‘Katrienkie’ se storie is vol hoop

Orrelis. Motiveringspreker. Maatskaplike werker. Facebookblogger. Skrywer.

Op 46 dra Corné Badenhorst van Benoni al hierdie hoede op haar donkerkop, maar heel waarskynlik ken die meeste van die 12 000 volgelinge op haar Facebookblogblad Katrienkie net hierdie naam.

Haar nuutste blog oor Palmsondag, “My bondeltjie … vir die Koning”, is teen Woensdagoggend 13 April al 1 300 keer ge‘like’, 988 kere gedeel met 335 kommentare by.

“Baie dankie, Katrienkie, dat jy die taal van ons hart op so ’n besondere manier verwoord!” skryf een vrou.

Baie keer word haar blogs gedeel sonder dat mense eens weet wie dit geskryf het. Dit is hoe Kerkbode die eerste keer van haar gehoor het. Iemand het haar blog “Die berg in my pad … ’n Paasfeesgebed” op ’n Overbergse kerk se facebookblad gedeel (ook teen Woensdag was dié blog al 1 600 kere ge‘like’, 1 200 kere gedeel met 525 kommentare daarby).

Haar antwoord op die vraag hoekom sy die naam “Katrienkie” gekies het is ’n hartseermooi storie.

Sy is as dogtertjie van 9 jaar tot in haar tienerjare blootgestel aan seksuele misbruik. Eendag terwyl sy iewers wag op ’n ongure plek waar sy niemand ken nie, gee ’n ou bedelaarvrou met die mooiste blou oë vir haar van haar water met die woorde, “Lig op jou kop, Katrienkie”.

Die vrou se woorde het haar bygebly. “Dit het vir my hoop gegee, en die geloof dat God nie van my vergeet het nie. Vandaar die naam Katrienkie,” vertel Corné, vandag reeds 21 jaar ’n maatskaplike werker met ’n passie om met mense, veral kinders, te werk.

’n Lang pad met terapeute lê tussen die hangkopdogtertjie en die professionele berader wat heel genoeg geword het om ander te kan help. Deel van haar heling het ook gekom deur te skryf. Sy vertel: “Omdat ek dit moeilik gevind het as kind om my trauma en emosies te verwoord, het dit vir my makliker geword om te skryf.”

Dit is ook deur skryf wat haar verhouding met God gegroei het: “Dit was soms vir my so moeilik om my vrese en emosie in gebed met Hom te deel, en toe het ek maar vir Hom begin skryf,” vertel die ma met twee seuns van haar eie nou, een ’n tiener en die jongste is ses.

So vyf jaar terug het sy haar storie verwerk in ’n selfhelpgids vir slagoffers van molestering en verkragting wat sy onder ’n skuilnaam uitgegee het om haar seuns te beskerm. “Uit daardie boek het ek besef hoe geweldig groot die behoefte is aan hulp vir slagoffers van misbruik,” sê sy en dit is toe wat sy die Katrienkieblad op Facebook begin het met die aanvanklike doel om sulke mense te help.

Vinnig het sy agtergekom dat daar nie net onder slagoffers van misbruik ’n behoefte aan hoop en troos bestaan nie, veral in hierdie deurmekaar tye waarin ons leef. So het sy begin om elke week ’n stukkie te skryf “net om God se boodskap van troos en hoop te versprei … sommer vir elkeen wat hulle hoop verloor het”. Tussen haar stukkies met hartswoorde plaas sy ook by geleentheid reekse wat aktuele temas aanspreek soos molestering, depressie en die dood.

Intussen bly haar vingers bedrywig op die sleutelbord. In 2019 het sy ’n terapeutiese Bybeldagboek, Amen en Koebaai, geskryf en die afgelope twee jaar het sy gewerk aan ’n terapeutiese pakket om maatskaplike werkers te help “om weer ’n glimlag op ’n gemolesteerde kind se gesig te sit en die trauma terapeuties deur te werk”.

“Ek het so baie nuwe vriende, hartsvriende op die Katrienkie-Facebookblad gemaak,” vertel Corné, wat haar storie van hoop ook as motiveringspreker vertel. Dit is vir haar ’n voorreg dat soveel lesers kan identifiseer met wat sy so uit haar hart uit skryf. Dikwels gebeur dit ook dat hulle vir haar  in hulle eie seer toelaat. Sy deel een só ’n verhaal van ’n ma wat vreeslik swaar gekry het na haar dogter se dood en onder andere nie meer kon skilder nie. Corné kon ’n klein stukkie van haar pad saam met haar stap en toe sy die ma verlede jaar weer by een van haar praatjies raakloop, gee sy vir Corné ’n skilderytjie wat sy self geskilder het. Die vrou het vertel die skildery het sy gemaak na aanleiding van ’n Katrientjie-stukkie – haar eerste skilderwerk ná haar verlies. Sy wou daarmee dankie sê vir die troos wat dit gebring het.

Corné vertel sy het baie gedink voor haar laaste twee blogs wat oor Paastyd gaan, veral oor God se liefde en omgee. “Ek dink diep in ons hart het elkeen behoefte om net weer in hierdie tyd by God se hart uit te kom … en daarom het ek ‘Gebed vir Paasfees’ geskryf, en ook my bondeltjie voor die kruis gaan neersit”.

Corné som haar geloof op in die woorde van die eenvoudige kinderliedjie, ‘Jesus loves me, this I know for the Bible tells me so’. “Ek is nie een wat hare kloof oor Bybelverse en teorieë en godsdiens en die kerk nie. God is vir my lief en dit is vir my genoeg. My glo is eenvoudig en kinderlik. Sonder voorgee. Sommer net.”