Neem, eet, dink daaraan …

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johann Theron van Kraaifontein skryf: In die film The Pillow Book word die verband tussen liggaam en boek uitgebeeld. ’n Persoon skryf liefdesbriewe vir ’n geliefde op die liggame van boodskappers. Op een so ’n “brief” staan: “Body and book are open, face and page, body and page, blood and ink, the torso is the seat of the heart that is always red before it is black.”

In Paastyd dink ons aan die gebroke lyf van Jesus aan die kruis, wat gebroke bly selfs met sy opstanding as Hy die merke in sy hande en sy sy vir Tomas wys. So gebroke is ook die liggaam van Christus – sy kerk – vol met die letsels van die sonde. In hierdie Paastyd hou Christus Jesus weer sy arms uit na ons met die brood en wyn van sy liggaam, deur die Woord wat in sy bloed geskryf is – oop na ons as kerk en die gebroke land waarin ons woon.

LEES OOK: Die simboliek van die verskuiwing van ‘Pienk Piet’

Wat maak ons met hierdie gebroke liggaam? Ons breek dit verder. Ons skeur enkele verse uit die Bybel om ander se liggaam te verneder, of ons skeur stukke uit om op ons regte te staan. Daar was egter ’n tyd toe die Woord en die kerk nog heel was in ons land. In 1829 neem die Sinode die volgende besluit uit respek vir die één liggaam van Christus: “Dat persone van kleur tegelyk saam met die ander lidmate die Nagmaal gebruik, is ’n onwrikbare stelreël op die onfeilbare Woord van God gegrond en dat alle Christengemeentes en elke Christen in die besonder verplig is om so te dink en te handel.”

Enkele jare later, deur die swakheid van sommige, is Christus se liggaam in ons land in stukke geskeur – en dit bloei steeds. “Neem, eet, dink daaraan” – hoeveel liggame in die liggaam van Christus is verneder vir jou om daardie broodjie in die hand te neem?

Word 'n vriend van Kerkbode