Geestelike formasie: Vir Paulus gaan dit híéroor …

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Oor die afgelope tyd het verwysings na geestelike formasie al hoe algemener geword. Daar is ook ’n groeiende gepaardgaande belangstelling in die beoefening van geestelike dissiplines soos vas, innerlike refleksie en gebed. James Thompson in sy boek, The church according to Paul, wys daarop dat daar verskeie redes is om te aanvaar dat Paulus dié hernieude klem op geestelike transformasie heelhartig sou ondersteun. Eerstens het Paulus na gelowiges wat die Heilige Gees ontvang het verwys as “geestelikes” pneumatikoi (Gal 6:1; 1 Kor 2:13-15) om aan te dui dat hulle op ’n wesenlike wyse deur die Gees getransformeer is.

Tweedens verwys hy telkens na die geestelike transformasie van gelowiges deur die koppeling van verskeie woorde aan die Griekse naamwoord morph wat na die “vorm” van iets verwys. So verwag hy in Filippense 3:21 dat die nederige liggame van gelowiges gelykvormig (summorphos) sal word aan die verheerlikte liggaam van Jesus. God het gelowiges, volgens Paulus, bestem om gelykvormig (summorphos) te word aan die beeld van sy Seun (Rom 8:29). Hulle sal finaal omvorm word (metamorphoumetha) na die beeld van God wanneer hulle sy heerlikheid aanskou (2 Kor 3:18). Derdens word die gedagte om geestelik gevorm te word ook deur Paulus verwoord deur begrippe soos om heilig en onberispelik te wees (1 Tess 3:13).

Dit is dus vir Thompson duidelik dat Paulus die hernieude fokus op geestelike formasie sou ondersteun. Hy sou egter nie die beoefening daarvan as ’n persoonlike aangeleentheid ondersteun het nie. Vir Paulus gaan geestelike formasie oor gemeenskappe wat getransformeer word (Gal 3:1-5) eerder as enkelinge wat hulle eie geestelike groei nastreef. Geestelike formasie is vir hom nie bloot ’n vorm van selfsorg soos gesond eet of oefen nie. Dit is eerder soos om deel van ’n span te wees wat saam oefen. Paulus bepleit immers korporatiewe formasie, eerder as blote individuele formasie, deurdat persone wat reageer het op die evangelie deur hom opgeroep is om hulle geloof uit te leef in nuwe gemeenskappe wat ontstaan het. In die gemeenskappe moes gelowiges verantwoordelikheid neem vir die geestelike ondersteuning en formasie van mekaar, soos wat duidelik blyk uit die veelvoud van mekaar-tekste in die Nuwe Testament. Dit is daarom die geestelike formasie van geloofsgemeenskappe – plaaslike gemeentes en die kerk in die breë – wat dringend benodig word in die hede.

  • Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode