Vrouemaand met Esra en Rut

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Mag en dominansie pla ’n mens gewoonlik nie veel as jy die een is aan wie dit behoort nie. Die lewe is makliker met ’n bietjie invloed: Jy kan spasie opneem, sê wat jy wil sê en doen wat jy wil doen. Ons almal ken die sêding “kennis is mag”, maar ander faktore speel ook lekker daarmee saam: geld en klas, velkleur en voordeel, oriëntasie en geslag.

Liewe leser, as jy dus nou al kriewelrig voel oor wat ek skryf, vra ek mooi: Miskien wil jy net nie oor mag gesels nie omdat dit jou nie pla nie – omdat jy daardeur bevoordeel word. Dit is een van die ander eienskappe van dominansie: Mense gee dit nie sommer verniet weg nie. Boelies moet tot diepe selfinsig kom om op te hou boelie, en dit is nie maklik nie.

LEES OOK: Vrouemaand: Voor die Bytjies en die Blommetjies …

Ek wens dit was nie vir my kerk nodig om ’n spesifieke maand te gebruik om op vroue te fokus nie. Ek wens almal se menswaardigheid was so vanselfsprekend soos dit behoort te wees. Maar ten spyte van die feit dat vroue die meerderheid lidmate in die kerk wêreldwyd is, is hulle stories nie naastenby so dikwels vertel soos hulle manlike eweknieë nie; hulle woorde oor God (teologie) nie naastenby so gepubliseer nie; en hulle gawes nie ten volle erken nie.

My eie Vrouemaand-inspirasie kom uit die Bybel op ’n verrassende manier. Ek lees oor die herstel van Jerusalem en die tempel ná die ballingskap, en spesifiek oor die priester Esra.

Hy was ’n goeie ou. Hy het so geglo in God se heerskappy dat hy selfs kon bely dat God heidenkonings kon gebruik om sy doel te bereik. Verder beklemtoon Esra dat God heilig is en dat Hy van Israel verwag om suiwer en in afsondering te leef. Esra glo dat die wet van God die primêre riglyn moet wees waarvolgens God se kinders leef. Sien, alles goeie dinge. Esra het sy lewe gewy aan die dinge waarin hy geglo het, en het ’n groot bydrae gelewer in die herstel van Israel ná die ballingskap.

LEES OOK: ’n Baanbreker kyk terug

Maar ten spyte van sy goeie bedoelings het hy te ver gegaan. Die laaste paar hoofstukke van die boek Esra in die Bybel is pynlik om te lees: Die priesters en Leviete met vreemde vrouens moet hulle met hulle kinders wegstuur, sodat die land weer rein kan wees. Families word opgebreek, vroue sonder heenkome of inkomste word met hulle kinders in die pad gesteek. Dit het regtig gebeur – ja, die Bybel is soms nie ’n maklike boek om te lees nie. (Onthou asseblief ook dat sommige dele in die Bybel beskrywend is, en nie voorskrywend nie.)

My lang relaas het natuurlik ’n MAAR.

Natuurlik was daar mense wat die onreg hiervan beleef en raakgesien het. Natuurlik was daar mense wat onthou het dat God wil hê ons moet geregtigheid én genade bedien. En in hierdie tyd van Esra is daar ’n groepie mense wat onthou om Rut se storie weer te begin vertel, en mooi op te teken.

LEES OOK: Vrouemaand: ’n Tyd om te praat

Rut: die Moabitiese meisie met die donker vel en vreemde voorouers wat op die ou end Dawid se oumagrootjie sou word; die lojale meisie wat aan haar skoonma kon verklaar: “U volk is my volk; u God is my God”. Die meisie uit die minderheidsgroep se storie word ’n teenpool vir Esra se onbedoelde boelie.

LEES OOK: Kyk mekaar in die oë en vergewe

Dus is my pleidooi in Vrouemaand: Maak asseblief spasie vir die Rut-stories in jou eie omgewing, in jou eie gemeente. Rut is dalk nie gewoond aan spasie opneem nie, dus moet ons dit skep vir haar. Kom ons bly ’n bietjie stil en luister na diegene wat gewoonlik min te sê het. Let wel: Die behoefte is nie wraak op Esra nie. Hy was ’n goeie ou, wat in sy ywer net te ver gegaan het. Hy was waarskynlik onbewus van die voordeel van sy eie mag; help hom ook om weer ’n bietjie te luister.

Word 'n vriend van Kerkbode