NG gemeentes word gevra om op Aswoensdag 2 Maart dit te oorweeg om tyd in te ruim om saam met kerke oral in die wêreld te bid vir vrede in Oekraïne, die Oos-Europese land wat tans deur Rusland binnegeval word.
Dié versoek kom van dr Gustav Claassen, die algemene sekretaris van die NG Kerk, in ’n epos Dinsdagoggend aan Kerkbode.
“Op Aswoensdag kan gebid word vir konstruktiewe gesprekke deur politieke leiers en ’n vreedsame oplossing, vir die slagoffers van geweld aan beide kante, mediese personeel en ander wat in die voorste linies diens doen asook vir bystand en hulp aan die derduisende vlugtelinge,” skryf Claassen.
[aesop_image img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2021/12/FW-Makgoba1-resize.jpg” panorama=”off” align=”left” lightbox=”off” captionsrc=”custom” captionposition=”left” revealfx=”off” overlay_revealfx=”off”]
Vroeër die week het aartsbiskop Thabo Makgoba (foto), president van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, ook sy stem en ondersteuning by oproepe deur pous Franciskus en ander om voorbidding en vas vir dié kommerwekkende situasie in Oos-Europa gevoeg.
“Ek bid vir Oekraïne en Rusland en in besonder vir al hulle mense. Sekerlik het ons ’n vredesinisiatief op hoë vlak nodig? ’n Skietstilstand? Gesprek? En in die wêreldwye kerk het ons ’n indaba-teologie nodig, ’n ubuntu-etiek en aksie gegrond op indaba en ubuntu om ons intervensies te rig op hierdie hartseer oorlog en die skrikwekkende moontlikheid van kernkrageskalasie,” skryf Makgoba in ’n aanlyn-verklaring Saterdag.
Daar is maande lank al vir ’n Russiese inval gevrees terwyl dié moondheid meer as 150 000 troepe op hulle buurland, Oekraïne, se grens saamgebring het. Pous Franciskus het reeds in sy Angelus-toespraak op 23 Januarie vir ’n spesiale dag vir gebed oor dié plofbare situasie gevra. Die pous het ook ’n oproep gedoen dat Aswoensdag ’n wêreldwye dag van gebed en vas sal wees.
Sedertdien het die Wêreldraad van Kerke (WRK) sowel as die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK), beide liggame waarvan die NG Kerk ’n lid is, ook hulle ondersteuning vir voorbidding bekend gemaak. “Ons bid vir ’n verandering van harte en gedagtes, vir de-eskalasie en vir dialoog in plaas van dreigemente,” het biskop Ioan Sauca, waarnemende hoofsekretaris van die WRK, in ’n verklaring gesê.
“Die NG Kerk as lede van die WRK en WBGK vereenselwig haar met hierdie oproepe,” sê Claassen.
Pleidooi vir Bybels vir Oekraïne
[aesop_image img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2022/03/Oleksandr-Babiychuk-Bybelinstituut-Oekraine.jpg” panorama=”off” align=”left” lightbox=”off” captionsrc=”custom” captionposition=”left” revealfx=”off” overlay_revealfx=”off”]
Terwyl die oorlog in Kiëf, hoofstad van Oekraïne, naby die Bybelhuis woed en baie mense in ondergrondse stasies skuiling soek, is die span van die Oekraïnse Bybelgenootskap veilig, sê hulle hoofsekretaris ds Oleksandr Babichuk (foto). Hy vra hulp sodat die genootskap in die groot behoefte aan Bybels kan voorsien. “Inwoners benodig die Bybel in hierdie tyd van vrees te midde van konstante oorlogsaktiwiteite en onsekerheid,” is sy pleidooi volgens ’n verklaring wat die Bybelgenootskap van Suid-Afrika op 28 Februarie uitgereik het.
“Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika wil die Oekraïnse Bybelgenootskap bystaan om, te midde van ongekende belangstelling in die Bybel, die Woord beskikbaar te stel aan die inwoners van Oekraïne. Hulle wil veral uitreik na die weermag en hulle gesinne, mense wat naby die voorste linies woon en diegene wie se hart deur vrees en verliese aangegryp word. Ons bid ook vir die Russiese Bybelgenootskap wat in hierdie onstuimige tyd in die behoeftes van hulle eie mense moet voorsien,” sê ds Dirk Gevers, uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika en ook ondervoorsitter van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe.

Beide die Bybelgenootskappe in Oekraïne en Rusland is deel van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe, ’n wêreldwye netwerk van Bybelgenootskappe wat in meer as 240 lande en gebiede werksaam is en wat sorg dat elkeen toegang tot die Bybel het.
Gevers vra vir gebed en finansiële steun vir die Oekraïnse Bybelgenootskap se projek, Hoop te midde van vrees: Bybels vir Oekraïne. Meer inligting hieroor asook bankbesonderhede en betaalopsies is op die webwerf www.bybelgenootskap.co.za beskikbaar.
