Lig, skadu en die krag van ’n kunswerk

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Daardie skildery van die Duitse skilder, Ben Willikens, laat my nie met rus nie. “Abendmahl”, noem Willikens die skildery.

Toe ek dit vir die eerste keer in ’n kunsboek sien, het ek gedink: Wat gaan hiér aan? Die toneel het vaagweg bekend gelyk: ’n Lang tafel in ’n ruim vertrek met drie vensters in die muur agter die tafel en ’n hoë plafon.

En toe besef ek: Willikens tree hier in gesprek met Leonardo da Vinci se bekende skildery, “Die Laaste Avondmaal”. “Abendmahl” is ook die Duitse woord vir “nagmaal” – ook daardie laaste nagmaal van Jesus en sy dissipels voor Hy gekruisig is.

Dadelik het ek weer na die Da Vinci-skildery gaan kyk. In soveel Afrikaanse huise het eens ’n afdruk daarvan gehang: Jesus en sy twaalf dissipels by ’n lang tafel terwyl Jesus vir hulle sê een van hulle gaan Hom verraai. Kyk net hoe verbaas lyk Judas Iskariot in sy groen en blou kleed. In sy hand hou hy ’n klein sak vas. Het dit dalk die silwerstukke in wat hy as betaling vir sy verraad gekry het?

Toe kyk ek wéér na Willikens se skildery, wat hy in die 1970’s geskilder het. Die tafel en die tafeldoek, die vloer en die mure en die plafon is wit. Alles wit.

Niemand sit by die tafel nie. Geen Jesus nie. Geen dissipels nie. En die tafel is leeg: Nêrens die nagmaal se brood en wyn soos in Da Vinci se skildery nie.

Godsverlate, is die woord wat by my opgekom het. ’n Vertrek waarin ek nie wou wees nie. Te onpersoonlik. Te klinies.

Werklike groot kuns beleef jy met jou hart, jou siel en jou verstand. Of soos die Britse filosoof, Alain de Botton, dit stel: “We are not transparent to ourselves. We have intuitions, suspicions, hunches, vague musings and strangely mixed emotions, all of which resists simple definition. Then, from time to time, we encounter works of art that seem to latch on to something we have felt but never recognized clearly before.”

’n Mens sou kon sê Willikens se skildery beeld iets uit van die tyd waarin ons leef. Kyk na die tafel se pote. Dit lyk na ’n operasietafel of ’n hospitaalbed se pote. Die hele vertrek lyk meer na ’n laboratorium as die bovertrek van die huis wat in Markus 14 beskryf word – die plek waar Jesus die laaste nagmaal aan sy dissipels bedien het.

Sê dit miskien iets oor al die wetenskaplike en tegnologiese ontdekkings en uitvindings in die moderne tyd, dat die laboratorium belangriker as die nagmaal en die kerk geword het? Dat die wetenskap jou van baie van jou sekerhede beroof en jou soms laat voel of die lewe so woes en leeg as daardie wit vertrek is?

Willikens se skildery, het ek mettertyd besef, sê ook iets oor my eie innerlike worstelinge en onsekerhede.

Ek kan nie meer soos ’n kind glo soos in Matteus 18 gesê word nie. Die hemel en die aarde is nié in sewe dae – of sesduisend jaar gelede, soos ander beweer – deur God geskape nie. Die heelal is biljoene jaar oud en die lewe op aarde het deur ’n proses van evolusie ontstaan en ontwikkel, dit is oor en oor wetenskaplik bewys.

Ek steur my aan die wetenskap en dit wat deur die wetenskaplike metode tot stand gebring word, maar elke keer wonder ek weer: Sê nou ’n dag breek aan waarop ons ongeëwenaarde kennis van die kleinste boustene van die heelal het, van atome en die geheimsinnige dans van kwarke en leptone, ’n dag waarop die genetika van die mens nóg minder verborge as nou sal wees, ’n dag waarop jy op ’n vliegtuig sal kan klim en Mars toe vlieg? Sê nou só ’n dag breek aan? Sal hierdie groot, onuitspreeklike verlange in my na God, die Groot Misterie, ook ophou bestaan?

Die eerste keer toe ek Willikens se skildery bekyk het, het ek dit nie opgemerk nie. Ook nie die tweede keer nie. Op ’n dag toe ek weer rustig daarna sit en kyk, toe tref dit my: die lig. By daardie agterste drie vensters skyn helder-helder lig in – lig wat die hele vertrek vul. Byna nêrens is ’n skaduwee nie.

In Da Vinci se skildery is óók drie vensters in die muur agter die lang tafel. Dit lyk of die vensters uitkyk op ’n tuin. Jy sien iets groen. En die kamer is vol skaduwees.

Dit is asof Jesus en die dissipels vertrek het, en ’n kamer vol lig agtergelaat het, die Lig wat deur daardie drie vensters bly skyn.

Sê die skildery nie ook miskien iets oor Jesus se leë graf op Paasmôre nie, ’n leegte wat dui op opstanding en nuwe lewe?

Die skildery is nie meer vir my ’n koue, kliniese vertrek nie, dit is ’n plek vol lig – lig en stilte, weg van al die stemme wat ’n mens in een of ander geestelike rigting wil dwing. Stemme wat jou bangpraat: Ons leef in die eindtyd, bekeer jou dadelik! Stemme wat jou sus: God wil hê jy moet ’n miljoenêr wees, die armes moet leer om hulleself op te hef. Stemme wat jou liefdeloos oor die Bybelse liefde onderrig.

Stemme wat my laat vlug en die stilte laat opsoek.

“In silence which is active, the Inner Light begins to glow – a tiny spark,” skryf Pierre Lacote in sy boek God is Silence.

Die vertrek in Willikens se skildery het vir my ’n plek van hoop geword.

(Prof Robert Vosloo van Stellenbosch het ’n jaar of twee gelede oor Willikens se skildery in ’n rubriek geskryf. Dit het baie gehelp om my met ander oë na die skildery te laat kyk.)

Word 'n vriend van Kerkbode