Daar is baie seer in hierdie towerwêreld … maar daar is ook iets anders

Anderkind deur Betsie van Niekerk

Uitgewer: Tafelberg, 2021

Resensente: Hierdie resensie verteenwoordig die gekombineerde mening van pa en dogter. Adriana Wepener (17) en Cas Wepener het albei die boek gelees en hulle gedagtes met mekaar gedeel.

Dit is Suid-Afrika net meer as ’n eeu gelede. Dood in die gewaad van die H1N1-virus beweeg van plaas tot plaas. Wanneer hy vertrek, daag ’n perdekar op en laai, dikwels op een persoon na, die hele huisgesin in doodkiste op.

Anderkind is die verhaal van Johannes, enigste oorlewende in sy gesin, net soos Dina sy skoolmaat en Oom Andries, wat saam ’n hersaamgestelde gesin vorm. Later sluit Lya haar by die gesin aan.

Dit is die verhaal van oorlewing te midde van erge ontbering. Afgesien van die pessiek self, soos die Spaanse Griep beskryf word, is daar die gevaar dat die kinders na die weeshuis gestuur en hulle band dus gebreek sal word. Die twee kinders het die grootmense nodig, maar die grootmense het ook die kinders nodig. Almal benodig almal in sulke tye.

Die openingsin van die verhaal lui: “God is kwaad vir ons,” die woorde van Johannes se ma voor haar dood. Nog karakters huldig hierdie mening en een verduidelik, soos die pandemie uitwoed, hoedat God se woede en wraak begin afneem.

Hier word nie ’n teenargument gebied oor God se rol in lyding en of die pessiek dalk nie God se straf is nie. Daar is wel mense wat ’n sagte, deernisvolle teenargument beliggaam, soos Oom Andries en Lya. Oom Andries wat die kinders help om hulle seerkry naam te gee – geliefdes wat dood is, se name te noem. Wanneer hulle die name uitgespreek het, kry hulle dit reg om te huil. Oom Andries weet dat trane seep vir die siel is.

Deur sekere karakters se optrede, vermoed die leser dat God dalk self seerkry in tye soos dié, saam ly, hulle hoor en weet van hulle seerkry. Wanneer Oom Andries vroeg in die verhaal ruk soos hy huil oor die dood van sy eie gesin, kyk Johannes na hom en wonder: “Is dit hoe God lyk wanneer hy hartseer is?”

’n Mens wonder oor die gepastheid van ’n historiese jeugverhaal vir kinders? ’n Afrikaanse een boonop. Hulle lees mos veel eerder Harry Potter en Hunger Games. Maar dié een werk, want jy kan met die karakters assosieer. Die Sandveld se sandsalie, suikerkanblom, klappiesbrak en “die bokmakierie se geel-keel-roep” is nie onmiddellik verstaanbare taal vir alle kinders nie, maar dit is wel towertaal. Hierdie towertaal, ook die proesels Nederlands in die teks, skep saam taal waarvan die betekenis nie onmiddellik verstaan hoef te word nie, maar dit is taal wat ’n besondere fiktiewe wêreld daarstel, jong lesers se verbeelding aangryp en laat omblaai.

Daar is baie seer in hierdie towerwêreld, selfs ’n spoegkobra en luiperd en boewe, maar daar is ook iets anders. Daardie iets word nie verduidelik nie, maar die iets bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Ja, daar is tydens ’n pandemie gawes wat verdwyn, soos om presies te weet wanneer en vir wie God kwaad is, maar in Anderkind weet die leser daar is ook iets wat nooit vergaan nie. Dit word beliggaam in hoe die karakters teenoor mekaar optree, selfs hoe Oom Andries teenoor boewe optree en opmerk dat hulle ook maar net soos almal in hierdie tyd swaarkry.

Uiteindelik is Anderkind ’n verhaal van “ten spyte van”. Ten spyte van die verwoesting van ’n pandemie ’n eeu gelede, was daar in die Sandveld op die Weskus ’n pad. En miskien is God nie kwaad nie. Miskien loop daar trane oor God se wange, soos oor dié van Oom Andries.

    • Anderkind is vir R180 beskikbaar by NB Uitgewers.
  • Prof Cas Wepener is ’n skrywer en professor in Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode