’n Les uit die ontstaan van Oostelike Sinode

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Volgens mediaberigte beplan die Kairos Netwerk wat uit 91 beswaarde gemeentes van die NG Kerk bestaan, om teen Julie vanjaar ’n nuwe groep te stig wat bekend sal staan as die Familie van Reformerende NG Kerke.

Die doel van hierdie groep is volgens bronne nie om die NG Kerk te skeur nie, maar om dit van binne te reformeer. Hoe die groep binne die NG Kerk gaan tuiskom, is nog nie duidelik nie.

Een van die moontlikhede wat ondersoek word is dié van ’n nuwe elfde sinode. Alhoewel die moontlikheid nie sonder meer van die tafel gevee kan word nie, is dit belangrik dat gesprekke daaroor met die regte belanghebbendes gevoer word.

Die Algemene Sinode van die NG Kerk is ’n vergadering wat uit 10 streeksinodes saamgestel word terwyl gemeentes tuiskom in die verskillende streeksinodes van die kerk. Wanneer gedink word oor ’n nuwe sinode, hoort die saak daarom in die eerste plek op die agendas van die verskillende streeksinodes wat direk deur die vorming van ’n nuwe sinode geraak sal word. Hoe ’n nuwe sinode in die verlede tot stand gekom het, kan die proses waarskynlik in die regte rigting help stuur.

Die ontstaan van Oostelike Sinode dien as ’n goeie voorbeeld. Oostelike Sinode – destyds die Sinode van Oos-Transvaal – het in 1979 ontstaan toe die Sinode van Noord-Transvaal verdeel het. Die verdeling het op 2 November 1979 op die laaste sittingsdag van die Sinode van Noord-Transvaal plaasgevind. Nadat die afgevaardigdes verdeel het volgens die geografiese grense wat deur die sinode goedgekeur is, het die twee vergaderings afsonderlik gekonstitueer. Hierdie gebeure het egter plaasgevind na ’n konsultasieproses met ander streeksinodes wat reeds in 1975 begin het. Tydens ’n buitengewone sitting van die Sinode van Noord-Transvaal in 1978, is die groen lig gegee vir die verdeling van die sinode in 1979. Die rol van die Algemene Sinode was bloot om die grenswysiging in 1978 goed te keur.

Wat uit hierdie gebeure duidelik blyk is dat ’n nuwe sinode wat deel van die NG Kerk wil bly nie sommer uit die lug uit kan val nie. Dit kan slegs volg op ’n deurdagte konsultasieproses met alle rolspelers maar veral met sinodes omdat sinodes direk daardeur geraak sal word. Dit is sinodes wat gemeentes en inkomste gaan verloor en dit is sinodale werksaamhede wat daaronder gaan ly. Deur net met die dagbestuur van die Algemene Sinodale Moderamen te praat wys moontlik een van die huidige groot foutlyne in die NG Kerk uit.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

Word 'n vriend van Kerkbode