Geen keer aan dié leraar op 72

“Hallo! Dit is ds Kruger du Preez,” begin die stemboodskap op dr Du Preez se selfoon waarin hy jou vriendelik nooi om ’n boodskap te los voor hy afsluit met ’n vrolike ‘Cheers!’

Dit klink nie soos die stem van ’n 72-jarige dominee wat op aftrede staan nie.

Dié leraar/dosent/sendeling en oupa van vier is na 46 jaar in die bediening nog nie klaar gewerk nie. “Met ingang 1 Maart tree hy in diens van die teologiese opleidingsnetwerk NetACT (Network for African Congregational Theology) met as werkstitel: konsultant en gasdosent in kurrikulumontwikkeling in Lusofonialande in sub-Sahara Afrika,” lui die amptelike kennisgewing wat onlangs aan Kerkbode gestuur is.

Lusofoniese lande bedoel Portugeessprekende lande, verduidelik Du Preez later in reaksie op Kerkbode se navrae. Hy is vlot Portugees magtig na 28 jaar wat hy in die taal bedien het – eers 14 jaar by die Portugeessprekende gemeente in Vanderbjilpark in die Vaaldriehoek en daarna 14 jaar as sendeling/dosent aan Hefsiba ICHO (Instituut vir Christelike Hoër Onderwys) in noord-Mosambiek.

Sy belangstelling om Portugees te leer het begin terwyl hy van 1975-’78 as sendeling onder vlugtelinge uit Angola en Mosambiek in Kavango in Noord-Namibië gewerk het. Dit was die tyd van die grensoorlog.

Dr Kruger du Preez (sittend links) by die bediening van nagmaal aan Angolese vlugtelinge naby Rundu in die Kavango, Namibië in 1978. Langs hom van links staan ds Pieter Botha, sit prof Willie van der Merwe en staan ds Isaias de Almeida met die Bybel in die hand. Foto: Max du Preez

Tussendeur het hy ook tyd ingeruim om by Universiteit Stellenbosch ’n doktorale dissertasie oor kurrikulumontwikkeling by teologiese skole met gereformeerde agtergrond in sub-Sahara Afrika te doen. Daarvoor het hy navorsing in Mosambiek, Angola, Kenia, Malawi, Zambië en Zimbabwe gedoen. Ook op sy akademiese portefeulje is ’n Sielkunde-honneursgraad van NWU.

Hy en sy vrou Antoinette bly in ’n aftree-oord in Bloemfontein waar hy die laaste sewe jaar kontrakleraar was by die Aandbloem NG gemeente. Die egpaar is al 50 jaar “onafskeidbaar” en het drie kinders, waarvan twee oorsee woon, en vier kleinkinders. Sondag 27 Februarie lewer hy sy afskeidsboodskap hier, maar hulle gaan op die oord bly woon.

Du Preez word in die kennisgewing ook beskryf as gerontoloog wat bedoel die wetenskap wat veroudering bestudeer. “Die vergrysing van ons kerk roep ons op om meer indringend aandag te gee aan hierdie verskynsel,” sê Du Preez wat voorsitter is van die kommissie vir betekenisvolle veroudering by sy gemeente asook sameroeper van die Gerontologie Netwerk van die NG Vrystaat-sinode.

Self het hy nie tyd vir oudword nie, lyk dit. Du Preez vertel hy sien baie uit om weer kurrikulumontwikkeling te doen in sielkunde en teologie asook om met studente in Angola en Mosambiek via aanlynplatforms soos Zoom en WhatsApp in kontak te bly. Die pos word gesamentlik deur die getuienisaksies van die sinodes van Wes-Kaapland en Vrystaat befonds.

“Ja! Dit is ’n boodskap vir die jong manne, ons hou vas. Ons begin nuwe loopbane,” sê dié gebore Kroonstadleraar – ewe jeugdig in gees en energie klink dit as sy bekende jonger broer, die joernalis en skrywer Max du Preez wat ook verby aftree-ouderdom die progressiewe Afrikaanse aanlynnuusblad Vrye Weekblad die lig laat sien het. Hulle het ook ’n ouer broer, ds Johan du Preez, wat stigter en hoof is van Petra Kollege vir Kinderbediening buite Witrivier waar Kruger self vir vyf jaar as dosent betrokke was jare terug.

Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “Geen keer aan dié leraar op 72

  1. Adriaan Van der Wart says:

    Ds Johan du Preez is reeds dekades gelede oorlede in ‘n motor ongeluk.

Comments are closed.