’n Baanbreker kyk terug

Dr Gretha Heymans is op 20 Maart 1994 gelegitimeer as die eerste vroueleraar van die NG Kerk. Sy vertel onder in haar eie woorde haar lewensverhaal.

In my finalejaar belydenisklas het ek skielik begin worstel met die vraag: Hoekom kan daar nie vrouepredikante wees nie? Op die dorp waar ek op daardie stadium was, was twee gemeentes en ek het by albei predikante ’n draai gaan maak oor die vraag. Die een het gesê: “Vergeet daarvan, jy sal nooit ’n predikant kan wees nie, omdat jy ’n vrou is.” Die ander een het gesê: “As die Here jou roep vir ’n predikant, moet jy gehoorsaam wees. Jy kan wátter draaie loop, Hy sal jou terugbring.” Die ge­dagte het al sterker in my gegroei. Ek wou eintlik medies swot, maar die een deur ná die ander het toegegaan vir medies en ek het al meer begin voel die Here roep my vir die bediening.

Op daardie stadium was al die ampte net vir mans in die NG Kerk. Al wat ek op daardie stadium geweet het, is dat ek ’n dominee wou wees en dat ek met jongmense wil werk, want ek het geglo as jy vroeg genoeg probleme in jongmense se lewe optel, kan hulle gelukkige volwassenes wees.

Yolanda Dreyer-Papp is in daardie tyd bevestig as eerste vrouepredikant in die Hervormde Kerk. Ek het haar loopbaan gevolg sover ek kon.

LEES OOK: Op die baan wat hulle oopgemaak het: Vrouepioniers in die Afrikaanse kerke

In Januarie 1980 skryf ek saam met 80 manne in vir die graad BA-Admissie. Natuurlik was my oë vol sterre, natuurlik was daar opgewondenheid, tot die eerste manstudent vir my vra: Wat soek jy hier? My lugballon het gebars. Watse vraag is dit? Ek is mos oor dieselfde rede as hy hier. Die vraag moes ek baie beantwoord. Die antwoord is eenvoudig: Die Here het my geroep om predikant te word. Gewoonlik dan stilte.

Ek het naïef geglo dat predikante wat elke Sondag die wet van liefde voorlees dit seker ook leef, maar hier het ek niks ervaar van liefde nie. Dit het vir my gevoel ek is tussen die mees liefdelose mense. Predikante. Tussen mense wat sê hulle dien die Here. Vir sy diens ge­roep is.

So het die klasse begin. In die Grieks, Hebreeus en Wysbegeerte se klasse was baie manne en een vrou. Op een of ander manier kon die dosente van die vakke die teenwoordigheid van ’n vrou hanteer, maar vir seker het jy altyd uitgestaan. Dit was ’n eensame pad. Daar was niemand in die koshuis wat kon help met die Grieks, Hebreeus en Wysbegeerte nie. Die manne kon dit saam uitwerk. So het ’n eensame pad begin wat ek later besef het nie net in sekere vakke eensaam sou wees nie, maar ’n stuk eensaamheid sou word wat baie dieper lê, wat deel van jou menswees sou word.

Ek het later vriende gehad onder die manne (onder andere die een wat vir my gevra het wat maak jy hier). Baie gou het ek agtergekom as jy wil deelneem aan ’n mansgesprek, beredeneer jy dit met feite. Jy dink nie emosioneel daaroor nie. Nee, sussie, feite! Ek het wonderlike mansvriende gehad. Baie van hulle het die volle sewe jare bankvas agter my gestaan en langer.

LEES OOK: Vrouemaand: ’n Tyd om te praat

Ek is ’n introvert. Ek het nooit met iemand begin redeneer oor die vrou in die amp nie. Ek sou altyd na die ander persoon se storie luister. Ek was/is nie ’n feminis nie. Ek het nie gekies vir daardie pad nie. Ek het ook besluit ek gaan nie soos ’n man word nie. Ek wil ’n “vroulike” predikant wees.

