Dít is hoe ek liedere van nou af gaan kies

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek was reeds meer as ’n jaar lank in die Sondagskool, toe ds Basson ons almal een oggend gelei het met Psalms en Gesange voor ons na ons klasse sou verdaag. Hierdie Sondag was anders.

Ons het nie sy gunstelinglied, Gesang 235, gesing nie (Heer, Jesus, U was self ’n kind). Hierdie Sondagoggend moes ek terugblaai na die bladsye in my boekie wat nog aan mekaar vasgesit het. Ons het Psalm 23 gesing. Ek het gesukkel om saam te sing. Want my mond het meestal oopgehang. Me Schoeman het die orrel bedrewe laat sing. Die akkoorde by “skape” en “stille waters” was vir my onbekend, maar oorbekend. Ek kon nie onthou dat ek hierdie betrokke Psalm al ooit gesing het nie. En tog – die onbekende melodie was soos ’n ou vriend. Die ritme en die klanke het beelde ontlok wat ek nog nie in daardie houtbanke gekry het nie. Vir ds Basson was dit ’n ou, bekende lied. Vir my, Graad 2 Sondagskoolkind, was dit splinternuut. En tog ook oud.

Jare later, in die hoërskool, het ek stelselmatig betrokke begin raak by lofprysing in gemeentes. Dit was veral lekker om die stowwerige, muwwerige liedere af te skud en nuwe liedere te sing. Iets met oemf. Iets wat ons hart aan die roer kry. Liedere wat minder moeg gevoel het.

Maar vandag is ek op ’n ander plek.

Na 2020 en 2021, wil ek nie meer liedere sing wat vir my vertel hoe ek veronderstel is om te voel terwyl ek dit sing nie. Ek wil ook nie “It must have been love” van Roxette of “Looking from the window above” van The Flying Pickets in my agterkop hoor terwyl ek “God is liefde” sing nie. Die akkoordprogressies is dieselfde. Ek wil ook nie dieselfde refrein herhaal totdat die lied iets aan my gedoen het nie.

Lees ook: ‘Ons besit nie die Waarheid nie … Ons behoort daaraan’

Wanneer ek die voorreg het om saam met ander te kan sing (’n geskenk, dit weet ons nou …), wil ek soms verbaas my asem ophou omdat die woorde of die akkoorde my verras. Of omdat dit my inent in ’n Storie wat baie ouer as ek is. Omdat ons vir ’n oomblik moet asem skep om ons volgende versugting uit te roep. “Uit donker dieptes roep ek” (Psalm 130) was toe al die tyd nie moeg nie. Dit was eerlik.

Miskien is dít al die tyd wat Psalm 23 se ou beryming en ou melodie gehad het. Eerlikheid. Kontemporêr of klassiek. Oud of nuut. Voorspelbaar of onvoorspelbaar. Dit was nooit die faktore wat gemaak het dat liedere my hartsnare en verbeelding roer nie. Dit was die eerlikheid daarvan.

Eerlik. Dít is hoe ek liedere van nou af gaan kies. En sing.

  • Dr Siegfried Louw is ’n leraar by NG Gemeente Proteahoogte in Brackenfell naby Kaapstad.
Word 'n vriend van Kerkbode