Verhelderende fokus op ‘interne oriëntering van leiers’

Jesus-leierskap: Hoe om te lei in ’n veranderende wêreld deur Roedolf Botha
Uitgewer: Lux Verbi, 2021


Hoe om ’n gemeenteleier te wees in ons verwarrende, verande­rende, Covid-wêreld (of dan VUCA-wêreld – kort vir Volatility, Uncertainty, Complexity en Ambiguity – soos wat mense graag deesdae praat). Dit is die saak wat Roedolf Botha vernuftig bespreek in Jesus-leierskap.

Ek wou hierdie boek – wat spesifiek gemik is op predikante en pastore – sommer met Stephan Joubert se voorwoord al vir almal aanbeveel. Botha stel egter nie teleur nie. Ek het sy skrywe behoorlik verslind, terwyl ek die heeltyd geïnspireer is om na te dink oor die gemeente waarin ek dien se kultuur en DNS.

Die hoogtepunt van Botha se bydrae is die fokus op die persoon van die leier self – wat hy die “interne oriëntering van leiers” noem. Heerlik verfrissend om ’n leierskapsgids te lees wat drie volle (inspirerende) hoof­stukke daaraan wy om leiers te herinner dat hulle eie identiteit in Christus, hulle diensbaarheid en hulle geloofs­oortuiging die kern en fondasie van hulle leierskap is.

LEES OOK: Dana Snyman en Nadia Marais se bestes saam gebundel

Hoewel Botha wyd belese is en in sy werk grondig kennis neem van be­stuurs- en ander wetenskappe, is hierdie ’n geestelike werk vir geestelike leiers. Hy praat uitvoerig (met deernis) oor die manier waarop twyfel deesdae ’n byna ereplek ontvang, asook die wankelende geloof van baie geestelike leiers. Hierteenoor motiveer hy sy lesers met geloof. “Dit is slegs ’n leier met ’n kerngeloof in Jesus se krag en voortdurende teenwoordigheid wat die innerlike sta­mina en volharding sal hê om die toetse van leierskap te deurstaan.”

Koop boek hier.

Jesus-leierskap doen moeite om die landskap van ons konteks te beskryf, asook die roeping van kerkleiers. Aan die hand van die Evangelie van Markus word leiers ook geïnspireer om na die eksterne aspekte van leierskap te kyk. Hier word daar gefokus op ’n kultuur van missionaliteit, wat duidelik en een­­voudig verwoord kan word; le­wens­­transformasie; onderlinge ver­hou­­­dings as familieverhoudings wat anders en insluitend is; en die taal van publieke geloof. Daar word ook aan­dag gegee aan die belangrikheid van waagmoed.

LEES OOK: Hartseer en rou: Soms kan jy eenvoudig sê: ‘Ek’s jammer.’

Die fokus op die skep van ’n lewe­gewende kultuur dra daartoe by dat Jesus-leierskap nie sommer net ’n hand­leiding vir strategiese beplanning is nie, maar ’n weldeurdagte kompas in ’n “van-die-kaart-af” wê­reld (om Botha se term te gebruik). Botha hou by sy eie raad dat kommunikasie duidelik en een­voudig moet wees, al hou dit volledig rekening met kompleksiteit. In sy eie woorde: “Doeltreffende leiers los nie die gemeente se onsekerhede op met sekerhede nie. Wat hulle wel doen, is om prinsipiële helderheid en duidelikheid te bring sodat die gemeente altyd weet in watter rigting hulle beweeg.”

Jesus-leierskap is prakties, inspi­rerend, relevant, gelowig en nodig. Maak gerus plek vir dié een op jou boekrak.

Word 'n vriend van Kerkbode