#innovasie: Die meeste ooit kan teologiese opleiding kry

Konflikhantering is deel van sy werk, ja, maar die grootste deel fokus op digitale innovasies wat teologiese opleiding vir meer mense as ooit tevore toeganklik maak, vertel dr Frederick Marais, die een wat teologiese opleiding binne die NG Kerk “eet, slaap en drink”, vir Heléne Meissenheimer op ’n reënerige Maandagoggend op Stellenbosch.

“Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat teologiese opleiding so toeganklik gemaak word,” sê hy, knus in ’n warm trui, vanuit sy kantoor op die tweede vloer in die Communitas-gebou.

Dié moderne anneks sit langs die historiese gebou wat die oudste teologiese fakulteit in die land huisves. As ’t ware ’n tasbare visuele uitbeelding van die ou en die nuwe in teologiese opleiding. Jy sien ook beide soos jy met die trappe opklim, die geraamde foto’s van stoere ou kerkleiers in swart pakke met wit dasse en hemde, en dan bo, ’n hele muur gevul met ’n kleurafdruk van ’n skare jongmense hande omhoog in lofsang.

Marais is voltyds in diens van die Wes-Kaapse Sinode met teologiese opleiding as sy verantwoordelikheid. Dit beteken hy moet toesien dat die beleid van die kerk in terme van die opleiding van mense wat kan bedien in die kerk en in die gemeenskap volgens die voorskrifte van die kerk gebeur. Dít doen hy as skriba van die kuratorium van die Wes-Kaap, die kerk se oorsigliggaam vir teologiese opleiding én hy is ook bestuurder van die kerk se seminarium wat gestig is om kerkeie opleiding te ontwikkel. Dit is twee poste wat onlangs gekonsolideer is. Hy is ook tans voorsitter van die Algemene Kuratorium waar al vier kuratoria bymekaar kom om opleiding in die kerk te koördineer.

“Vir baie mense is teologiese opleiding die studente wat by ons teologiese fakulteite voltyds studeer. Die prentjie is baie aan die verander. Tans is dit die helfte van ons studente by Stellenbosch, die ander helfte is deeltydse studente wat in beroepe staan en hulle bekwaam vir die bediening,” begin hy.

Dwarsoor die land en in Namibië is teologiese studente besig met deeltydse teologiese studie wat hoofsaaklik aanlyn geskied maar ook met ’n paar kontaksessies vir geestelike en persoonsvorming. Die groep toon tans die meeste groei in getalle by al drie die teologiese fakulteite van die universiteite van Stellenbosch, Vrystaat en Pretoria en ook by NETS in Windhoek.

Dit is nie meer net leraars vir die NG Kerk wat by hierdie fakulteite opgelei word nie – ’n bevoorregte posisie wat na 2000 nie meer volhoubaar was nie. Al drie is nou ekumeniese instellings wat predikante uit ander denominasies ook oplei.

Die afgelope dekades se veranderinge het meegebring dat die kerk deur die kuratorium op twee maniere ’n aktiewe rol in die opleiding van haar predikante speel. Enersyds deur vennootskappe met die drie teologiese fakulteite om seker te maak die opleiding voldoen aan die kerk se verwagtinge van hoë gehalte onderrig – iets wat nog altyd vir die NG Kerk ’n prioriteit was.

Die kuratorium is heeltyd met ’n proses van ‘growing own timber’ besig – teologiese studente word aangemoedig om met nagraadse studie voort te gaan sodat hulle eendag dosente kan word.

Akademie alleen is egter nie genoeg om ’n predikant vir die bediening voor te berei nie, daar word ook gefokus op die vorming van studente. Daarom is sowat ’n dekade gelede ’n vormingsprogram ingebring, want “geestelike, persoons- en vaardigheidsontwikkeling is ook nodig,” sê Marais wat as bestuurder van die kerk se seminarium hiervoor verantwoordelik is. Só hy “eet, slaap en drink” teologiese opleiding soos hy dit stel in ’n onlangse videogesprek met ds Dubois du Toit van Namibië.

LEES MEER: Teologiese opleiding: Gesprek …

Hy omskryf die verandering in die benadering tot teologiese opleiding só: “Toe ek studeer het, het die kuratorium vernaamlik toesig gehou oor studente deur hekkies op die pad te sit. Vandag bou ons paaie, as God mense roep is dit ons taak om paaie te bou sodat hulle voorberei kan word vir die bediening waarvoor hulle geroep is.”

Teologiese studente van die NG Kerk moet die kerk se eie opleidingsprogram aan die seminarium gelyklopend met hulle akademiese program aan die fakulteite voltooi voor hulle gelegitimeer kan word. Dit behels onder meer dat studente vanaf hulle eerste jaar by ’n gemeente ingedeel word sodat hulle daar kan ‘oefen’ onder die mentorskap van ’n plaaslike leraar amper soos mediese studente by opleidingshospitale doen. Teen die einde van die program moet studente hulle eie ‘credo’ kan opstel wat illustreer hoe hulle die kerk se belydenisskrifte hulle eie gemaak het.

