Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
“Ek dink nie ’n preek het my al ooit so ’n diep belewenis van die mooiheid en die skoonheid en van die waarde van lewe gegee nie,” vertel Waldemar. Dit was ’n sonsondergang wat daai dag die boodskap gebring het. Hy het soos gewoonlik, laatmiddag by sy agterdeur gaan sit en uitkyk by sy huis op ’n verlate stasie meer as dertig kilometer buite die naaste dorp. Een van die vele interessante plekke waar Waldemar al gewoon het.
Vandag is hy ’n dominee op Ficksburg, en hy is juis weer besig om ’n ent buite die dorp ’n blyplek aan die voet van ’n berg in te rig.
Amper almal in die NG Kerk weet van Waldemar Stumpfe. Hy was al letterlik oral.
Lees ook: Jaco Strydom gesels met Amos Petersen
Sy eerste gemeente was George Moedergemeente waar hy destyds ’n nuwe fokus op jeug- en familiebediening begin het. “Ek besluit toe om die mooie dorpie langs die strand te verruil vir Vanderbijlpark waar my hooffokus weereens was op gesinsbediening,” sê Waldemar. “Daarna was dit die helder liggies van die Goudstad wat my aandag getrek het. Hierna het ek ’n paar kilo’s op die klok gesit vir die Algemene Sinode se taakspan vir kategese en geloofsontwikkeling van die jeug. Ek het baie gereis en blootstelling gehad aan kerke op die uithoeke van ons land en selfs Namibië. In samewerking met ’n kreatiewe en opwindende span by Bybel-Media, was my taak daai tyd om nuwe jeugbediening-modelle aan gemeentes regoor Suid-Afrika bekend te stel. Daarna was dit Noord-Kaap toe, eers Kimberley en toe Barkly-Wes. En nou het ek kom werk in die mooie Oos-Vrystaat, op Ficksburg.”
Waldemar het grootgeword op Keetmanshoop in Namibië. Sy pa was die bakker op die dorp. Hy wou eers self ’n bakker word, maar sy pa het nie gedink dit is ’n goeie idee nie, toe besluit hy op onderwys. In sy matriekjaar ontmoet hy ’n dominee, Tabo van Rooyen. Die man se idees oor kerkwees het ’n groot indruk op hom gemaak, soveel so dat hy besluit het om teologie te gaan studeer.
Ek vra hom oor ander mense wat ’n impak op sy lewe en bediening gehad het.
“Drie weke na my aankoms op Stellenbosch stap ek in by ’n weeklange reeks oor die kerk en sy roeping deur wyle prof Willie Jonker. My verstaan van die kerk en sy roeping in die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie. Vir die res van my lewe sou hierdie vraag die knaag aan my hart wees: Is ek deel van God se werk op aarde of ek dryf ek my eie selfsugtige agenda met die lewe?” sê hy.
Een van sy meer onlangse lewensveranderende ervarings was toe hy vier jaar gelede by ’n gebou in ’n bruin woonbuurt in die Noord-Kaap instap en iets van God se koninkryk op aarde beleef. “Van die armste mense het bymekaar gekom om ’n verskil te maak, daar was jongmense met ’n ryke opgewondenheid om hulle gemeenskap om te keer.”
Lees ook: Jaco Strydom gesels met Ansa van Geest
Hy is lief vir die kerk, maar daar is ook dinge wat hom pla. Een van die dinge wat hom die meeste frustreer is wanneer sommige kerkmense hulleself voordoen as mense met ’n alleenreg op die waarheid. “Hierdie gesindheid weerhou die kerk om die ware diepte van gemeenskap te kan beleef en dit belemmer die getuienistaak van die kerk teenoor die wêreld,” sê hy.
Waldemar sê hy beleef dat die lewe al meer gekompliseerd raak, soveel so dat dit ’n mens depressief maak en neig om jou heeltemal te oorweldig. Sy antwoord hierop is om die lewe “bite-size” te hanteer. “Waartoe ek my deesdae toelaat, is om te vra: Wat is voor my, wat kan ek verander, wat kan ek anders doen, wat kan ek van wegstap en hoef ek nie op te reageer nie en wat is dit wat ek op hierdie oomblik kan doen om dinge moontlik ’n bietjie meer positief te kan verander?”
Een van die belangrikste beginsels in sy lewe is om betrokke te wees in die oomblik, in sy woorde: “om present te wees”.
Hy het besef hy kan nie groot dinge soos armoede oplos nie, hy kan nie die groot krisisse van die wêreld verander nie. “Maar môre kom daar iets oor my pad en loop ek iemand raak en dan wil ek in daai situasie, vir daardie persoon present wees,” sê hy en ek dink aan Moeder Teresa se woorde: “There are no great things to accomplish in this world, only small things done with great love.”
Die natuur en stilte speel ’n groot rol in Waldemar se lewe.
Lees ook: Liezel de Jager: Landwyd word saam gehuil oor jong leraar met groot hart
“Vroeg in my bediening het ’n kollega van my, Willem Badenhorst, my bekend gestel aan die noodsaaklikheid van stilte, afsondering en luister na God se stem. Dit was sekerlik een van die grootste geskenke wat ek by iemand kon kry.”
Hy vertel hy het die laaste tyd ’n nuwe liefde gevind vir plante. “Dit is deesdae die heel minste moeite vir my om present te wees by die mooiste blommetjie wat skielik op ’n kaktus verskyn, dit laat by my ’n ervaring van die lewe is tog die moeite werd om te lewe!”
Waaraan hou hy vas as dit rof gaan?
“My geloof dat God aan my vashou. En dan gaan ek en fokus nie op die chaos nie, maar my vetplante en hulle besonderse manier van lewe, of die groente in my tuin of ’n lekker glas whisky of wyn by ’n goeie vriend.”
- Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG gemeente Villieria in Pretoria en die Echo-Jeuggemeenskappe.
