Deel 1: Ons verdwaal met ou kaarte

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Hierdie is die eerste artikel in ’n reeks van vyf artikels waar die skrywer poog om die kontoere van die teologiese middelgrond vir die NG Kerk te beskryf.

In my inleidende artikel tot hierdie reeks het ek gewys op die verskillende teologiese strome wat ons kerk beïnvloed het. Daar is egter nog ’n lens wat ons kan gebruik om te kyk na dit wat ons tans in die kerk ervaar en die pad vorentoe. Dit is die vraag na hoe ons huidige konteks verskil van die tyd toe ons geloofstradisie ontstaan het.

LEES OOK: Nuwe eenheidsmodel op die tafel om skeuring binne NG Kerk te vermy

Ons kerk se DNS is gevorm (16 de eeu) in ’n samelewing wat gedomineer is deur die Christendom-wêreldbeeld. Die Christendom-wêreldbeeld begin in die 4de eeu nadat die Christelike godsdiens onder Konstantyn tot staatsgodsdiens verklaar is en duur tot in die middel van die 19de eeu. In Suid-Afrika het die Christendom-era langer geduur tot met die koms van die nuwe Suid-Afrika.

Volgens die Christendom-wêreldbeeld, is almal in die Weste Christene en die taak van die plaaslike kerk is die instandhouding van die godsdiens deur die leraar en kerkraad se pastorale versorging (veral huisbesoeke), eredienste en die bediening van die sakramente. Vir die Christendom-kerk was sending iets wat daar ver gebeur, in Afrika en die Ooste. Getuienis is uitgekontrakteer na die sendelinge vir wie ons gebid en geld gestuur het. Hierdie sending het ook die verspreiding van die Westerse kultuur ingesluit.

Binne hierdie verstaan, word die ware kerk dan ook geken aan die suiwer verkondiging van die Woord, bediening van die sakramente asook die toepassing van die tug. Hierdie was voldoende kenmerke vir die ware kerk binne die Christendom-wêreld, want die konteks van die kerk was ’n Christelike samelewing en die reformasie het gefokus op die korrekte leer.

Ons leef nie meer binne ’n Christendom-wêreld nie. Die Christelike geloof is nie meer dominant nie en ons gemeenskap is nie meer Christelik nie. Tog werk baie predikante en lidmate steeds met hierdie ou kaart. Dit is soos om ’n kaart van Kaapstad uit die tyd van Jan van Riebeeck te gebruik om vandag deur die stad te ry. Ons het nuwe kaarte nodig. Nuwe kaarte het wel nog bekende bakens – noord bly noord. Daar is nuwe strate en woonbuurte, maar die groot rigtingwysers bly konstant. So is dit ook binne die Christelike geloof. Ons moet vashou aan ons ware Noord, die hart van die evangelie, maar hoe ons hierdie ou evangelie oordra en leef, verskil van die verlede.

Ons kerk is ’n klein minderheid, ons invloed is beperk en ons menings en waardes dra nie meer dieselfde gesag as in die 1980’s nie. In die Christendom-era het ons kerk en die ampsdraers gesag gehad, lidmate was lojaal aan ’n denominasie en as sinodes standpunte ingeneem het, het dit invloed gehad. Huisbesoek, wykstelsels, wyksbidure en kollektes by huise was sisteme wat die kerk vir lank goed gedien het. Hierdie bedieningstrategieë werk nie meer nie. Sommige plattelandse gemeentes kry dit nog min of meer reg om hierdie strukture in stand te hou, maar dit help nie die kerk groei nie.

LEES OOK: Minder is meer

Alles is egter nie verlore nie. As gelowiges het ons nog invloed en ’n stem, nie omdat ons aan die NG Kerk behoort en die ware kerk is nie, maar omrede ons die evangelie beliggaam. Christus het ons persoonlik getransformeer om liefdevoller, meer genadige, meer opofferende, vergewensgesinder en eerliker mense te wees. Die kerk se invloed lê in die verhoudings wat gewone gelowiges in die gemeenskap het en hoe hulle dit regkry om die evangelie te leef, asook gemeentes wat die behoeftes van hulle gemeenskap raaksien en iets daaraan doen.