“In die gereformeerde verstaan van die lewe het ons nog altyd gesê geloof en rede staan nie teenoor mekaar nie … ’n Mens sien vandag hoe moeilik dit is vir kerke met leiers wat nie akademies opgelei is nie om te kan byhou met vandag se kompleksiteite,” sê Marais. Hy verduidelik akademiese opleiding bied studente denkapparate van waaruit om krities of profeties te kan dink oor komplekse sake soos interrassigheid, gendergelykheid, die ekologie … ook etiese kwessies soos aborsie en selfdegeslagverhoudings.

“Geloof in Christus het mos nie net te make met ons sieleheil soos my oupa altyd gesê het nie, dit natuurlik ook, maar dit het te make met al die fasette van die lewe,” sê dié pastoriekind van Williston wat van jongs af oplettend was vir wanneer verandering nodig is in die maniere waarop die kerk dinge doen.

LEES MEER: Frederick se pad met God en sy kerk

Die Suid-Afrika van vandag lyk baie anders as die samelewing waarin die destydse kerkvaders met plaaslike teologiese opleiding by Stellenbosch begin het. Dit was ’n samelewing waarin die Christelike geloof voorrang geniet het, maar sedert 1994 bevind gelowiges hulle in ’n sekulêre demokrasie soos Suid-Afrika met menseregte en godsdiensvryheid.

Enersyds beteken dit dat die fakulteite van die universiteite waar teologiese opleiding aangebied word, nie net ’n enkele kerk se belang kan dien nie en daarom het die fakulteite ekumeniese fakulteite geword waar ’n verskeidenheid van kerke se studente opgelei kan word. Marais sê op hierdie punt vind gereeld gesprek plaas tussen die fakulteite en die kuratorium. As ’n fakulteit sou sê hulle kan nie meer Christelike teologie doseer nie, maar byvoorbeeld Godsdiensstudies, sal die NG Kerk haar betrokkenheid daar heroorweeg, maar Marais sê dit is tans nie ’n wesenlike vraag by enige van die drie instansies nie.

“As ’n missionale kerk wil ons graag gelowiges oplei sodat hulle met vrymoedigheid oor hulle geloof kan getuig binne ’n sekulêre gemeenskap. Slaag ons nie daarin nie trek jy eintlik ’n streep deur die plot van die evangelie … ons moet leer hoe getuig jy sodat mense van ander gelowe of geen geloof nie positief beïnvloed word ten opsigte van ’n geloof in Jesus Christus,” sê Marais.

“Blootstelling aan mense wat van jou verskil behoort nie te lei tot ’n uitkalwing van jou geloof nie,” sê hy en dan klop sy sekretaresse Bridget aan die deur. Die uur is op. Die volgende afspraak sit en wag reeds.

Soos ons uitstap merk Marais op “ek hoef nie die kerk in stand te hou nie. Christus hou self sy kerk in stand. Ek hoef net te getuig, mag ek dit met integriteit doen”.

Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “#innovasie: Die meeste ooit kan teologiese opleiding kry

  1. Walter Sutton says:

    Wat ‘n weldeurdagte benadering tot teologiese opleiding! Wat my persoonlik opgewonde maak is die verwysing na teologiese fakulteite wat studente binne ‘n ekumeniese omgewing akademies bekwaam en om gelyklopend daarmee te fokus op kerkeie opleiding deur middel van die seminarium waarna verwys word. Daarmee saam is dit wat terselfdertyd met die geloofsvorming van studente beoog word ook betekenisvol. Blootstelling aan alternatiewe geloofsoortuigings tydens akademiese opleiding moet inderdaad nie as ‘n bedreiging gesien word nie maar as ‘n geleentheid vir studente om ook met oortuiging hul geloofsoortuigings binne so ‘n konteks te deel. Studente se verworwe kennis van en blootstelling aan ander oortuigings stel hul ook in staat om te weet watter aanknopingspunte bestaan om sinvolle en lewensveranderde gesprekke met persone van verskillende oortuigings te voer. Om aan die einde van studente se teologiese opleiding ‘n geleentheid aan hul te bied om hul eie ‘credo’ te skryf wat illustreer hoe hulle die NG Kerk se belydenisskrifte hul eie gemaak het, is voorwaar spesiaal. Ek persoonlik hoop van harte dat die predikant van ‘n plaaslike gemeente wat as ‘n mentor saam met ‘n student gedurende die duur van sy of haar studies reis, ook ‘n soortgelyke ‘credo’ het wat hy of sy met oortuiging met die betrokke student kan deel. Daar is min twyfel dat dr Marais die regte persoon op die regte plek is.

Comments are closed.