Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Soos die Israeliete

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Kobus Visagie van Stellenbosch skryf:

Hierdie was my hartservaring terwyl ek met Covid-19 vir asem baklei het:
Soos die Israeliete hulle huise moes merk
om besoek van die dood af te weer,
met die bloed van ’n lam, geslag en verwerk,
teen die rame van deure gesmeer,

soos die Egiptenaars hulle oudstes se dood
met die krag in hulself nie kon keer,
moes buig voor die ewige God in hul nood
om hul eie beperkings te leer …

So word die mens vandag weer gedryf
tot angstige planne teen onsigbare dood,
’n verwoestende virus wat ons wêreld bedreig
laat mense wat omgee alleen en verstoot.

LEES OOK: Lidmaat deel sy geloofsles uit Covid-19

Die bloed van die Lam is reeds teen ons deure
al is ons bestemming die lewe hierná;
die bang en die vrees van nou se gebeure
is lank reeds oorwin deur die kruis wat Hy dra.

Sy genade wat jare en eeue reeds daar is,
’n belofte in liefde aan almal gemaak,
die wete dat alles steeds waar is,
dat Hy in persoon oor ons waak.

As Korona ons dreig of in vrees laat versteen,
ons wil laat buig voor die engel van dood,
is vryspraak aan ons met genade verleen,
drink ons die beker, breek ons die brood.

Covid sal kom en eindelik weer gaan,
die wêreld sal steier – in vrees en verdriet,
maar die ewige Rots wat by ons bly staan
verdryf al ons angste – betaald, dog verniet.

Virus, waar is jou angel, en waar is jou krag?
Ons staan geanker deur sy kruis en sy dood.
So, waar is jou woede, en waar is jou mag?
Ons staan gepantser in sy bloed en sy doop.

Amen.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top