskap van die NG Kerk lei tot besluite wat geneem word wat in botsing kom en lynreg die inhoud van die Bybel en die kerklike gereformeerde geskrifte verdraai en/of weerspreek.

In dié verband, ter bevordering van diversiteit, neem die AS in 2011 ’n besluit rondom die bestaan van die duiwel/satan waarvolgens lidmate en kerkrade hulle eie sienswyses en interpretasie oor die bestaan en aard van die duiwel mag formuleer en huldig. Dié besluit word geneem ongeag die feit dat dit strydig is met die Bybel en die NG Kerk se gereformeerde leerstellinge.

LEES OOK: Satan is nie ’n ateïs nie

Verwysings na die duiwel in die belydenisskrifte: Dit is baie duidelik dat die belydenisskrifte van die drie susterskerke (NG Kerk, Ned Hervormde Kerk en Gereformeerde Kerke) die bestaan van die duiwel erken. Sien:

  • Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikels 12, 13, 14, 34, 37.
  • Heidelbergse Kategismus, Vrae 1, 9, 32, 34, 112, 123, 127.
  • Dordtse Leerreëls, Hoofstukke 1.7, 3.1, 4.7, 5.3, 5.4 en 5.15.

Daarom, indien predikante in die NG Kerk die bestaan van die duiwel betwyfel, verbreek hulle hulle legitimasie-eed.

Die Algemene Sinode se besluit:

  • Die volgende besluite is deur die Algemene Sinode van die NG Kerk geneem – 12 Oktober 2011
    Dit is teenstrydig met die belydenisskrifte en die kerkleer.

Die Algemene Sinode verwoord die besluit, met verwysing na item 7, as volg, wel wetende dat dit Skrifgesag ver­ontagsaam:

“7. Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.”

Daar is teologiese gedokumenteerde beskrywings oor die omvang van die voorkoms en aard van die duiwel/satan en bose geeste soos gevind in die hele Bybel, maar veral in die Nuwe Testament. Die AS-besluit van 2011 misken en verwerp gevolglik die belydenisskrifte tov hierdie saak.

Verreikende implikasies van sulke afvallige besluite is dat:

  • Die Goddelike outoriteit van die Skrif en Jesus se woorde daaroor betwyfel word;
  • ’n Verdeling ontstaan in die kerk tussen die gemeentelede wat hierdie onskriftuurlike besluite ondersteun en gemeentelede wat dit teenstaan. Die kloof in eenheid in geloof lei daaropvolgend tot skeuring in kerkbin­ding in geloof.
  • Kerklike geloofsintegriteit verbrokkel.

Humanistiese moraliteit bepaal waardes ten koste van sola Scriptura / Bybelse etiek. Soos daaropvolgende besluite weer op dieselfde basis goedgekeur word oor selfdegeslag seksuele verbintenisse/verhoudinge in 2019.

’n Kerk wat nie sy eie leerstellinge wil en kan handhaaf nie, is ’n valse kerk gebrekkig aan integriteit.

Lees die volledige Kerkorde 2011 hier: ngkerk.net/wp-content/uploads/2019/03/KERKORDE-2011.pdf – Red.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top