Ds Abie Cloete – nederige man met ’n passie vir kerkeenheid

Kerkbode bied ’n diens waar lesers doodsberigte of huldeblyke kan aanbied vir publikasie op ons In Memoriam-blad

Lees hier meer.


Vroegoggend op Donderdag 29 Julie 2021 ontvang ds Abie Cloete se vrou Kooitjie en sy familie sowel as die uitgebreide kerkfamilie in Botswana die hartseer nuus dat hierdie “very humble, soft-spoken man who loved the Lord so much” op 76 jaar oorlede is.

Abie was een van die laaste “gesubsidieerde leraars” van die Sinode in Noord-Kaapland. Dié voormalige kommunikasietegnikus, wat in 1976 in Pretoria met Kooitjie, sy “sielsgenoot en ruggraat van sy bediening”, getrou het voor hulle na Botswana beroep is, het dikwels vertel hulle 20 jaar in die bediening in Botswana was die beste jare van sy lewe.

Gedurende die tyd in Botswana het Cloete, terwyl hy predikant was op Gaborone, vele hoede in diens van die ring en die sinode van die NG Kerk in Botswana gedra, insluitend dié van moderator. Tog is dit nie wat hy genoem sou wou hê nie. “Hy was ’n nederige man,” sê sy vrou Kooitjie.

LEES OOK: Chris Blignaut – laat sien die lig in baie lewens

As “’n nederige man” wat geleef het vir die bediening ten spyte van uitdagings met sy gesondheid, is ook hoe van sy oud-kollegas hom onthou, soos blyk uit die huldeblyke by sy roudiens wat op 6 Augustus by die NG Langebaan-gemeente gehou is – die gemeente waar hulle sedert sy aftrede sowat 19 jaar gelede betrokke was.

“Wat my die meeste van hom beïndruk het, was sy energie,” deel oud-kollega, ds Adriaan Haasbroek. Cloete het Haasbroek in 1984 in sy eerste gemeente by Labotse, suid van Gaborone, bevestig. Hy vertel hy is altyd met ’n koppie warm tee verwelkom by die Cloetes, maar dit het meermale gebeur dat hy dit halfgedrink moes los omdat hy gou saam met Cloete na een of ander vergadering moes jaag.

Die enigste uitsondering was as daar ’n “klop aan die deur” was vir Abie, want dan het hy altyd eers tyd gemaak om met die persoon te gesels ongeag of hy haastig was iewers heen. Buiten sy verpligtinge as predikant by Gaborone-gemeente en die ampte wat hy in diens van die sinode vervul het, was hy ook betrokke by vele organisasies en projekte, waaronder die Botswana Christian Council, Gaborone Jesus Campaign, Industrial Mission Botswana, Church Radio Council en World Alliance of Reformed Churches.

Haasbroek vertel sy eerste taak was om Labotse-gemeente in ’n proses van eenwording te lei, maar hy het met sy aankoms gevind hulle is hierop voorbereid danksy die werk van Abie en Kooitjie. “Daar was een ding wat hy altyd gepreek het en dit is dat ons een is. Jesus Christus het gekom om die skeidsmure af te breek … en hy het dit met sy lewe gedoen. Ek kon bou op hierdie boodskap waarmee hy Lobatse se gemeente deurweek het.”

LEES OOK: ‘Piet Kommunis’ sterf

Verskille in kultuur of taal het nie ’n verskil by Abie gemaak nie, aldus Haasbroek. “Dit is so maklik om onenigheid te saai … dit vat soms net een woord, maar dit vat volharding om te verenig. Ek is so dankbaar dat ons in Botswana kan sê ons is ’n soort van kwesbare model van die eenheid in Jesus Christus,” het Haasbroek gesê. Hy het bygevoeg, “Vir my was Abie meer as ’n broer, hy was soos ’n vader vir my. Al wat hy wou hê is vrede en versoening … dat ons na mekaar kyk met die oë van Jesus.”

Dit is ook met waardering vir sy rol as mentor en sy nalatenskap wat die huidige leierskap van die kerk in Botswana vir Abie onthou. “I consider myself one of the sons that he raised. I learned a lot from him. I personally view him as my father … he was a very humble soft-spoken man who loved the Lord so much,” sê Thapelo Boikanyo, huidige leraar van die Gaborone-gemeente en moderator van die DRCB op ’n stemnota wat by die roudiens in Langebaan gespeel is. Covid-inperkings het verhoed dat Boikanyo die diens persoonlik kon bywoon, maar ’n spesiale roudiens is ook in Gaborone gehou.

Hierdie boodskap van Boikanyo het in ’n onlangse nuusbrief van die sinode van die Noord-Kaap verskyn: “Shalom. Rev AB Cloete has gone to be with the Lord this morning at 5 am. He is gone but not forgotten. We thank God for his life and work of ministry. He has imparted a great deal of spiritual transformation to many lives in Botswana especially in DRCB and Gaborone Congregation which he served for 20 years. Unfortunately we will not be able to go and celebrate his life with Mma Moruti Cloete because of the prevailing circumstances.”