Die outo-immuunsiekte van die kerk

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Soggens in die kantoor lees ons nou 1 Korintiërs. Dit is die tweede oudste boek in die Nuwe Testament. Die brief spreek probleme in die gemeente aan en die grootste probleem was verdeeldheid.

Die kampe was teen mekaar opgestel: Dié een is van Paulus, die ander van Apollos. Later lees ons weer hoe sommige hulle aangestel het oor hulle gawes: Hierdie klomp kan in tale spreek, die ander nie. En by die Liefdesmaaltye kon die rykes vroeg opdaag en hulle ooreet en selfs dronk drink. Die armes wat eers later kan kom, ly honger. In ander briewe lees ons weer van die verdeeldheid tussen die Joodse en Griekse gelowiges.

Die wêreld waarin die eerste gelowiges geleef het, het so gelyk. Dit was ’n wêreld met skerp verdelingslyne. Die eerste Christene kon hulle nie heeltemal losmaak van die patrone van die wêreld nie. Daarom noem Paulus hulle “wêreldse mense”.

As ons aan Christus behoort, is ons die liggaam van Christus. Maar dit lyk of die liggaam erg geneig is tot outo-immuunsiektes wat maak dat gelowiges mekaar byt en verslind.

Hierdie geneigdheid van die liggaam om homself aan te val, is ook een van die probleme wat die helderste aangespreek word. Met goeie rede: Die eenheid van die liggaam is wesenlik vir die gesondheid en effektiwiteit van die liggaam. Jesus sê dat eenheid noodsaaklik is vir die kerk se getuienis oor Homself as God se gestuurde. In Galasiërs word tweespalt en skeuring by name genoem as die werke van die sondige natuur. Verdeeldheid is kanker wat die liggaam verteer.

Ons leef in ’n wêreld waarin polarisasie normaal geword het, dit word uitgelig as een van die groot tendense van die wêreld. Ons sien dit om ons: Politici wat handel dryf in haat, sosiale media wat daarop floreer om kampe teenoor mekaar op te stel.

En net soos in die tyd van die Nuwe Testament, volg die kerk die patrone van die wêreld. Baie mense voel dat die kragte en standpunte wat ons verdeel, sterker is as dit wat ons saambind. Daar is vredemakers wat sê: “Dit wat ons saambind is groter as dit wat ons verdeel.” Maar die gevegte is vir baie gelowiges aantrekliker as om vrede te maak.

’n Vriend vertel my verlede week dat iemand vir hom gesê het: “Die kerk se werk is om ander mense van hulle sonde te vertel. Jesus bring die swaard, nie vrede nie.” As ons egter in pas met die lewende God leef, vind ons dat God sondaars liefhet. Ons leer dat vredemakers kinders van God genoem word.

Daar is nog nie ’n wonderkuur vir kanker nie. Maar daar is heling vir die outo-immuunsiekte van die kerk. Dit is ’n lewe in pas met die Gees (Gal 5:25). Die Gees lei ons om teen die tendense van die wêreld te kies vir die patrone van die koninkryk van God. En waar God regeer, kom daar genesing en vrede.

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode van die NG Kerk.
Word 'n vriend van Kerkbode