Ons moet egter weer dink oor die wesenskenmerke van die kerk. Die suiwer verkondiging van die Skrif bly belangrik, tog is die stryd tans oor wie oor die suiwer leer beskik. Die sakramente het oor tyd ’n ruimer karakter gekry, maar ons sal moet gesels oor hoe ruim. Die tradisionele siening van tug was gebaseer op ’n kerk wat gesag het en lidmate wat lojaal is. Vandag is dit net leraars wat soms nog amptelik getug word. Tog is dit belangrik dat ons mekaar ook verantwoordelik hou en altyd soek na die een wat afgedwaal het. Tug kan alleen werk waar daar liefdevolle verhoudings is wat mense saambind. Daar kort wel nog een belangrike kenmerk, die getuienis van die kerk. Die missio Dei is tog ’n wesenskenmerk van God wat ook deur sy kerk beliggaam moet word. Hierdie getuienis is dan nie die Christendom-sendingparadigma na ’n wêreld daar ver nie, maar ’n kerk wie se wese gefokus is op die koms van God se koninkryk – ’n koninkryk waar redding holisties verstaan word, waar God herstel bring in alle lewensdimensies. Waar bekering, geregtigheid, genesing, menswaardigheid, barmhartigheid, bevryding, ensovoorts verskillende fasette van een diamant is wat die volheid van God se koninkryk reflekteer, nou en tot in ewigheid, hier en tot aan die uithoeke van die wêreld.

Word 'n vriend van Kerkbode

2 thoughts on “Deel 1: Ons verdwaal met ou kaarte

  1. Chris Smith says:

    Ek het in ’84 klaar gestudeer. Al die nuwe aspekte wat genoem word as deel van die “nuwe kaart”, soos Missio Dei, die siening van tug, sendingwerk, fokus op die koms van God se koninkryk en ‘n holistiese benadering. Al hierdie was toe alreeds by ons ingedril en beklemtoon. Dit was toe al die tyd reeds daar!
    Die enigste werklike verskil wat aangedui word, en blykbaar weggooi word as “oudtyds” is die kategismus se beskrywing van ware kerk. Daar word skryf: “Binne hierdie (ou) verstaan, word die ware kerk dan ook geken aan die suiwer verkondiging van die Woord, bediening van die sakramente asook die toepassing van die tug”
    In my tyd op kweekskool was daar nie ‘n teenstrydigheid of konflik tussen dit wat die belydenisskrifte leer oor ware kerk en dit wat “nuwe” insigte genoem word nie.
    Waarom die aanval op die inhoud van die belydenisskrifte. Dit kan ons juis help met reformasie en vernuwing. As Gereformeerdes bely ons tog dat die belydenisskrifte die lens/vergrootglas is waardeur ons kyk na die kaart van die Woord, wêreld, getuienis sending ens.

  2. Johann Ernst says:

    Ek het hard probeer om histories-teologies sin te maak uit die twee artikels van dr Christo Benade wat nou as deel van ‘n reeks in Kerkbode gepubliseer is. Miskien lees en verstaan historici en teoloë die kerkgeskiedenis net anders as hy. Sy artikel oor strominge in die kerk (hy wil skynbaar by die behoudende en liberale stroming van vandag uitkom, waarbuite of waartussen hy homself wil plaas) is vreemd aan die wyse hoe historiese prosesse as dinamies, interaktief en kontekstueel vertolk moet word. Dit moet liefs as die genealogie (tole’dot) van die kerk gelees word en geïnterpreteer word in die mate waarin dit (soos ‘n mens se voorgeslag) jou identiteit vandag bepaal of nie meer beïnvloed nie. Uiteindelik begin en eindig die genealogie van die kerk by Christus, in wie ons ons nuwe menswees gevind het. Daar is ongelukkig in die kerk, wat reeds van die begin mense van die weg genoem is, nie plek vir middelgrond nie en daar bestaan ook nie ‘n middelgrond-teologie en/of kerkwees nie. Dit laat mens dink aan drie mense wat in dieselfde vliegtuig vlieg, waarvan die twee wat weerskante by die venstet sit, veiliger is as die een wat teen die middelpadjie sit. Dr Benade verstaan ook nie die waarde van ou kaarte as dit by die historiese ondersoek kom nie. Skynbaar het die ou kaart en kompas van die Woord ook nou vir hom onbruikbaar geword, want hy is duidelik onvergenoegd met die ou paaie en die historiese monumente (lees: belydenisskrifte) wat langs die weg tot hiertoe vir die kerk lê. Dit is verder ‘n mite dat Konstantyn die kerk tot staatskerk verklaar het. Dit het eers na hom gebeur en net in ‘n enkele ryk. Daarby was die Christendom nog altyd ‘n mindersheidsgodsdiens in die wêreld en moet kerkgeskiedenis ook algemeen of katoliek (nie Rooms-Katoliek) beskou word. Dr Benade moet liefs sy nuwe verstaan, ook van die merktekens van die ware kerk, deur ‘n bevoegde kerkvergadering (soos per legitimasie-verklaring) laat toets, alvorens hy in die amptelike kerkblad hom met spekulatiewe geskiedenis en teologie besig hou en die gevaar loop om net dwaalleer te voed. Daar kan nie so met kerkgeskiedenis in die hedendaagse teologie omgegaan word nie.

Comments are closed.