Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Laurie Gaum het vanjaar die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir Eenheid, Versoening en Geregtigheid ontvang. Foto: Argief

Laurie Gaum se ‘homecoming’-ervaring

Andrew Murray-Prysfonds

Die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir Eenheid, Versoening en Geregtigheid

Wenner: Laurie Gaum

Laurie Gaum ontvang vanjaar die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir Eenheid, Versoening en Geregtigheid, vir die beliggaming van die waardes van die Belydenis van Belhar. Rethie van Niekerk het vir hom ’n paar vrae gevra spesifiek oor die werk waarvoor hy vir dié prys benoem is.

Gaum reageer op my gelukwensing deur te praat oor mense en ervarings wat stilgemaak word. Om dan op hierdie manier doelbewus sigbaar gemaak te word en erkenning te ontvang, is ’n “homecoming-ervaring. Ek weet dit gaan nie net oor my nie. Dit is namens ander mense wat ek hierdie erkenning kry. Baie van hulle het dit nog nie.”

Ons gesels oor Genderworks, die veelbesproke hofsaak en intergeloofsinisiatiewe. Hy dink eers rustig voordat hy praat. Deurgaans is dit duidelik dat Gaum wil hê mense moet mekaar hoor, sodat daar beide geregtigheid en heling kan wees. Sy strewe is medemenslikheid gebore uit deernis.

RvN: Wat is jou droom vir mense?

LG: Dat ons almal ons ruimtes kan vind waarin ons ons guard kan drop en eg kan wees. Ruimtes waar ons mense kan ontdek as dit wat ons werklik is, na God se beeld. Los van al die hangups wat ons vashou. Sodat ons saam kan stap.

RvN: Wat is jou grootste uitdaging in die strewe na eenheid, geregtigheid en versoening?

LG: Vooroordeel, definitief. Die vrese wat ons almal vasvang by tye. Ons almal deel dit. En daarom daai ding van scapegoating, dat goed uitgehaal word op die mees weerlose mense in die samelewing. Dit is tragies en dis ’n belemmering om mekaar te vind en mekaar te ondersteun. Almal het ondersteuning nodig.

RvN: Hoe dink jy lyk eenheid, geregtigheid en versoening?

LG: Dit is saam. Dit is om saam te soek na. Dit is weerloos, definitief weerloos. Dit is nie kragdadig nie. Miskien is dit baie meer onseker as wat dit versekerd is. Dis maar voetjie vir voetjie. Dit is die regte ding doen met oortuiging. En moed. En dan om die politieke wil aan die dag te lê. Jy kan nie die ongemaklike goed ignoreer of die verleentheid, die frustrasie daarvan sidestep nie.

Voor ons groet, praat Gaum oor die vroue wat saam met hom op universiteit was. Onder andere wyle dr Carin van Schalkwyk. “Ek het hulle pyn saam met hulle belewe as ’n vriend, die pyn van voorlopers wees. Carin het nie die kans gehad om die erkenning te kry wat sy dubbel en dwars verdien het nie. So, dis net ’n voorreg om saam met ander te stry vir groter geregtigheid en om te weet dat daar baie ander is wat saamstap en wat reeds die pad oopgemaak het.”

  • Ds Rethie van Niekerk is predikant by Blouwaterbaai Familiekerk in Gqeberha.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top