‘Daar’s ’n tyd vir alles,’ sê Prediker … ook vir ’n staaltjie by ’n teologiese konferensie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die lewe is dikwels tóg soos ’n boks tjoklits … jy weet nooit wat jy (waar of wanneer) gaan kry nie (met erkenning aan die lokettreffer Forrest Gump) … soos hierdie kosbare staaltjie van ’n beswaarde student, ’n pistool en die boek Prediker.

Ek was onlangs bevoorreg om ’n fynproewer te wees uit die wye keuse van video-onderhoude en aanlyn sessies met gevierde teoloë, skrywers en kerkleiers by ’n virtuele teologiese konferensie.

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 1: Tyd dat NG Kerk nuwe grense trek

Daar was vele hoogtepunte en in al die opwinding sou dit maklik gewees het om hierdie spesifieke oomblik te mis. ’n Mens verwag mos nie noodwendig ’n persoonlike getuienis by ’n droë geskiedenisles uit die Ou Testament nie!

Die onderwerp was ‘Ou-Testamentiese strategieë om onsekerhede te oorleef’. Dit het gegaan oor die Jode en die verskriklike trauma wat hulle beleef het met die val van Jerusalem, die ‘voetbank van Jahwe’. Die teorie is voorgehou dat die uitgebreide wette van die Jode in hierdie tyd opgeteken is omdat hulle redeneer het daar moet ’n rasionele verduideliking wees waarom God Hom aan hulle onttrek en hierdie tragedie hulle getref het.

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 1: ‘Draers van God se hoop in ’n wanhopige wêreld’

Die prof het verduidelik dat mense wat trauma beleef dit soms hanteer op hierdie manier, want dit gee hulle ’n mate van beheer. Hulle redenasie is as ek nie weer dit of dat verkeerd doen nie, gaan dié dinge nie weer met my gebeur nie.

Vandag hoor ons soortgelyke refreine by die predikers van welvaartsteologie, naamlik dat net goeie goed gebeur met mense wat goeie goed doen en slegte goed met mense wat slegte goed doen … so as iets slegs met jou gebeur, is dit op ’n manier jou fout. Basies ‘wat jy saai sal jy maai’ waarin daar gewis waarheid steek, maar ons weet mos almal die lewe is nie so eenvoudig nie. Dink nou maar net aan Job …

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 2: Max du Preez oor relletjies binne die NG Kerk, die meriete van rap-musiek en waar SA se heil lê

En Prediker wat sê die toekoms is onvoorspelbaar – jy moet vat wat jy kry. “Dié boek gee ’n stuk geloofwaardigheid aan die Ou Testament,” het die prof nog gesê.

Dit is toe wat ’n middeljarige prediker vertel hoe dit gebeur het dat hy sy lewe te danke het aan dié boek wat amper nie die Ou-Testamentiese kanon gehaal het nie.

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 2: ’n Doleansie van 135 jaar terug het heelwat te sê vir die kerk vandag

Hy was vir twee jaar depressief terwyl hy teologie studeer het en so sit hy een aand in sy koshuiskamer met ’n pistool in sy hand om homself te skiet, vertel hy.

Maar die “oemf” om die sneller te trek ontbreek.

LEES OOK:

Toe haal hy sy Bybel uit en blaai na Prediker in die hoop dat die lees van die ‘mees depressiewe boek in die Bybel’ hom as ’t ware deur die laaste driffie na die daad sal help. Maar die lees van die “alles is ’n gejaag na wind” en “ook dit kom tot niks” verse het toe die teenoorgestelde uitwerking. “Die boek wat ek gedink het is pessimisties was toe nie so pessimisties nie,” sê hy.

Sy vertelling raak ’n snaar – nog ’n prediker deel sy waardering vir die eerlikheid van dié boek … dat alles nie altyd maanskyn en rose moet wees nie. Dat sogenaamde negatiewe gevoelens ook ’n plek het selfs vir ’n dominee. Daar is immers mos ’n tyd vir alles, soos die Prediker sê … selfs vir ’n menslike staaltjie by ’n akademiese teologiese diskoers.

Word 'n vriend van Kerkbode