Vertelling stel vrae oor verstaan van God, verbond en genade

Klankgrens: ’n Oorlog teen geloof en hoop deur Maretha Maartens en Magda Slabbert

Uitgewer: LUCA, 2022

Resensent: Elmarie Dercksen

Magda Slabbert, getroud met Rufus, ’n beroepsoldaat tydens die Bosoorlog, nou afgetree as regiment-sersantmajoor van 1 Spesiale Diensbataljon, het haar lewensverhaal aan Maretha Maartens vertel. Dit het die ervare storieverteller Maartens drie jaar geneem om dit neer te pen in hierdie boeiende roman.

Die hoofkarakter Jo verteenwoordig elke vrou wat alles in die stryd gewerp het om God se beloftes in hulle eie en hulle geliefdes se lewe te bewaarheid; om geloof en hoop in haar gesin en in haar eie menswees te behou. Ons leer ken haar stryd met die grootmaak van drie kinders as amper-enkelouer as eggenoot van ’n professionele soldaat; haar vrees om nie te weet of iemand jou liefhet nie; haar deursettingsvermoë en toewyding. Hoewel haar dogter haar eers laat in die vertelling uitvra oor hoe ’n mens dit máák, hou ons haar dop terwyl sy vir die soveelste keer aangaan en doen.

Hoewel Slabbert beklemtoon dat haar verhaal nie noodwendig almal se verhaal is nie, is dit in hierdie boek juis die persoonlike wat universeel word. Dit verwoord ’n ganse generasie, asook hulle ouers en kinders, se trauma as gevolg van oorlog.

Die leeservaring is egter maklik en meesleurend, want die verhaal het tekstuur en atmosfeer. Die karakters is geloofwaardig, die intriges in die uitgebreide familie verhelderend. Ten spyte van die ernstige onderwerp is dit geensins ’n neerdrukkende boek nie.

Verweef met die vertelling, stel die boek vrae oor ons verstaan van God, verbond en genade, maar vermy ook prekerige antwoorde. Dit laat ’n mens nadink oor hoe elkeen van ons ons heil uitwerk te midde van ’n harde – en soms selfs brutale – werklikheid. Aan die einde is die kleinste vlam van hoop oor, ironies genoeg nie na ’n veldslag nie, maar na ’n Covid-siekbed. Dit is genoeg om die leser te laat beleef dat ’n nuwe begin moontlik is.

Die verhaal vra ook moeilike vrae aan die leser oor man en vrou se rolle in die huwelik en die samelewing, oor middelmisbruik en ander hanteringsmeganismes, oor trauma en ons skanse.

Vir R280 beskikbaar by LAPA.

  • Ds Elmarie Dercksen is ’n predikant by die NG Kerk Bloubergstrand.
Word 'n vriend van Kerkbode