Maar altyd die vraag: Hoekom swot jy teologie? Elke keer as dit moeilik gegaan het, het ek aan my roeping vasgehou met die paar woorde in 1 Tessa­lonisense 5:24b: “Hy wat roep is getrou”. Elke keer as ek nie weet watter kant toe nie en ek wou tou opgooi, was dit my roeping en hierdie paar woorde wat my gedra het.

Die besef van “eerste vrou” wees by die NG Kerk se Teologiese Fakulteit in die Vrystaat tref my skielik. Ek het altyd gevoel hoe ek optree, sal vir jare ná my die vroue beïnvloed wat na hierdie fakulteit toe kom.

Daardie tyd moes studente netjies klas toe kom. Die mans moes dasse dra en ’n langbroek. Ek het nooit langbroeke klas toe gedra nie, altyd bloese en rompe, en in die winter sykouse daarmee saam. As die mans ’n pak moes dra, het ek ’n formele kerkpakkie gedra, want netnou benadeel ek dié na my met my kleredrag.

In die klasse sal die dosente begin met “Broers …” en dan gaan die klas aan. Die laaste vyf minute van die klas word daaraan gewy dat hulle my as “broers” aangespreek het en nie “suster” ook nie. Maar ek moet verstaan dat hulle my nie uitsluit nie, dit is maar net ’n gewoonte.

LEES OOK: Gesprek met Lisel Joubert: Kerkwees gaan oor ‘gedeelde gebrokenheid’

Daar was ook ’n dosent wat my een­dag ingeroep het kantoor toe. Hy het my reguit in die oë gekyk en gesê: “Ek is teen die vrou in die amp. Ongelukkig kan ek niks aan jou doen nie, want jy volg ’n akademiese graad aan ’n universiteit, maar hier is ’n afskrif van my intreerede – dit handel oor die feit dat vroue nie as predikante toegelaat moet word nie.” Ek was totaal verslae. Ek het nooit met mense geredeneer of die vrou in die amp moet wees of nie, want ek het met my hele hart geglo vroue kan. Toe ek die dag daar uitstap, toe wonder ek: Werk die Heilige Gees net in manne se lewe? Roep die Heilige Gees net manne vir die besondere ampte? En die alleenheid? Met wie kan ek praat, wie kan vir my leiding gee? Na wie kan ek opkyk om te sien hoe moet ek die goed hanteer? Weer die besef jy is menslik alleen op die pad. Sorg vir jouself. Sterk wees, sussie.

Daar was ook die dosent wat vir my soos ’n pa was. Wat vir geen oomblik getwyfel het dat ek ’n plek in die kerk het nie. Hy het my ook gehelp dat ek ’n proefpreek kon lewer toe almal in die klas kon, behalwe ek, want ek is ’n vrou. Op 3 Augustus 1986 lewer ek my proefpreek in die NG Kerk op Petrusburg. Die arme dosent moes daarna baie mooi aan die dekaan verduidelik hoe hy so-iets kon doen.

In 1986 moes die mans drie weke prakties in ’n gemeente doen. Ek wou ook, maar skielik is die suster weer ’n probleem – waar gaan ons met haar heen? So beland ek vir drie weke in ’n verpleegsterskoshuis en help die kerklike werkster daar.

Intussen word die vrou as diaken toegelaat.

Ek studeer af in 1986. Ons ontvang ons Nagraadse Diploma in Teologie aan die einde van die jaar. By die geleentheid is ook die legitimasie in die Odeion-teater. Toe ek my diploma kry, vat een van die administratiewe perso­neel my aan die hand en lei my na agter in die saal dat ek nie “per ongeluk” ook die legitimasie-eed aflê nie. Ek huil sonder ophou omdat my maats dit mag doen maar ek mag nie. Huil sommer oor die swaar van die hele sewe jaar.

LEES OOK: Maar weet julle van ds Regina van NG Wildevy?

Ek kry toe die pos as kerklike werkster in Idahlia, die verpleegsterskoshuis. Dit was ’n gemeente in die kleine en ek mag darem in die hospitaalkapel gepreek het. Skielik het alles in plek geval. Ek kon met jongmense werk en iets van die mediese wêreld beleef. Later kon ek in Universitaskerk preek en was ek een van die eerste twee vroue-ouderlinge wat in die gemeente bevestig is.

