’n Daglange bespreking van onder meer Skrifgesag, kerkeenheid en selfdegeslagverhoudings is van die items op die agenda wanneer Noord-Kaapland se streeksinode by die City of Hope-kerk in Kimberley vanaf 9 tot 13 Mei sal plaasvind.
Ander gesprekspunte sluit die droogtehulpprojek, ekumene en die Bedienaars van die Woord-kursus in.
“Tussen 30% en 40% van die streek se leraars het nog nie ’n sinode in Noord-Kaapland beleef nie,” wys ds Rudi Janse van Vuuren, die voorsitter van die Taakspan Sinodebeplanning, uit. “Dus is dit vir ons belangrik om oor ons eie identiteit te praat – wie is ons, hoe lyk ons geskiedenis?”
Daar is by die vorige sinode besluit om elke vier jaar (pleks van twee jaar) sinode te hou, maar weens Covid-verwante ontwrigting het daar reeds ses jaar verloop sedert die 20ste streeksinode in 2016 gehou is, volgens Janse van Vuuren, wat ook die leraar van Prieska se NG gemeente is.
- Hou Kerkbode dop vir beriggewing vanuit Kimberley in ons Sinodenuusafdeling: https://kerkbode.christians.co.za/category/nuus/sinode/
Mostert het afgetree as PSD
Ds JPL (Mossie) Mostert het as predikant in sinodale diens (PSD) vir Noord-Kaapland onder meer al die medianavrae oor streeksinodesittings hanteer. Hy het egter onlangs afgetree en die Noord-Kaaplandse sinode is nog in die proses om die pos te vul.