Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Honderde in Bloem byeen vir sinode, Jan Lubbe as voorsitter verkies

Sowat 293* afgevaardigdes het vroeg op Dinsdag 8 Maart op ’n koel en reënerige Bloemfontein-oggend by die Skougrond se Proteasaal aangemeld vir die eerste van drie dae se sinodesitting.

Van Bethlehem, Heilbron, Smithfield, Welkom en nog vele ringe het afgevaardigdes saamgetrek.

“Die omstandighede waarin die Sinode 2022 vergader is nie maklik nie,” skryf dr Pieter van Jaarsveld, uittredende voorsitter van die moderamen, in ‘n voorwoord tot die 328 blad-agenda wat verslae insluit oor onderwerpe soos kerkverband, dolering, Skrifgesag en teologiese opleiding.

Lees ook | 3 Jaar gelede: Uitspraak in kerksaak 

Dr Pieter van Jaarsveld verwelkom afgevaardigdes by die 54ste vergadering van die sinode van die NG Kerk Vrystaat. Foto: Le Roux Schoeman

“Die vergaderdatum vir die sinodesitting moes reeds meer as een keer uitgestel word as gevolg van die beperkings op byeenkomste. Die Covidpandemie het die afgelope twee jaar groot druk op gemeentes geplaas,” skryf Van Jaarsveld. “Die interpretasie van sekere besluite van die Algemene Sinode het verdeeldheid gebring,” skryf hy. 

“Gemeentes wat doleer; gemeentes en ampsdraers wat mekaar nie meer vertrou nie en soveel onderstrominge, het groot spanning gebring. Finansiële druk op gemeentes en die feit dat daar gemeentes is wat nie meer ’n voltydse leraarspos kan bekostig nie, bring groot onsekerheid oor die pad wat vir die kerk voorlê. Kortom, daar is soveel dinge wat kerkwees in ons dag moeilik maak.

“En tog is ons as gemeentes aan mekaar verbind deur ons geloof in ons Verlosser, Jesus Christus en bely ons juis in ons saamwees in 2022 by die skougronde in Bloemfontein die belydenis van die Heidelbergse Kategismus, Sondag 21:

‘Wat glo jy van ’n heilige, algemene, Christelike kerk?

Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ’n gemeente wat tot die ewige lewe verkies is, deur sy Woord en Gees in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou, en dat ek daarvan ’n lewende lid is en ewig sal bly,” luidens die voorwoord. 

Lees ook: Carin van Schalkwyk sterf  op vooraand van sinode

‘n Nuwe voorsitter is aan die begin van Dinsdag se sitting vir die duur van die vergadering verkies. Die res van die moderamen sal later dié week verkies word. Uit ‘n lys van 20 nominasies (waaronder een vrou) het vyf mans die kortlys vir voorsitter gehaal, ondanks ‘n beroep op die Sinode om ook vroulike afgevaardigdes te nomineer. Afgevaardigdes moes daarna kies uit drie leraars op ‘n verkorte lys. Ten slotte was die besluit tussen ds Dawie Botes en ds Jan Lubbe.

Stemgeregtigdes is vanuit die stoel van die waarnemende voorsitter gevra om hulle nie te steur aan ‘n vooraf-veldtog wat glo via Whatsapp gevoer is om steun te werf vir bepaalde “kandidate” nie. “U weet, dit is nie hoe ons die kerk se sake op kerklike manier hanteer nie,” het ds Nico Dicks gesê. Ds Lubbe is daarna as die nuwe voorsitter aangekondig. Dr Gustav Claassen het Lubbe as ‘n “diep teoloog” beskryf in sy verwelkomingswoord namens die Algemene Sinode van die NG Kerk.

  • Ds Dawie Botes is Dinsdag omstreeks 16:30 as ondervoositter van die moderamen verkies.
  • Dr Leon Foot is as skriba aangewys.
  • *Hierdie artikel is ná publikasie bygewerk. – Red.
Dr Bertus Celliers met agter hom Anton Meiring, Jan Lubbe en Dawie Botes, drie van die leraars wat die kortlys gehaal het vir voorsitter van die sinode. Heel regs sit ds Nico Dicks.
Ds Jan Lubbe (regs), die voorsitter van die moderamen in NG Kerk Vrystaat.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top