Die Vrou in die Amp (ouderling en predikant) is op die agenda by die Algemene Sinode gehou in Oktober 1990 te Bloemfontein. Ek het in die besoe­kersgalery gesit om die debat te volg: “Wat gaan sy doen as sy ’n man uit die kroeg moet gaan haal? Wat doen sy as ’n man sy vrou slaan? Wat as sy swanger raak? Wat as haar man nie in dieselfde dorp werk waar sy predikant is nie?” En dan die goeie teologiese debatte. Prof Johan Heyns kry die laaste spreekbeurt net voor die teebreuk en al wat hy gesê het, is: “Wie het die opstandingsnuus gaan vertel? Vroue!” Tydens die teebreuk stap een van die predikante na my en sê “ons sal sorg dat dit nie deurgaan nie”. Wat sê jy? Hoe hanteer jy sulke harteloosheid en dit in die kerk waar liefde moet wees?

November daardie jaar is ek gelegitimeer, vier jaar nadat ek klaar studeer het. Idahlia-koshuis was deel van Universitas-gemeente. Einde 1993 het ek saam met die verpleegsters oorgeskuif na Kovsiekampus-gemeente. Eindelik gebeur die groot dag. Ek word beroep en op 20 Maart 1994 bevestig as die eer­ste vrouedominee in die NG Kerk by Kovsiekampus-gemeente.

LEES OOK: Vrouemaand: Voor die Bytjies en die Blommetjies …

Die aand met die bevestiging het 21 mense my die hande opgelê: Oud-studentemaats, dosente, mede-predikante, kollegas. Dit was ’n ongelooflike gebeurtenis. Weer het ek besef ‘eerste’: Hoe moet ek ’n predikant wees as vrou? Wat word van die ‘eerste’ verwag? Watter implikasie het my ‘eerste’ wees vir die vroue ná my?

Ek was weer so verskriklik eensaam, alleen. Ek het al baie daaroor gedink hoe lidmate die kerk beleef. Die kerk was die plek waar ek die seerste in my lewe gekry het. Vir my was dit nooit ’n vangnet waar my wonde versorg word nie. Dit was nie vir my ’n plek van liefde nie, inteendeel. Ek gaan seker oor die woorde gekruisig word, maar onthou net, dit is my eie verhaal, my eie subjektiewe belewenis.

In 1989 begin ek met my MTh-stu­dies in die Pastoraat, gevolg deur ’n PhD. Sedert 2009 doen ek deeltyds berading, wat ek baie geniet. Daar is niks wat so bevredig as jy iemand kon help en hulle lewensgehalte verbeter nie.

Nog iets wat vir my uitgeboul het, was vroue se weerstand teen die vrou as predikant. Hulle het nie noodwendig die saak beredeneer of beveg nie, maar gesê dit voel nie reg nie. Dikwels venynige kritiek ook van hulle af. Ook daar is ek nie aanvaar nie.

Ek was van 1987 tot 2009 in studentebediening. In 2010 is ek na die NG gemeente Hobhouse beroep. Dit was lek­ker om ’n gemeente te hê met ou- en jongmense. Ek was gelukkig daar. Al was daar glo voor die tyd opmerkings oor ’n vrou wat kom, dink ek baie mense is stil gepreek, want die Here het my geseën as goeie prediker. Ongelukkig het die droogte gekom, die boere seer­gemaak wat eintlik maar die kerk in stand hou en so is my kontrak toe na ses jaar beëindig as gevolg van finansiële redes.

Daarna is ek na Reddersburg, ook ’n plattelandse gemeente. Op 28 Februarie vanjaar het my kontrak na drie jaar verstryk, weer weens finansiële redes. My hart is seer. Ek was nog nooit goed met groet nie. Wat is volgende? Ek weet nie, maar “HY wat roep is getrou …”

  • Dr Gretha Heymans bedryf tans ’n pastorale spreekkamer in Bloemfontein en tree op as vryskutprediker.
Word 'n vriend van Kerkbode