Nog ’n Vrouemaand is verby

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

’n Deel van my sug, rou, dra woede, voel moedeloos: oor maar net nog ’n maand waarin vroue se liggaam verniel is, verkragtings en geweld eenvoudig aanhou gebeur het, mense gekies het om stil te bly eerder as om ongeregtighede aan te meld, en teologiese debatte in sekere kringe eenvoudig aangehou het om die “feministiese” en “liberale” teoloë – diegene wat gerig is op sosiale verandering op grond van die Bybel se boodskap van Hoop – af te maak as humanistiese aktiviste wat die belydenisskrifte en die Woord van God versaak.

’n Deel van my is bang: oor wat nog ’n jaar sal inhou, tot die aanbreek van die volgende Vrouemaand in Augustus 2022. Watter spieël sal die statistieke oor 12 maande vir ons ophou? Watter situasies sal ek moet navigeer in die nabye toekoms, om myself as ’n vrou nog verder te probeer beveilig? Waarheen sal ek liefs nie alleen moet gaan nie, om gevaar te vermy? Weet ek wat om te doen as ek in ’n lewensbedreigende situasie sou wees? Of as ek seksuele geweld sou beleef? Sal ek die moed hê om dadelik hulp te gaan soek – soos wat ek vir ander aanspoor om te doen? En wat as die oortreder iemand sou wees wat ek ken – soos wat tipies die geval is? Waar sal ek getuig? En sal hulle my glo?

LEES OOK: Vele stemme oor vele aspekte van vrouwees

’n Deel van my wonder, soek, bepeins, pleit om insig: oor hoe gesprekke – juis in die kerk en in gemeentes – op respekvolle maniere kan plaasvind. Gesprekke oor ons liggaamlikheid, seksualiteit, die verwagtinge wat gestel word aan mans en aan vroue, die ervarings van vrouwees en manwees wat ons self beleef … Die voorbeelde waarmee ons grootgeword het, van hoe ’n huwelik lyk, en wie vir wie mag lief wees, en hoe gesonde en respekvolle liefde nou eintlik lyk, en wat die kerk vir ons leer die Bybel sê oor ons lyf en ons begeertes en ons passies.

’n Deel van my hou vas aan hoop, belofte, uitkoms, vernuwing: vir ’n wêreld vry van magspeletjies. Vir gemeentes as veilige ruimtes waar verwonde vroue en mans se stories geglo sal word. Vir bedieninge waarin predikante vertroud is met aanmeldingsprosedures vir huishoudelike geweld, seksuele geweld en verkragtings. Vir jeugbedienaars wat gekoppel is aan skole en met jongmense ’n pad kan stap oor geloof en ons roeping as Liggaam van Christus om ’n heler, gesonder, veiliger wêreld te skep. Vir toenemend meer “allies” – juis ook manskollegas in die bediening – wat bereid is om saam met vrouekollegas kerklike strukture te vernuwe en verander sodat ons saam kan opstaan teen onbillikheid en ongelykheid. Vir maatskaplike werkers en terapeute en polisielede wat deel uitmaak van die netwerke van ondersteuning in gemeentes, wat met hulle vaardighede die kompleksiteit van seksuele geweld en mishandeling kan help aanspreek.

Nog ’n Vrouemaand is verby. 31 dae is afgemerk.

LEES OOK: Vrouemaand met Esra en Rut

Maar ek bly hou desperaat vas: aan God Drie-enig. Aan die Skepper wat ons elkeen na die beeld van God geskep het. Aan die Here wat bo alle aardse vorme van mag en heerskappy regeer. Aan die Koning wat ons uitnooi om met elke deel van ons bestaan – liggaam, siel en verstand – Hom te aanbid. Aan Jesus Christus wat deur sy lyding en kruisiging en opstanding nuwe lewe moontlik gemaak het – reeds in hierdie wêreld. En aan die Heilige Gees, die Trooster: die Een wat tegelykertyd trane afvee en heling bring – en met bomenslike krag die wêreld omkeer tot ’n nuwe bestaan. Elke sekonde, van elke dag. Elke maand, van elke jaar.

  • Dr Nina Müller van Velden is ’n postdoktorale navorsingsgenoot by die Departement Ou en Nuwe Testament, Universiteit Stellenbosch, en is lid van die Gendergeregtigheid Taakspan van die Wes-Kaapse sinode.
Word 'n vriend van Kerkbode