100 Dae van vriendelikheid: Gebruik die alledaagse om sagkens heel te maak deur Andries Cilliers
Uitgewer: Lux Verbi, 2021
In ’n tyd waarin soveel mense gefokus is op oorlewing en selfbehoud, wil die bekende skrywer en Andrew Murray-pryswenner Andries Cilliers die leser op ’n reis neem. Aan die hand van 100 kort, kragtige oordenkings word ons begelei om die wáre betekenis en onmeetbare krag van “vriendelikheid” vanuit die Bybel te ontdek.
In skrille kontras met die wyse waarop vriendelikheid algemeen verstaan word, beteken hierdie woord nie om “nice” of ’n verloorder te wees nie. Vriendelikheid (“kindness”) is ’n vorm van krág – “Jy moet sterk wees om vriendelik te wees”. Die almagtige God stel vir ons die volmaakte voorbeeld hierin deurdat Jesus ’n mens geword en as Vriend sy lewe vir ons afgelê het.
Koop boek hier.
As ons oor die ware betekenis van vriendskap wil leer, moet ons by Jesus leer: Jesus gee nie lesings oor vriendskap nie; Hy lééf dit. As die Vriend wat sy lewe vir ons gegee het, nooi Jesus ons na Hom toe, verstaan Hy wat vriendelikheid van ons vra en gee Hy rus. Hy is ook die Vriend wat saam met ons wil feesvier!
Die skrywer slaag daarin om die leser nuut te laat dink oor vriendelikheid in die kind van God se lewe. ’n Bonus is die meegaande groepstudies wat op aanvraag beskikbaar is.
In ’n toenemend selfgerigte en onvriendelike samelewing is 100 Dae van vriendelikheid ’n onmisbare gids vir leiding oor ’n lewe van vriendelikheid in navolging van ons groot Vriend, Jesus Christus, se voorbeeld.
- Ds Eldré Bester is predikant van die Algoa Gemeenskapskerk in Gqeberha.