‘Laat FW nou met rus’ – Ramaphosa

Die voormalige president FW de Klerk het op ’n tydstip beheer gehad van ’n onregverdige stelsel, maar hy sal daarvoor onthou word dat hy die moed gehad het om ’n ander koers in te slaan vir sy party en sy mense.

Só het president Cyril Ramaphosa in Afrikaans gesê tydens sy huldeblyk by die staatsgedenkdiens wat Sondagoggend 12 Desember vanuit die Groote Kerk, Kaapstad gehou is.

Ramaphosa was een van talle hooggeplaaste sprekers by die statige drie-uurlange geleentheid wat regstreeks op verskeie kanale uitgesaai is. Weens inperkingsmaatreëls met die pandemie, is slegs genooide gaste toegelaat om die diens by te woon.

Ramaphosa het gesê De Klerk was braaf om in 1990 die stap te neem om die ANC te ontban en die vrylating van Nelson Mandela en ander politieke gevangenes aan te kondig. Hy sê dit is dus uit erkenning vir De Klerk se leidende bydrae tot die demokratiese oorgangproses in ons land dat die regering hom met ’n staatsgedenkdiens vereer. Dié gebaar beteken nie die regering maak lig van die pyn en woede van diegene wat aan die ontvangkant was van die onreg van apartheid nie, het Ramaphosa van agter sy swart gesigmasker verduidelik.

Hy het namens die regering sy meegevoel met De Klerk se weduwee Elita, familie, vriende en kollegas betuig en afgesluit met die woorde: “Frederick Willem de Klerk is op Afrika-grond gebore en dit is na Afrika-grond wat hy terugkeer … ek doen ’n beroep op almal van ons, of ons nou met hom saamgestem het of nie, om hom te laat gaan om te rus.”

Lees die volle huldeblyk HIER.

In haar spreekbeurt, het De Klerk se weduwee, Elita, in ’n roerende huldeblyk gesê hy het berou oor apartheid gehad, maar hy was nie ’n man wat maklik sy emosies gewys het nie. “Hy het seer gehad, hy wou net vrede hê.” Geklee in ’n elegante swart rok met slegs ’n enkele string pêrels om die nek het sy president Ramaphosa buite die historiese kerkgebou ingewag en langs hom voor in die kerk gesit.

FW-2-Elita-en-Ramaphosa1
FW de Klerk se weduwee, Elita, in gesprek met president Cyril Ramaphosa. Foto: Videogreep

Kort voor sy dood het die oud-president in ’n laaste video-boodskap verskoning gevra vir die pyn wat apartheid vir duisende Suid-Afrikaners veroorsaak het. Nietemin het sy afsterwe in November verskillende reaksies by Suid-Afrikaners ontlok. Soos prof Johan van der Merwe skryf in sy onlangse rubriek was daar diegene wat daaroor gejuig het “terwyl ander met diep dankbaarheid teruggedink het aan wat hy vir Suid-Afrika beteken het”. Daar was selfs dreigemente deur sekere politieke groepe dat hulle ’n staatsgedenkdiens sou ontwrig.

Lees ook: FW de Klerk het die NG Kerk ook gehelp

Sondag se diens het egter met ’n stigtelike waardigheid verloop wat De Klerk, ’n man wat gehou het van goeie beplanning volgens Elita, se goedkeuring sou wegdra. Die kerk was gevul met familielede, politieke en besigheidsleiers, almal met gesigmaskers op en sowat ’n meter uitmekaar op die houtbanke, om ’n laaste eer aan die staatsleier te betoon wat ’n Nobelprys vir vrede gedeel het met wyle oud-president Nelson Mandela.

FW-1
Dit was oud-president FW de Klerk se versoek voor sy dood dat vrede die tema sal wees by sy gedenkdiens. Foto: Skermgreep uit video

Dit was dan ook ’n versoek van De Klerk voor sy dood dat vrede as tema sal dien by sy roudiens, het een van die groepie geestelikes wat hom in sy laaste maande bedien het laat blyk. Onder hulle was ook die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad Thabo Makgoba.

FW-Makgoba1-resize
Aartsbiskop Thabo Makgoba

Hy het vertel ’n klomp mense het hom gevra of hy by De Klerk se staatsdiens betrokke gaan wees. “My vyande gaan jou verskeur, aartsbiskop,” het De Klerk hom self gewaarsku, maar Makgoba sê as priester is hy ’n verantwoordelikheid opgelê om pastorale sorg aan enigeen te bied wat dit benodig, of dit nou ’n individu of ’n nasie is.

Een van die dinge wat hy van De Klerk ontdek het in hulle tyd saam is dat hy boeliegedrag gehaat het – insluitend dié soort optrede deur die apartheidsregering waarvan hy deel was. “Dit het ook duidelik geword dat alhoewel hy mag betwis het of apartheid op volksmoord neergekom het, hy aanvaar het dat dit inderdaad ’n misdaad teen die mensdom was. Meer belangrik vir my as gelowige, hy het onomwonde apartheid as sonde omskryf,” het Makgoba gesê.

FW de Klerk was ’n diep gelowige mens wat gereed was vir sy dood, het Makgoba bygevoeg.

De Klerk is op 12 November op 85-jarige leeftyd aan kanker oorlede by sy huis in Fresnaye in die Kaap. ’n Private roudiens het reeds plaasgevind. Die afgelope staatsgedenkdiens is op versoek van die regering gehou.

Word 'n vriend van Kerkbode

2 thoughts on “‘Laat FW nou met rus’ – Ramaphosa

  1. Francois du Preez says:

    Wat van die apartheid wat ons tans het? Daar is regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging,
    die black management forum, black business council, koukus van swart akademici, ens., ens. En hoekom so stil onder kerklui oor kommunisme, met sy bekende rekord teen juis die Christendom? Praat van misdaad teen die mensdom! Ontbreek die moed om daarteen te praat?

    F du Preez

  2. Frans says:

    Dit is ongetwyfeld so dat veranderinge moes plaasvind. Daar is egter met die verkeerde mense onderhandel, mense wat nooit van die opsie van geweld afgestap het en selfs hul eie mense wat nie saamgestem het ‘n gewelddadige dood te laat sterf het.
    Enigiemand wat al “Inside Quatro: Uncovering the Exile History of the ANC and SWAPO”, boek deur Paul Trewhela gelees het sal besef dat die NP onderleiding van FW de Klerk die verkeerde perd opgesaal het en dat die huidige toedrag van sake ‘n direkte uitvloeisel daarvan is.
    Jy kan nie jou voorspoed bou tot nadeel van ander nie -nie met Apartheid of die huidige bestel nie.

Comments are closed.